#JongStemme: Ek wonder wat Oom Paul daarvan sou sê?

arno-roodt

Arno Roodt. Foto: Verskaf.

Deur Arno Roodt

Ons almal ken die drill: Vrydagaand om die braaivleisvuur, klitswoorde soos Eskom, korrupsie, staatskaping en emigrasie word soos konfetti rondgegooi en almal sing SA se klaagliedere met ’n frons op die voorkop en ’n Gin & Tonic-bitterheid in hul hart.

Elke keer wanneer ek myself in ’n situasie soos dié bevind, dink ek altyd terug na ’n storie wat my pa my vertel het oor die ene oom Paul Kruger.

Die legende loop dat Oom Paul tydens byeenkoms in ’n gesprek vasgehaak het met ’n man wat hom daarop attent gemaak het dat skinderstories van Paul Kruger se korrupsie en wangedrag die rondte doen. Die man het die storie met geen terughouding vertel nie, en het selfs ’n aura van lekkerkry afgegee om te sien hoe die president ongemaklik begin raak met die gesprek.

Paul Kruger het hom egter nie deur die skinderstories laat omkrap nie, en het met wyse oë aan die man in repliek gevra: “Nou, Meneer, sê my watse stories vertel die mense van jóú?” Die man het vinnig teruggeskiet en met ’n lag gesê: “Nee, Meneer, die mense praat niks van my nie.”

Vir ’n oomblik dink die man dat hy die opperhand oor die president gekry het – maar met dieselfde wyse oë as vroeër (dié keer met ’n slinkse glimlag by) sê Oom Paul: “Presies. Niemand sê enigiets van jou nie. Die wêreld is stil oor jou bestaan. Waarom? Wel, want jy het nog nooit iets merkwaardigs gedoen nie – al wat jy doen is om my kla en stories ronddra, terwyl ek besig is om die wêreld te verander.”

Nou, wat die bygevoegde dramatisering en geskiedkundige akkuraatheid van die verhaal betref, pleit ek onskuldig, maar ek is nie hier om vir julle ’n geskiedenisles aan te bied nie, maar eerder om julle te laat nadink.

Lyk ons Vrydagaand se braaivleisvuuroefening nie baie na die man in die verhaal nie? Ons staan en kla, skinder en bespiegel met elke kans wat ons kry, maar tot watter nut? Nes die man – wie gaan ons eendag onthou? Wat gaan jou nalatenskap wees?

President Paul Kruger. Foto: Verskaf.

Ek dink dat ons as jong Afrikaners in ’n moeilike posisie sit. Die wêreld het baie verander van ons ouers se dae af, en ons moet nou ’n juk vir ons voorouers se sondes dra – want durf ons dit probeer afgooi, word daar ook stories van ons vertel ter herinnering aan ons wit bevoordeling, skynbare inherente rassisme en die feit dat ons stem nie meer tel nie.

Maar ek wil julle vandag bemoedig en sê dat ons stem nooit stilgemaak kan word deur ander nie. Ons stemme kan steeds bulderend gehoor word deur ons dade, as ons net van ons basse af opstaan en aan die werk spring.

Ek is moeg daarvoor dat ons so bang is vir die “stories”, dat ons eerder net laer trek en wegloop van die moeilike gesprekke af. Ek is moeg daarvoor dat ons jongmense nes die anonieme man in die geskiedenisboeke gaan verdwyn. Ek is moeg daarvoor om te sien hoe ons ons eie hande afkap net sodat ons nie iemand te na kom nie.

Dit is tyd om te besluit of jy ’n Paul Kruger of ’n anonieme man gaan wees. Gaan jy net kla, weghardloop en van vergeet word? Of gaan jy opstaan, praat, werk, bly en bou?

Die besluit lê by jou.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
jinny jualinda

Dankie vir die artikel. Die jongmense word gebreinspoel om te glo dat hulle voorouers se verlede deurspek is met onderdrukking en rassisme. Die regering het die werklike geskiedenis totaal verdraai, en sommige wit jongmense voel skaam oor hulle herkoms, daarom keer hulle die rug op hul kultuur. Dit is bitter jammer, hoe gaan dinge lyk en klink oor twintig jaar? Die huidige regering het geen sweempie van goeie woorde vir die Afrikaners se bydra tot hierdie land nie. Hulle probeer alles afbreek wat net n aanduiding gee van die Afrikaner se suksesse. Dit is juis die moee Afrikaners wat uit… Lees meer »

Johan Venter

jinny, jy is 100% reg, veral moet die jong mense, eintlik alle mense, goed luister as Cyril Ramaphosa praat en hoe hy woorde inspan, juis dat mens nie onkant gevang word nie. Cyril Ramaphosa het dit mos in dié tyd benadruk dat apartheid ‘n misdaad teen die mensdom is en toe daarna vir almal wat wil hoor vertel dat diegene wat dit ontken, pleeg verraad. Dit was nie verniet nie en daarom kap hy nou al meer die hake in en gebruik dit om hul siening en propaganda betreffende die NGV te regverdig. Hy sê die NGV sal die ongeregtighede… Lees meer »

Charlené

Baie verkies om nie enige iets te doen nie want dit is soveel gemakliker om net te kla. Almal wil verandering sien maar min is bereid om die harde arbeid in te sit om verandering aan die gang te sit. Soms is dit nie die groot en merkwaardige akies wat die grootste verskil maak nie, maar die een klein begin wat die bal aan die rol sit.

Paul

Altyd lekker, Arno, om jou stukke te lees.

Doen so voort, en sterkte met die groot werk onder studente in Bloemfontein!