#JongStemme: ‘Dit was amper asof die Here self met my gepraat het’

Jan du Toit.

Jan du Toit, hoofseun van die Bethlehem Voortrekker Hoërskool, skryf oor die die dag toe die Here hom aangeraak het. Sy skool het die stuk ook op hul Facebook-blad geplaas en dit versprei sedertdien soos ‘n veldbrand. 

Jan skryf:

Vandag het iets met my gebeur wat my geraak het, soos ek nog nooit in my lewe geraak is nie…

Die afgelope paar weke het dit vir my gevoel asof alles net eenvoudig skeefloop. Dit wat moes gebeur het vir my as ‘n matriek hierdie jaar, het toe nooit gebeur nie. Daar was soveel goed waaroor ek getwyfel het en wat aan my geknaag het oor die deel van die jaar wat verby is, en die deel wat nog kom. Ek kon eenvoudig net nie verstaan hoekom die Here my ‘n pad vol foute en teleurstellings laat stap het die jaar nie. Ek het baie gebid en gedink, ek het vir myself gesê dat die Here tog ‘n groter plan vir ons almal die jaar moet hê.

Met die rekordeksamen wat voorlê, kon ek voel hoe die Here met my werk. Ek het besef dat ek alles agter my moet sit, aan die Here moet vashou en dat ek net moet vertrou dat alles op die ou end goed sal uitdraai. Maar kort-kort was daar maar weer ‘n slegte dag, en ek kon eenvoudig net nie ten volle op die Here vertrou nie. Al die slegte goed het bly knaag aan my, al wou ek dit hoe graag vergeet.

Vandag was een van daai dae. Ek het my ma-hulle vandag in die mall gekry. Ek het na my ma toe gestap en haar ‘n drukkie gegee wat ek al vir ‘n rukkie nodig gehad het.

“Mamma ek’s nou moeg vir hierdie plek. Ek wil nou klaarmaak. Niks is meer lekker hier nie. Alles is ‘n teleurstelling, ek wil nou net klaarmaak.”

“Ai, my kind!” Wat meer kon sy gesê het? Sy het wel geweet dat haar seun altyd beter voel as sy maag vol is. Terwyl ons in Mugg & Bean sit, stap Mam Sotho daar verby. Ek spring op en gaan groet haar. Ons gesels lank.

“Jy’s ‘n goeie kind, ou Jan. Jy’s lekker windgat, maar ek like dit, jy gaan nog ver in die lewe kom”.

Tipies Mam Sotho… Sweet and short. Dit was een van vele komplimente wat net gaatjies van ‘n groot letsel kon toemaak.

En tóé gebeur iets wat vir seker my keerpunt in die jaar is…

‘n Oom stap na my toe. Ek gaan nie sy naam noem nie, maar ek glo hy weet wie hy is. Ek ken die man van geen kant af nie. Hy’t my in my skoolklere gesien en aangeneem dat ek in Voortrekker is. Hy begin toe met my praat oor die rugby, en oor alles wat so sleg is as gevolg van die omstandighede waarin ons onsself bevind. En uit die bloute begin hy my vertel van hoe hy gevoel het as ‘n seun van my ouderdom en hoe die Here tot sy redding gekom het. En sonder om enige iets vir hom te sê terwyl hy die goed vir my vertel, sê hy vir my die volgende asof hy my al jare lank ken:

“Jan, alles gaan fine wees, die Here het ons pad vir ons klaar deur die woestyne van ons lewens geteer. Glo en vertrou net op Hom. Gee al jou worries vir die Here en sit dit agter jou. Fokus net op Hom, want Hy sal vir jou sorg.”

En toe gee hy vir my hierdie stukkie: Romeine 8:14-15; “Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God, hulle is God se kinders. Die Gees wat julle ontvang het, is nie ‘n Gees wat weer van julle slawe van vrees maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba, ons Vader.”

Ek sê toe: “Baie dankie oom, oom moet ’n mooi dag hê, dit beteken baie.”

Jan du Toit.

Ek besef tóé eers wat gebeur het toe ek die volgende hap van my burger vat. Die Here het my gebede verhoor. Hy het hierdie oom vir my gestuur vandag… En toe ek myself kom kry en voor ek kon keer, is ek in trane. Ek wil hê dit moet stop, maar ek kan dit nie keer nie. Niemand in Mugg & Bean kan verstaan hoekom die kind so huil nie, maar hoe meer ek dit wil stop, hoe meer loop die trane. Ek staan huilend op, stap na die oom toe en gee hom ‘n druk. Ek het in daai oomblik nie ‘n bietjie omgegee wat enige iemand van my dink nie, want in daai oomblik het ek besef hoe groot die Here is en dat Hy regtig my gebede verhoor het. Ek het nog nooit so gevoel nie. Ek het vir die eerste keer in my lewe gehuil omdat ek fisiek kon voel hoe die Here my aangeraak het, en dis ‘n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. In ’n oogwink was dit asof daar ‘n berg van my skouers af is. Dis asof ek al die slegte dinge net daar uitgehuil het. Dit was regtig onbeskryflik lekker om te weet dat die Here regtig na my geluister het en dat Hy my wil help.

