#JongStemme: Dit lyk al meer na ‘1984’

Deur Chanté Kelder

Chanté Kelder.

Die bekende sêding lui: Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Die Britse skrywer, George Orwell, se boek 1984 is reeds in 1949 geskryf, maar bly steeds relevant as politieke letterkunde in 2020. Vir Orwell was 1984 die uitbeelding van ’n staat waarin geen regdenkende persoon wil woon nie. Tog, hoe meer ek om my kyk, hoe meer lyk my 2020 soos Orwell se 1984.

Die lyn tussen vryheid van spraak en politieke korrektheid lyk al hoe meer na ’n muur wat vryheid van spraak in ’n toenemende mate toebou. In ’n demokratiese land met baie liberale denkers wat glo in vryheid, word ons eintlik te veel ingeperk ten opsigte van wat ons mag en nie mag sê nie. Moet my glad nie verkeerd verstaan nie, dinge soos rassisme, haatspraak en oproepe tot geweld moet vir seker beheer word maar, waar word die lyn getrek?

Ons ouers is geleer dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie. Hulle is ook geleer dat onderwerpe soos politiek, godsdiens en sport nie by sosiale geleenthede bespreek behoort te word nie. Die gevolg is dat daar ’n skrikwekkende hoeveelheid jong volwassenes is wat oortuig is dat hulle opinie die enigste een is wat tel en sodra iemand nie daarmee saam stem nie, tree die immer gewilde kanselleerkultuur in en daardie persoon moet weg – weg uit die kuberruim, weg uit sosiale kringe en, in die geval van bekendes, weg uit die kollig.

In Orwell se 1984 is daar die “thought police”, oftewel denkpolisie – die idee is nie dat die burgers se gedagtes letterlik beheer word nie, maar eerder deur vrees verander word. Omdat mense vrees vir wat die openbare reaksie op hul private denke gaan wees, bly hulle bloot stil en raak amper bang om ’n gedagte te hê wat afwyk van die publieke idee of opinie. Ons sien dit vandag ook met die sogenaamde liberale media wat idees wat anders is as wat hulle voorskryf, versmoor word met krete van rassisme, verregse Trump-aanbidders, teen-progressiewe denkers, en so meer.

In 2020 is dit ironies dat konserwatiewe, meer “regse” denkers eintlik die rebelle en anargiste van ons tyd geword het. Dit is so ’n absolute verwerping van die status quo om te glo in vryheid van spraak eerder as om alewig polities korrek te probeer wees. En die ergste is, al is jy ook hóé polities korrek, sal iemand steeds iets kry om ’n klip in jou rigting te regverdig.

Die toenemende gewildheid van die kanselleerkultuur en alles wat altyd moet “fall”, skep nuwe probleme vir die opkomende generasies. Hoe meer ons die kanselleerkultuur toelaat om keer op keer te seëvier, hoe meer skep ons ’n platform vir nóg jong mense om ongemaklike onderwerpe te vermy eerder as om daaroor te praat.

Ons skep ’n kultuur van onkunde en die verantwoordelikheid is ons s’n om iets daaraan te doen. As jy in ’n vertrek is waar almal se opinies joune reflekteer en 100% daarmee ooreenstem, is jy op die verkeerde plek.

Opinies moet uitgedaag word sodat gesprekke kan begin vir almal om ’n poging aan te wend om iemand te verstaan. Ek wil waaragtig nie in ’n wêreld leef waar almal se opinie heeltemal dieselfde as myne is nie. Dog, in ’n wêreld waar mense met belangstelling en respek luister na ander se opinies en hul eie kan verwoord, klink soos ’n plek waar ek wil wees. Dit is nooit maklik om te hoor dat jou opinie nie die begin en einde van alles is nie, maar jy mag dalk net verbaas staan oor wat jy kan leer by ander en wat ander weer by jou kan leer.

  • Chanté Kelder is ’n tweedejaar BSocSci-student by Akademia en werk as ’n projekassistent by AfriForum. Sy is mal oor lees.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Seerot ·

As jy nie met my kan argumenteer oor godsdiens, met spesifieke verwysing na die Bybel, of politiek, sonder om al jou albasters te verloor nie, beskik jy nie oor die nodige intellek om met my oor enige ander onderwerp te argumenteer nie. Kry jou ry.

Moyna ·

Trots op jou Chanté!*

Een ding wat my familie goed kan doen, is om goed onder die mat in te vee… soos onderwerpe wat té ongemaklik raak…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.