#JongStemme: Ek voel soos ’n buitelander in my eie land

Deur Ruan Spies

Ruan Spies.

Ek is grootgemaak in ’n huis waar ek geleer is om trots te wees op my geskiedenis, my tradisies en my kultuur. Ek kom uit ’n familie wat geskiedenis het in die Boereoorlog en stories is vertel van wat my groot-oupagrootjie gedoen het om te veg vir hierdie land teen die Engelse. Maar ek voel soos ʼn buitelander in my eie land. As ek by my deur uitloop, word ek vertel dat ek ʼn rassis is oor die aksies van my medemense in die verlede. Ek word rassisties genoem as ek oor sosiale media huil en treur oor vriende of mense wat ’n kultuur met my deel wat vermoor word op plase oor hul velkleur en die taal wat hulle praat.

My vraag is, hoe kan ek ontslae raak van die etiket as rassis oor my kultuur en taal se verlede terwyl ek nié rassisties is oor ander kulture of rasse nie? Hoeveel meer van my mense moet vermoor word sonder rede voor ons begin opstaan en sê dis verkeerd soos wat ander kulture en ander nasies doen. Hoeveel families moet nog ’n familielid se naam op ’n muur sien soos ’n gevalle soldaat, voor daar ondersoek ingestel word?

Ek is moeg om te sien hoe my werkgeleenthede verminder word oor die taal wat ek praat of die kleur van my vel en al wat ons kan doen, is om by ’n braaivleisvuur te staan met ietsie kouds in die hand en te sê “Ja, dis erg”, want daar’s niks wat ons daaraan kan doen behalwe om dit af te lag nie.

Watter land kan funksioneer met blatante rassisme teen ’n persentasie van die bevolking en niks word daaraan gedoen nie? Ek wil weer om ’n braaivleisvuur staan saam met vriende, sonder om te vrees dat ek vermoor gaan word omdat ek op ’n plaas staan wat wettiglik gekoop is en nie deur bloed en oorlog gevat is nie. Ek verstaan dat daar minderbevoorregtes is wat in die verlede deur oorlog en ander redes buite hul beheer alles verloor het, maar ek was toe nog nie eens gebore nie.

Ek is ten gunste van alle wette om alle mense van alle kulture, tale en rasse te bevoorreg sodat almal op ’n gelyke vlak is om werk of ’n opvoeding in die land te kry, maar wanneer wette ingestel word om een kultuur of ras meer as ’n ander te bevoordeel, beteken dit dat ’n ander benadeel word. Ons moet egter staan en toekyk hoe ons volk toegesluit word vir rassistiese opmerkings (wat reg is volgens wet), maar die Wet mag nie een mens bo ’n ander stel nie. Wanneer blatante rassistiese opmerkings deur politieke leiers teen my taal en kultuur gemaak word, moet ons maar die kanaal op TV verander of dit aflag en aangaan met ons lewens asof ons nie bokke in ’n klein kampie is wat wag vir die dag wanneer ons ook “gejag” gaan word nie.

Ek moet my studies voltooi sonder om te weet of ek ’n werk gaan kry of nie. Ek wil ook graag ’n gesin hê, maar hoe kan ek eendag my kinders in die oë kyk en vir hulle sê dat hulle nie slapelose nagte oor ons toekoms in dié land hoef te hê nie, terwyl die moord en uitdunning van my taal en kultuur oor die nuus uitgesaai word – met geen nagevolge nie? Ek moet eendag my kinders in ’n skool en universiteit inskryf terwyl my eie taal uitgedun word in hierdie plekke van opvoeding. Ek kan my kinders nie eendag wys en leer van ons geskiedenis nie, want ons volk se monumente word verwoes of heeltemal verwyder en net so is ons stelselmatig besig om ons geskiedenis te verloor.

Daar is nie veel wat ek alleen kan doen om hierdie situasie te beëindig nie, maar ek kan help om mense bewus te maak van die probleem. Ons sê ons is trots, maar wil nie ons stemme dik maak en opstaan nie.

Hoeveel boere moet nooit weer wakker word nie, hoeveel van ons oumense moet seergemaak en geslaan word, hoeveel kinders moet nog op hul knieë staan en kyk hoe hul ouers voor hulle vermoor word? Hoeveel monumente moet verwoes word, hoeveel rassistiese optogte moet daar nog wees voordat jy saam met my hierteen gaan opstaan?

Ons volk is gebou op ’n sterk geloof en trots, ons het al berge verskuif en die swaar tye oorkom omdat ons volk sterk is, maar deesdae lyk dit vir my die meeste van ons sit terug en wag vir die oorlog om vir ons geveg te word.

Ek skryf hierdie betoog nie vir almal nie. Daar is mense wat my gaan verkeerd bewys deur bewyse te lewer van wat hulle doen om op te staan teen rassisme, maar ek praat hier met die mense wat vir ander mense wag om die oorlog vir hulle te veg.

