#JongStemme: Ek volstaan dat die toekoms sosialisties is

Rynhard van Zijl. (Foto: Verskaf)

Deur Rynhard van Zijl

Ek bieg dat ek nie verbaas is oor die reaksies oor of argumentasie teen my onlangse #Jongstemme-meningstuk nie.

Ek wil graag ook Martin van Staden, Armand Cloete en ander bedank vir die respek wat hulle aan my betoon met hul reaksies en antwoorde. Dit terwyl hulle waarskynlik baie meer weet en al baie meer gedink het oor soortgelyke kwessies en góéd bewus is daarvan. Ek ervaar wel die reaksies as intydse vrese of bekommernisse, iets wat ek ook self ervaar.  Al die “Boetie”, “Maatjie”, “Snotkoppie” en dies meer kommentators wil ek herinner dat u self al “Boetman” en “die bliksem in” was.

Ek voel dat ek ’n baie belangrike nota in my eerste meningstuk uitgelaat het:  Die term sosialisme is ’n hiponiem. Ek bedoel hiermee dat sosialisme as ’n sambreelterm dien en nie enigiets outomaties voorstel nie (buiten gemeenskaplike produksiebeheer). Sosialisme is nie noodwendig kommunisme nie, nes kapitalisme nie noodwendig fascisme is nie (en ’n vinger nie noodwendig ’n duim is nie).

(Grafika: Verskaf)

Verder voel dit of meeste teenargumente insinueer dat sosialisme en “die menslike natuur” onversoenbaar is. ’n Vinnige terugblik op die geskiedenis en antropologie ontmoedig die idee dat “menslike natuur” ‘n statiese, onveranderlike eienskap is. Menslike aard en gedrag is deels plasties (weerspieëling van historiese en kulturele toestande in verhouding tot die spesifieke produksiemetode van die era), wat blyk uit die groot verskille in menslike gedrag en sosiale organisasie gedurende verskillende historiese tydperke en geografiese liggings. Die burgerlike samelewing, menslike gedrag en ideologie het mettertyd verander op dieselfde wyse as wat spesies geneties verander met verloop van tyd. Andrew Collier verwoord hierdie sentiment mooi: “Om na mense in die kapitalistiese samelewing te kyk en tot die gevolgtrekking te kom dat die menslike natuur egoïsme is, is soos om na mense in ‘n fabriek te kyk waar besoedeling hul longe vernietig en sê dat dit menslike natuur is om te hoes.”

Kapitalisme dwing kapitaliste om op te tree op ‘n manier wat as hebsugtig beskou kan word, want as hulle dit nie doen nie, sal hul mededinger dit doen en dan word hulle verswelg of buite werking gestel. En om in kapitalisme te verloor, is om ‘n skuldslaaf te word, om nie eens te praat van skuilingloos, gebroke, honger en onderdruk nie. Om hedendaagse menslike gedrag toe te ken aan die “menslike natuur” sonder om na die geskiedenis te kyk en sonder om die gevolge van die omgewing en sosiale verhoudings wat noodwendig menslike gedrag vorm, in ag te neem, is simplisties en gevaarlik.

Gierigheid en kompetisie is uit noodsaak, nie keuse nie.

Verder dink ek dat die “luiheid”-argument finaal gestuit moet word. Die aansporing om te werk is dieselfde as altyd: dit wat deur die produksiemetode moontlik gemaak word. Selfsug is in meeste omstandighede nie die hoofmotivering vir werk nie. Dit is kortsigtig om te dink dat ons sonder kapitalisme en kapitaliste almal op ons hande sou sit en vrek van die honger.

Om hierdie verder te verduidelik, wil ek begin deur Karl Marx en Friedrich Engels se eerbetoning aan die effektiwiteit van die kapitalistiese stelsel te noem. Hulle het dit as bewys eerbiedig vir “wat mense kan bereik” en wou daarop voortbou deur die produktiewe kragte van mense te sosialiseer en te herorganiseer. Daarteenoor was kapitalisme vir F.A. Hayek en sy vroeëre mentor Ludwig von Mises die teleologiese klimaks van die samelewing, die historiese eindpunt van die mensdom se neiging tot ruilhandel. Hayek het dit as ‘n bewys beskou dat daar sonder private eiendom en arbeids- en kapitaalmarkte geen manier sou wees om toegang tot die latente kennis van die bevolking te verkry nie; en sonder deurgaande toegang tot sulke inligting, sou enige ekonomie verkrummel en talent en hulpbronne vermors word.

Ten spyte van Hayek se bewerings, is dit in werklikheid kapitalisme wat dié inligting stelselmatig blokkeer. ‘n Gevolg van private eiendom en winsbejag is dat inligting ‘n mededingende bate is wat van ander weggesteek moet word. Vir sosialisme, aan die ander kant, is die aktiewe deel van inligting noodsaaklik vir die funksionering daarvan, iets wat geïnstitusionaliseer is in die verantwoordelikhede van die sektorrade. Verder ignoreer die kortsigtige individualisme van Hayek se posisie, soos Hilary Wainwright so kragtig aangevoer het, die wysheid wat voortspruit uit informele kollektiewe dialoog, wat dikwels buite die markte voorkom in besprekings en debatte tussen groepe en bewegings wat hul werk en gemeenskappe aanspreek.