Daai oom het uit die bloute uit gekom, sonder dat ek hom geken het. Dit was amper asof die Here self met my gepraat het. Ek kry elke keer hoendervleis as ek daaraan dink. Die pad van die mall af koshuis toe was nie veel makliker nie. As ek myself weer kry, huil ek, my ma en my sussie van vrede en blydskap. Ek het dadelik na my vriende toe gegaan en hulle vertel wat gebeur het. Ek was net so opgewonde om vir almal te vertel dat die Here waarlik omsien na ons en watter lekker ervaring dit vir my was om fisiek sy teenwoordigheid aan te voel…

Skielik is al my worries net weg. Kom wat wil, geen uitdaging gaan my van hier af weer onderkry hierdie jaar nie, want ek weet dat die Here by my is, en ek glo dit.

Ek wens ek kan daai oomblik, toe ek besef wat gebeur het, weer en weer en weer herleef. Dit was net eenvoudig só lekker! Ek het wel my burger opgeëet.

Vir elke leerder daarbuite wat ook voel soos ek gevoel het (en daar is baie): Dit was dalk nie die jaar wat jy wou hê nie en dinge raak maar eentonig en vervelig. Ek weet, maar daar is nie ’n beter tyd om die Here te kies as nou nie. Gee al jou worries vir Hom, gaan rus by sy voete, soek jou krag by Hom. Maak nie saak wat gebeur nie, hou jou fokus op Hom. As jy Hom gaan vertrou en ‘n verhouding met Hom gaan hê, gaan Hy jou gebede verhoor met oorvloed.

Terselfdertyd wil ek mense aanmoedig om nou, meer as ooit, opbouend teenoor mekaar te wees. (Lees gerus Psalm 37 en Romeine 8:12-16.) Mens weet nooit wanneer die Here jou gaan kies om iemand anders se gebede namens Hom te verhoor nie.

  • #JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Toktokkie ·

Prys die Here! Baie dankie Jan dat jy hierdie met ons gedeel het. Ek gaan dit beslis aanstuur. So bly jy het getuig – ek weet jou toekoms, saam met so baie ander jong mense en veral matrieks gaan baie voorspoedig wees. Baie sterkte met die rekord en eindeksamen – glo en vertrou en dit sal beslis baie goed gaan.

Tokkel ·

Dit is vir my ongelooflik mooi om te sien hoeveel jongmense die Here dien. Dit maak my hart so vol vreugde, dat ons jeug besef “Ons Vader in die Hemel” sien almal raak en het ons ongelooflik lief.
Dankie dat julle dit met ons gedeel het. Prys die Here vir hierdie engel wat Hy vir jou gestuur het in tyd van moedeloosheid. Sterkte aan al jul matrieks hierdie jaar…

saggiespraat ·

Jan sit jy my aan die huil hier ek weet PRESIES hoe jy voel, Jusus kom so voor vir ons almal maar min
mense sien dit so dan dink hulle jy is die mal een, maar dit is nie, Jesus praat deur mense met jou. jy sal
hulle nooit weer sien daar na.

Ek het self a natneus seuntjie en worry elke dag wat se toekoms vir hom voor le en dan
kom iemand soos jy en wys my Jesus het n rede vir elke kind.

Cheryl ·

Jan weet dit: dat die werk wat God in jou lewe begin het Hy sal voltooi. Hy sal jou nooit los nie. Hy is getrou en regverdig en sal jou die begeertes van jou hart gee as jy voluit op Hom alleen vertrou. Jesus het nooit gesê dat ons pad vol maanskyn en rose sal wees nie maar dat Sy genade vir ons genoeg is. Hou vas aan elkeen van Jesus se beloftes. In Hom is hulle ja en Amen. Sterkte jong man.

Net ek ·

Dis so lekker om so ‘n getuienis te lees van ‘n jong seun. Well done jong man, daar lê vir jou ‘n groot toekoms voor. Bly vashou aan jou geloof en aan Jesus en jy sal ‘n wenner wees.

Vlooi ·

Ek is self ‘n pa met ‘n seun wat vanjaar matriek skryf. Hoe ironies dat hy presies soos Jan voel, die klein verkil is dat hy weens agterstande ‘n paar jaar ouer is as sy klasmaats. Ek het al herhaalde kere probeer om hom positief te hou. Hy is weens ernstige ADHD baie wisselvallig in sy emosionele. Het noe vir hom hierdie gegee om te lees. Dankie Jan, ek as pa het soms ook nodig om net van iemand anders ‘n boodskap van hoop te ontvang.

Elsabe ·

Wow!!! Ek self is op ‘n plek in my lewe waar soveel vrae en onsekerheid daagliks herhaaldelik oor my spoel. Ek het net soooo baie hierdie nodig gehad. Vanaf ‘n naby aftrede alleen-vrou na ‘n ‘brightly lit’ matriek-seun…. DANKIE! Jou pad is geplavei met God se seen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.