#JongStemme: Ek is klaar met sosiale media

Deur Jaco Linde

Jaco Linde.

Ek het al telkemale ’n punt bereik waar ek nie meer sosiale media wil gebruik nie. Dit het vir my te veel begin word. Elke mens het ’n opinie en of daardie opinie gegrond is op feite of nie, dit word steeds gelewer.

Verder is ek moeg vir mense wat sogenaamde kenners is op verskeie gebiede. Dit voel asof mense ook nie meer die tyd wil neem om ’n berig te lees nie en het reeds ’n uitgebreide opinie oor artikels deur net die opskrif daarvan te lees. Mense kan erg aan die stry raak oor onbenullighede.

Sosiale media is verslawend in die opsig dat dit jou in die middel van jou bestaan plaas. Alles gaan oor jou, jou belange, jou opinies. As jy nie belangstel in hierdie koerant of daardie persoon se opinie nie, dan volg jy dit eenvoudig net nie meer nie. Dis baie maklik om goed te voel op sosiale media, want almal voel soos jy.

Ek vra my amper daagliks af of die tyd wat ek al op Instagram of Facebook spandeer het, nie soveel beter aangewend kon geword het deur iets anders te doen nie.

Sien, die probleem is dat my generasie met sosiale media grootgeword het. Ons ken nie ’n realiteit daarsonder nie. Selfs ons ouers wat aanvanklik teen sosiale media gekant was en gesê het dat ons van ons fone moet afklim, is ook nou aktief daarop.

Maar, soos wat ek meer gedryf word daartoe om sosiale media heeltemal uit my lewe uit te vee, hou iets my terug. Wat as sosiale media anders gebruik kan word as wat ek nog altyd doen? Het die Here ’n doel met sosiale media? En as Hy het, wat is dit?

Matteus 5:14-16 haak in my gedagtes vas. “Julle is ’n lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê kan nie weggesteek word nie, ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie, maar op ’n lampstaander en dit gee lig vir almal in die huis.”

God roep ons as gelowiges nie daartoe dat ons werklikheidsvreemd moet wees nie. Dit is nodig om te weet wat in die wêreld aangaan, sodat ons sy Evangelie ook daarin kan bring. Dit maak nie sin om hierdie wonderlike lig te hê wat veronderstel is om die wêreld te verlig en dan te sê: “Nee, jammer, ek gaan dit vir myself hou” nie. Dit is gelowige mense se plig om op verskeie vlakke betrokke te wees in hierdie wêreld en dit sluit sosiale media in.

Die verskil kom in by die feit dat dit God is wat in die middelpunt van ons bestaan moet wees en nie onsself nie. Hy moet ook in die middelpunt wees van hoe ons met sosiale media omgaan. Ek probeer nie sê dat jy by elke kommentaar ’n Bybelversie moet plaas wat heeltemal buite konteks aangehaal word nie, en ook nie dat ons God se Woord so moet verflou, dat dit moet pas by óns idee van Hom nie.

Al wat ek vra, is dat jy volgende keer, voordat jy kommentaar lewer op iets, jou die volgende afvra: Getuig hierdie van iemand wat ’n kind van God is, of gaan dit net oor ek wat my eie opinie wil lug?

  • Jaco Linde kom van Louis Trichardt en studeer tans Gereformeerde Teologie aan die NWU. Hy beywer hom daartoe dat God se Woord helder en duidelik in ons samelewing gehoor moet word.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

charmaine ·

Baie waar en goeie vraag is wie is in die middel God of social media? In my lewe is dit God.

Richard ·

Ek het nog nooit Facebook, Instagram, twitter en diesmeer gehad nie. En nee my lewe is nie nou skielik “boring” nie. Vir my is dit tydmors en die al ewige stryery dra ook niks goed by nie. Nee wat hou maar ver verby “Sosiale Media”

Vriendelike Frikkie ·

…en tog gebruik jy juis die Onheil (sosiale media) om jou opinie, gegrond of nie, te lug. Interessant.

Johan Venter ·

Dit hoef nie so te wees soos per die derde paragraaf van die skrywe hier bo nie, balans is die antwoord, as enige mens vatbaar vir verslawing van die internet is, bly weg. As mens die gebruik daarvan kan bestuur, nog beter. Sekere mense en hul werk is afhanklik van Twitter en Facebook, ook YouTube vir advertensie. Als is nie net sleg nie, maar hang eintlik maar af wat elke persoon daarvan maak. As die persoon aangegryp word deur enige storie al is dit fopnuus edm, wat jy sukkel om van die realiteit te onderskei, bly weg, of doen eers goed navorsing voor jy ingetrek word en sukkel om jou daarvan weg te skeur.

Jack ·

Ek gebruik die sosiale media (facebook) om God se wil tov alles (finansies, politiek, korrupsie, wetteloosheid ens) oor te dra. Voorheen moes ek n koerant koop en tee drink by n koffiewinkel om die nuus te kry. Dan was daar geen manier om te reageer op n berig nie. Nou kan ek dadelik reageer en baie opinies lees, enige plek en enige tyd. Dit is verrykend.

Henk ·

@Jaco , weet nie of jy die kommentare lees nie . Weet jy wat is n yk ? Dit is n instrument wat jy gebruik om n skaal ens. te toets of hy akkuraat is . Die Bybel is die yk wat jy die wêreld mee meet om te sien hoe vervalle dit raak . Dit is die standaard wat waarvan af gewerk moet word en as die leiers daarvan afwyk lyk die wêreld soos vandag . Die kerk vandag is die gemeente van Laodisea in Openbaring 3 , n skrikwekkende aanklag , die Here beveel die gemeente ( kerk ) nie eers aan nie ! Soos die engelse vers sê ” therefore I vomit you out “

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.