#JongStemme: Dis waarom ek nie meer Facebook of Twitter gebruik nie

linda-van-der-walt

Linda van der Walt. Foto: Verskaf.

Deur Linda van der Walt

“Jy gebruik nie meer Facebook nie.” Nadat my ma my onlangs hiervan beskuldig het, het ek begin wonder oor waarom ek deesdae al hoe minder van hierdie sosialemediaplatform gebruik maak. Ek het immers nie besluit om soos ’n ware hipsterunplugged” te begin leef nie, want ek gebruik steeds tegnologie en ander sosialemediaplatforms.

Dit het my laat besef dat sosialemediaplatforms oor die algemeen aan een van twee kategorieë behoort: sommige platforms fokus op die deel van idees en foto’s of video’s, terwyl ander platforms meestal op geskrewe plasings of kommunikasie gemik is. Ek het agtergekom dat ek deesdae, heeltemal onbewustelik, platforms in hierdie tweede kategorie al hoe minder gebruik.

Hierdie tipe platforms het doodeenvoudig begin om my uit te put en dit is vir my jammer om te moet sê dat die rede hiervoor ’n oormaat sosialemedia-aktivisme is.

Ek was altyd een van die eerste persone om die oneindige potensiaal van sosialemedia-aktivisme aan mense van ouer generasies te bemark, maar ongelukkig word hierdie konstruk op die oomblik verniel deur die virtuele mensdom. Dit beteken nie dat sosiale media of hierdie aanlyn aktivisme sleg is nie. Inteendeel, dit kan werklik so kragtig wees. Juis daarom is die manier waarop dit nou oorgebruik word, so problematies. Een van ons generasie se mees waardevolle en kragtigste gereedskapstukke is besig om sy krag te verloor. Hierdie probleem word hoofsaaklik onderhou deur twee benaderings tot sosialemedia-aktivisme.

Eerstens word hierdie aktivisme totaal oorgebruik. Myns insiens is die beginsel van trefkrag noodwendig afhanklik van die uniekheid of varsheid van ’n idee of boodskap. Hoe meer alledaags die boodskap is, hoe groter is die kans dat dit afgesaag sal voorkom en nie die beoogde trefkrag sal hê nie. Dieselfde kan gesê word van sosialemedia-aktivisme. Hoe meer sinnelose plasings van aktivisme op sosiale media verskyn, hoe minder trefkrag sal die boodskappe wat werklik noodgedwonge is, hê.

Ongelukkig is dit wat tans in die kuberruim gebeur. Sosiale media word dikwels ’n uitlaatklep om al ’n mens se persoonlike opinies en politieke oortuigings aan die wêreld te bemark. Natuurlik is dit in Suid-Afrika ook onvermydelik dat hierdie uitlatings absoluut gekaap word deur publieke figure vir hul eie politieke agendas. Ek kan net nie meer enige aanklagte teen MultiChoice ernstig opneem as elke tweede persoon met die Fortuner oor hul dekodeerder ry, en dan die video trots op Facebook plaas nie.

Tweedens is die teenpoolstok in die speke passiewe aktivisme. Onlangs is die globale reaksie op die skade aan die Notre Dame-katedraal uit verskeie oorde op sosiale media opgeweeg teen reaksie op die onrus in die Soedan. Die probleem met hierdie plasings is nie noodwendig dat dit reeds oorweldigende politieke agendas bevorder nie, maar eerder dat dit skyn en sinnelose aktivisme is. Dit mag dalk ’n harde waarheid wees, maar om bloot iets op sosiale media te plaas, gaan geen verskil maak aan die situasie in die Soedan nie.

Die doel van sosialemedia-aktivisme is om ’n platform daar te stel wat mense wêreldwyd kan bereik en tot aksie aanspoor. Ongelukkig glo mense nou dat aksie is om jou ondersteuning of afkeer op sosiale media uit te spreek. Hierdie vorm van aktivisme is ongelukkig passief en bereik dus nie die gewenste doel nie.

As ons hierdie reg wil afdwing, is dit immers ons verantwoordelikheid om seker te maak dit bly beskermingswaardig.

  • Linda van der Walt het in 2018 haar graad in BA Regte aan die Noordwes-Universiteit (NWU) voltooi. Sy is tans ‘n vierdejaarstudent en besig met haar LLB-graad. Linda het in Pretoria grootgeword en is ‘n trotse inwoner van die Vergeet-My-Nie Dameskoshuis van die NWU.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

B ·

Baie nugter, ek hou van wat jy skryf.