  • Ruan Spies is ’n BSC-student aan die NWU en kom oorspronklik van Johannesburg af.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jean ·

My vraag is, hoe kan ek ontslae raak van die etiket as rassis… Jy kan nie.

Pieter ·

DIe is werklik een van die beste stukke wat ek gelees het. Nes Ruan hier se, stop om heeltyd jammer te se vir goed en op kniee te gaan. STAAN OP!!! Jy is n wit Suid Afrikaner, jy is hier gebore en het oorloe geveg vir die land en sy mense. (Almal van kleur ingesluit). Moenie dat ons onderdruk word nie. Ons is n strek volk en moet so opstaan sodat die lewe vir ons kinders ook makliker sal wees. Daar moet weg gemaak word van die Rasse haat teen die wit volk. (En die partye soos sekeres wat mag mond uitspoel oor and kleur mense moet uitgedryf word, ons is hier om as een groep saam te werk- Wit Swart, Indier….. en meer. EK is LIEF vir Suid Afrika en hier sal ek bly!

Manie ·

Ruan, ek voel saam jou. En al die jong post-1994 witmense soos jy. Jy wil weet hoe jy ontslae kan raak van die etiket “rassis”. Ek wil jou so antwoord:

Ongelukkig is ons grootste “sonde” die feit dat ons wit is. Soos ‘n stinkmuishond se grootste sonde is dat hy ‘n muishond is. Of hy nou stink of nie, hy sal ‘n muishond bly, nes ons in hierdie land altyd rassiste genoem sal word, of ons rassiste is of nie. Net soos die trotse Duitsers muishond geword het in die oë van die wêreld agv die ’n leier wat hulle gehad het.

Al wat jykan doen broer, is om ander weivelde te gaan soek. Een waar jou talente en vermoëns en wie jy is, gerespekteer sal word. Maar as jy hier wil bly…geniet jou braavleis vir solank as wat jy nog ‘n joppie sal hê en genoeg geld sal verdien om bier te kan koop. Sterkte.

Krummels ·

Dankie vir jou treffende woorde, Ruan Spies. Ek saluut jou & stem 100% saam met jou.
Dis voorwaar groot rede tot kommer – prèsies net soos jy dit beskryf.

Therese ·

Ruan Spies se gedagtes is presies soos myne oor hierdie saak.
Die feit dat voortdurende gewelddadige aanvalle en moorde van ‘n spesifieke minderheidsgroep, uitgevoer deur bendes uit die meerderheidsgroep, nié eersgenoemde groep uit hul apatiese traak-my-nieagtigheid ruk nie, is verstommend in enige deel van die wêreld.
Boeke is al geskryf hieroor en talle buitelandse bewusmakingsuitreike is geloods, met min of geen sukses.
Wanneer gaan SA se elite boere en ander gesaghebbende persone uit die sakesektor vir president Ramaphosa sê tot hiertoe en nie verder nie, en dit wérklik bedoel?!

OW ·

As ek in jou skoene gestaan het Ruan,sou ek my tassies gepak het vir lande wat jou sal waardeer vir wie jy is.As jy deel is van ‘n familie met sterk gevestigde ondernemings kan jy bly,maar as jy van werkgwers afhanklik gaan wees,sal ek elders gaan werk soek.Net so voor 1994 luister ek na ‘n gesprek tussen twee persone wat gegaan het oor apartheid,en die een persoon sê nogal dat dit maklik was om apartheid ingestel te kon kry,maar dit gaan ‘n ewigheid neem om daarvan ontslae te raak.As hierdie regering gaan aanhou met hulle beskuldigings,dat die minderheid al die rykdom besit,en ons kamstig so bevoorreg is, sien ek swarigheid vir die jonges wie se loopbane nog voorlê.Sterkte vir jou.Alles sal reg uitwerk.

Jaco ·

vra die ANC om dadelik onteiening sonder vergoeding te begin in 8 v.d.9 provinsies, om wit mense se stemreg weg te vat en ons tot 2de klas burgers te verklaar. Verskuif al die wit mense Wes-Kaap toe; gedwonge verskuiwings soos wat die vorige wit regering met swart mense gedoen het. Maak die Wes-Kaap ‘n wit tuisland met selfregering vir hulle eie sake. Laat buitelandse beleggings daar toe. Maak belastings ook hoër om steeds inkomste vir die sentrale regering in Pretoria te verseker. Kortom, bring apartheid terug en “mik” dit teen die wit mense. Die ontwrigting van onteiening en gedwonge verskuiwings en hoër belasting is dan alles die finale “straf” vir apartheid. Maar kyk ook na die pluskant: verskuiwings sal maksimum 3 jaar vat en na maksimum 5 jaar sal die Wes-Kaap soos Hong Kong lyk. En belastings op daardie “Hong Kong” kan die ANC in die res van SA dan weer laat incash. Uiteindelik wen almal.

katerinadiekat ·

Dis omtrent al wat sal werk, ek stem 100% saam. En dan is ons witmense ten minste heelwat veiliger, en kan op ons eie voortbou en woeker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.