Ekonome begin al hoe meer erken dat sommige van die probleme van kapitalisme te voor die hand liggend is om te ignoreer. Die deurslaggewende toegewing was dat kapitalistiese markte “eksterne faktore” nie baie goed hanteer nie. Die ekonome se reaksie op sulke “uitsonderings” is om wysigings in belasting en subsidies voor te stel, sodat die totale reële koste verbonde aan hierdie uitsonderings op die norm geabsorbeer kan word. Die probleem hiermee is dat die sogenaamde “eksterne faktore” wat hier ter sprake is, dinge soos die omgewing en die impak van kapitalisme op ongelykheid, volksbelang en substantiewe demokrasie insluit. Dit kom die duidelikste voor in die geval van die omgewingskrisis, met sy uitdagings vir die verbruikerskultuur en die feit dat die natuur gekommodiseer word asook die praktiese kommer om beplanning te bewerkstellig om die omgewing bedreigings aan te spreek. Dit pas nie in ’n kapitalistiese sisteem in nie.

Die punt is dat die begrip “doeltreffendheid” betwis word. Vir kapitalisme is werkloosheid ‘n wapen vir die toepassing van dissipline in die werkersklas; vir sosialiste verteenwoordig dit ‘n blatante vermorsing. Die tempo van versnelling van werk is ‘n pluspunt vir korporatiewe doeltreffendheid, en negatief vir werkers. Tyd wat aan demokratiese beraadslaging bestee word, word gesien as nietoegevoegde waarde vir kapitalistiese werkgewers, maar ‘n prioriteit vir sosialiste. Die vermindering van werksure vir voltydse werkers is vir kapitalistiese werkgewers ’n Pandora-boks wat nooit oopgemaak moet word nie; vir werkers is dit die hoofrede vir produktiwiteitsverhoging.

Die verdediging van sosialisme eis nie vergelykings tussen doeltreffendheid en kapitalisme nie, maar of ‘n samelewing gestruktureer is om die volle en gevarieerde potensiaal van al sy inwoners in ag te neem en aandag daaraan te gee. Dit moet prioriteit gee aan doeltreffendheid in koördinasie van aktiwiteite; die ontwikkeling van nuwe tegnologieë, produkte, vorme van demokratiese organisasie en administrasie; en die bevryding van die arbeidsvermoë sodat dit op ander menslike doeleindes toegepas kan word.

Laastens wil ek uitklaar dat my menings oor sosialisme vir die toekoms júís uit ideologie spruit. Ons wêreld funksioneer tans goed onder kapitalisme. Net so het stamwese goed gefunksioneer en net so het feodalisme goed gefunksioneer. Daar is egter (soos die geskiedenis ons wysmaak) ’n tyd en ’n plek vir als. Die verandering wat ek voorspel, is nie vir nou, môre of in my kleinkinders se leeftyd nie. Ek erken ook dat die geskiedenis nie positief verslag lewer oor idees wat aan die sosialistiese kant van die spektrum lê nie. Ek volstaan egter dat hierdie idees vir die toekoms bedoel is. Wat gebeur in ’n post-behoeftige samelewing?

Wanneer ons gemaklik aan almal se behoeftes kan voorsien? Wanneer navorsing oor lewensreddende inentings tydens ’n wêreldpandemie nie weerhou word van sekere mense omdat hulle nie genoeg kan betaal nie? Wanneer dit nie meer verregaande is om te vra waarom polisielede en soldate gratis opleiding ontvang en mediese personeel en onderwysers, onder andere, noodwendig met jare se studieskuld sukkel nie?

Wanneer mense nie meer as middel tot ’n eksterne doel gebruik word nie, maar as middel tot hul eie voorspoed.

Jy kán iemand ’n vis gee én leer hoe om vis te vang. Dit is tog makliker as jy nie self doodgaan van die honger nie.

  • Rynhard van Zijl is ’n BPharm-eerstejaarstudent aan die NWU. Hy is ’n inwoner van Veritas-manskoshuis.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Mag ek hoflik voorstel dat jy bietjie minder Marx en bietjie meer Ayn Rand lees? ????

Schalk

Jong man jou teorie en die werklike wereld verskil wesenlik van mekaar! Die verwysing na Karl Marx bevestig net my vermoede dat jy nog nie werklike ondervinding van die lewe en die ongeskrewe reels het nie. Moenie net glo wat jy lees nie, gebruik dit eerder as riglyn om die werkliheid te evalueer. Almal kan nie as kapitalismies beskou word wat bloot beter sakegeleenthede ontgin en voordeel trek nie? Die mens se siening verskil oor basies alles in die lewe alhoewel sekere dinge nie onderhandelbaar is nie. Hoekom sal ek hard werk , beplan en begroot dat ander kan vat… Lees meer »

Elize

Hoekom? Te lui om te werk? Tevrede om Klaas te wees en so dood te gaan sonder ambisie?

Jessey

Ek het baie aandagtig deurgelees wat jy se Rynhard, en jy het wel ‘n hele paar raakvat punte, en Ayn Rand het ook baie gehad en so ook Karl Marx. In my opinie (en dit is net my opinie), kan ons ook glad nie vir Maslow ignoreer hier nie. Kuddes kan saamwerk, Maslow se piramide verduidelik menslike natuur in my opinie net beter. Party mense wil nie verder as sekuriteit beweeg nie nader wil nastreef en vorder sover hulle kan. Dus sal daar altyd oneweredigheid wees in ‘n samelewing. Sossialisme en Kommunisme aanvaar inherent dat daar geen “korrupsie” sal wees… Lees meer »

Frans

Die sosialistiese stelsel strewe daarna om alles vir almal te wees en op die ou einde is dit niks vir almal en meer soos ontwykende mirage in ‘n woestyn.