(Ek ervaar dit ook met my jongklomp – geen FB of Twitter, maar eerder meer ‘eerste-vlak’ kommunikasie ens)

VaderDaniel ·

Ek besef jy verwoord presies hoe ek voel. Verál Facebook se oneindige plasings van allerlei politieke sieninge, soms verdraaide feite en sommer valse feite, maak dit eitnlik nie meer die moeite werd nie. Voor jy jou kon kry het jy ‘n uur se tyd vermors i.p.v. eerder ‘n boek te lees of met jou mense te gesels. My gustelling aanhaling: “Die probleem met hierdie plasings is nie noodwendig dat dit reeds oorweldigende politieke agendas bevorder nie, maar eerder dat dit skyn en sinnelose aktivisme is. Dit mag dalk ’n harde waarheid wees, maar om bloot iets op sosiale media te plaas, gaan geen verskil maak aan die situasie in die Soedan nie.”

lvz ·

Die tyd wat mense aan Faceboek en Twitter spandeer kan hulle eerder hul Bybel bestudeer. Ons betree reeds die eindtyd en al die profesiee kom in die Bybel voor. Mense moet besin oor hul lewe na hul afsterwe wanneer die huidige nie meer saak maak nie.

Maria ·

Stem saam ook besef gebid gevra Here my moet help sowaar af van die FB

Henry ·

Afgesien van die ooglopende verskille in gebruikers- oftewel lesers-getalle, is die skryfster se standpunt(e) netso van toepassing op die kommentare en skryfsels wat op Maroela en ander soortgelyke werwe geplaas word.

Trouens, die inhoud van Lindie van der Walt se skryfsel is ‘n sprekende voorbeeld.

Mynsinsiens bied Facebook bloot ‘n tuiste vir die mensdom se narcistiese geneigdheid. ‘n Behoefte wat in mindere en meerdere mate by alle siele op hierdie planeet aanwesig is.

Platforms soos MM, N24, Praag ens is veel eerder geleenthede wat aan ons gewone kreti en pleti geleentheid bied om ons menings oor wat ookal “wêreldkundig” te maak.

Gun ons maar gerus die geleentheid.
Ons besef meesal dat dit eintlik nie van veel nut vir mens of dier is nie. Om nie eers van aktivistiese waarde te praaaat nie.
:-)

Merkur ·

Stem nogal saam met jou Henry. En al is ek moderaat by aktiewe aktivisme betrokke, vind ek dit lekker en vermaaklik om saam met ander mense op nuusblaaie te kuier. Artikels en kommentare het my beïnvloed waaroor ek bly is. ´n Mens kan in elkgeval nie druk op ander plaas om aktiewe aktivisme uit te oefen of te begaan nie. (Is al self twee keer fisies deur die Antifa ((politiese teenstaanders)) op die straat aangeval.)

Maar, elke keer wanneer ek myself doelbewus van internet komplet vir ´n paar weke onttrek, merk ek dat ek meer lag.

Henry ·

Om die internet se kekkel plekke van tyd tot tyd te vermy, is inderdaad goeie medikasie wanneer ‘n siel hom/haarself veels te ernstig/belangrik begin beskou.
Die plesier, waardering en genietinge van humor, is ongelukkig die slagoffer van kekkel werwe.
:-)

Gert ·

Die ander probleem is dat as jy ‘n ander siening as die huidige polities korrekte een het, en jy noem dit op sosiale media, kan jy deesdae jouself blootstel aan erge gevolge, dalk selfs tronkstraf, soos met Steve gesien word. Spraakvryheid het blykbaar iewers in die slag gebly.

Leser ·

Ek is ook heeltemal van Facebook af en mis dit gladnie…dit is ‘n mors van tyd.

JMC ·

Ek het meer as drie jaar gelede alle sosiale media insluitend WhatsApp uit my lewe verban toe ek besef dit voeg weinig waarde tot my lewe toe. Die eerste drie maande was werklik moeilik met erge ontrekking maar dit was die moeite werd. Ek het weer die son sien skyn, voëltjies hoor fluit, tyd met my vrou beter benut en waardeer en my papegaaie weer geniet.

Jerry ·

Insiggewende skrywe wat die kol tref. Afrikanerorganisasies, asook Steve moet kennis neem dat jy die Afrikaner nie op sosiale media met uitsprake kan aktiveer tot aksie nie, maar slegs deur die regte dinge reg te doen, in die waarheid en om te lei in verdraagsaamheid en voorbeeld!

madels ·

Ek is seker nou al 7 jaar van fb af en ek mis dit glad nie, dis een van die beste besluite wat ek ooit in my lewe kon maak. FB het ook n lelike platform geword waar familie lede mekaar aanval. Mense lelike dinge vir mekaar se. Ek het eendag met n vriend gesels en hy het gese mense gee n valse beeld van hulself voor, altyd jolig, met baie vriende en lag altyd en lyk gelukkig, en dit veroorsaak dat ander dink hul lewe is baie vervelig en hulle het nie so baie vriende nie en veroorsaak net depressie. En ek hoor hierdie al hoe meer en meer. Nee wat, ek is baie bly ek jare terug besluit om van fb af te gaan. Ek het meer tyd vir ander dinge in my lewe wat by verre meer kreatief en konstruktief is.

Jo ·

Beslis is party sosiale media aksies noodsaaklik en effektief om diskriminasie uit te wys soos die MultiChoice veldtog, ek verstaan nie waarom juis daardie voorbeeld gekies is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.