#JongStemme: Dis tyd vir ’n era van politieke samewerking

Deur Henning Lubbe

Henning Lubbe.

Ons politici het hul visie verloor. Ons leef in ’n tyd waar politieke partye so behep geword het met die bevordering van hul eie selfsugtige agendas, dat hulle lankal van die kiesers vergeet het.

Ons regerende party het van 1994 af al genoeg mag en gesag gehad om Suid-Afrika in ’n ikoniese land van melk en heuning te verander vir almal, maar individue binne die party het so gemaklik geraak om aan bewind te wees, dat hulle die melkkoeie uitgehonger en laat vrek het en hulself dikgevreet het aan die heuning en veroorsaak het dat die bye eerder vlug.

Vandag is daar nie plek vir enige iemand in die party wat wil goed doen nie, want die sogenaamde radikale ekonomiese transformasiefaksie binne die party staan wag en raak ontslae van enige iemand wat welwillende intensies het.

Dit gaan nie veel beter met die amptelike opposisie nie. Dit blyk my hulle ly aan die een ná die ander identiteitskrisis en as gevolg daarvan vervreem hulle al hul kiesers een vir een. Daar is geen rigting in die party nie en hulle het maar net die regerende party se tweedehandse skoene aangetrek.

Alhoewel ek ’n passievolle wrok teen die populistiese EFF het, verstaan ek hul deurlopende groei. Hulle is die enigste alternatief vir linkses en word alles belowe wat die regerende ANC misluk het om aan hul kiesers te lewer.

Ek moet bieg dat ek al ’n ywerige ondersteuner van die opposisie was en selfs van die regerende party. Ek beskou myself as ’n patriot en ek moet sê die optimis in my hoop nog steeds vir ’n regerende party wat die land bou in plaas daarvan om toe te laat dat hul amptenare eindeloos plunder, maar die realis binne in my fluister in my oor dat dit nie binnekort gaan gebeur nie.

Dit het my gelei na die gevolgtrekking dat Suid-Afrika se enigste uitweg en hoop lê by die samewerking van alle partye en ook op die skouers van kleiner en nuwer partye of selfs koalisies tussen dié rus. Dis tyd vir ons om te besef dat tweede kanse nou nie meer so goed werk nie en dat ons ons verteenwoordigers direk moet verantwoordelik hou. Dis juis waaroor demokrasie mos gaan. Abraham Lincoln het eens gesê: “Die stembrief is sterker as die koeël.”

Voor ons ons land se toekoms weggee aan ’n aanhoudende oorlog tussen linkses en regses, moet ons eerder verenig en die gees van sentrisme en kompromie terugbring na ons politieke arena en ’n stelsel implementeer wat almal ewe veel bevoordeel.

Die doel van ’n regering is immers om al sy mense te dien en nie net aanhoudend met elke beleid sekere groepe teen die koste van ’n ander te bevoordeel nie.

  • Henning Lubbe woon tans in Pretoria en studeer internasionale betrekkinge aan Unisa. Hy is 23 jaar oud. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

… en ‘n idealis wat die toring van Babel wil help herbou? Ok, jy’s jonk en beproef alles in die hoop. Wys ons ‘n land in die geskiedenis waar ‘n regering met oorweldigende steun die goeie navolg het, bv Rusland met sy kommunisme/sosialisme, Duitsland se Nazi’s en Sjina, soos ook nou onder Xi, waar leiers belowe (het) hul sal die volk/ag sommer die hele wèreld se belange op die hart dra vir global joy? Die Bybel sè die aarde sal erger plek word. Die paradys was gewees en selfs dìt het nie lank gehou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.