Deur Mihan C van Zyl
Deesdae word die jeug gereeld aan ʼn lang lys regte en voorregte herinner, wat veroorsaak dat die meeste politieke kwessies en debatte daarrondom sentreer. Ek glo self baie sterk aan die noodsaaklikheid van basiese menseregte as ʼn hoeksteen van ons politieke lewe en ek verstaan hoekom dit soveel aandag geniet.
Die benadering wat slegs op eiegeregtigheid fokus laat ons egter soms van die noodsaaklikheid van die gepaardgaande verantwoordelikhede vergeet. Hierdie wisselwerking tussen regte en verantwoordelikhede is een van die voorvereistes vir enige gebalanseerde persoon, gemeenskap en demokrasie. Deur die eeue was regte en voorregte nog altyd van persoonlike verantwoordelikhede afhanklik. Daar is ʼn goeie rede hoekom ons grondwetlike regte altyd met ʼn wedersydse grondwetlike verantwoordelikheid gepaardgaan. Die reg tot lewe beteken niks as niemand die verantwoordelikheid wil neem sodat ander se lewens nie geneem word nie, of as niemand gewillig is om ander se lewens te beskerm nie.
Niks in die lewe is ʼn gegewe nie. Die maklikste manier om ons regte te verloor, is om nie die verantwoordelikheid te aanvaar om hierdie regte aktief te beskerm nie. Regte en voorregte is soos ʼn kampvuur op ʼn koue nag. Geen mens kan die hitte en lig daarvan as hul absolute reg beskou nie. As jy nie betyds die verantwoordelikheid aanvaar om hout bymekaar te maak, dit te kap en die kole aan te blaas nie, kan jy ten hemele skree dat dit jou reg is om nie te verkluim nie, maar jy gaan weens jou eie toedoen ʼn donker en koue nag tegemoet gaan.
Sielkundiges beweer mense beskou hulle omstandighede as oorwegend die gevolg van interne of eksterne faktore. Wanneer jy nie persoonlike verantwoordelikheid vir jou omstandighede wil aanvaar nie, word dit gevaarlik maklik om slegs eksterne faktore (faktore buite jou beheer), daarvoor te verkwalik. Dit word makliker om oor die onregverdigheid van jou omstandighede te kla as om die nodige stappe te neem om dit te verbeter. Dit word ook moeiliker om optimisties te wees as jy jouself slegs as ʼn slagoffer van eksterne faktore sien. Dit is natuurlik ook onrealisties en ongesond om te glo ʼn mens moet verantwoordelikheid vir alles wat met jou of in die wêreld verkeerd loop, aanvaar. Gesonde balans is lewensbelangrik.
Persoonlike verantwoordelikheid beteken dus om na binne jouself, sowel as buite jouself vir perspektief te kyk. Begin klein deur te doen wat jy kan om jouself te verbeter. Dit is bitter gevaarlik en onverantwoordelik om die splinter uit iemand anders se oog te probeer haal as jy self nog een in jou eie oog het. Jou swak sig kan jou ʼn fout laat begaan wat jou op die ou einde heeltemal kan verblind. Dit is duidelik nie ideaal dat gebroke mense ʼn gebroke wêreld moet probeer regmaak nie. Begin eerder klein en werk daarvandaan uitwaarts.
Ek propageer beslis nie ʼn ideologie van radikale individualisme nie. Daar moet ook in jou lewe plek wees vir dinge groter as jyself. In een of ander stadium van jou lewe gaan jy verantwoordelikheid vir ander mense moet aanvaar. ʼn Mens hoef natuurlik ook nie altyd alleen verantwoordelik vir alles te aanvaar nie. Groepsverantwoordelikheid is ook noodsaaklik om gemeenskapsbande te versterk.
Die lewe was nog altyd ʼn stryd. Regte en voorregte maak hierdie stryd makliker, maar hierdie regte sal slegs behoue bly as mense besluit om die uitdagings van die lewe te aanvaar en aan te pak. Dra dapper aan jou kruis, neem persoonlike verantwoordelikheid, vind betekenis en bevrediging in die dinge waarmee jy jou in jou gemeenskap besighou, en beskerm sodoende dit wat die lewe vir jou die moeite werd maak.
- Mihan van Zyl is ‘n tweedejaarstudent in BA Regte aan die Universiteit Stellenbosch.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.
Mihan jy se: Niks in die lewe is ʼn gegewe nie. Die maklikste manier om ons regte te verloor, is om nie die verantwoordelikheid te aanvaar om hierdie regte aktief te beskerm nie.
Persoonlike verantwoordelikheid beteken dus om na binne jouself, sowel as buite jouself vir perspektief te kyk. Begin klein deur te doen wat jy kan om jouself te verbeter.
Ons lewe in moelike tye. Hopelik word die goed wat jy se, deur ander jonges ook ingeneem.
Die meerderheid kiesers weet nie wat demokrasie is nie en is nog in die ou bestel vasgevang waar poiltieke partye nog op minder bevoregtes se gevoelens teer.
Leer jou geslag mense tog om alle opsies raak te sien en te oorweeg en nie om op lee belftes te vertrou nie.
Niks wat jou oorkom, het jy nie aan jouself gedoen nie. Punt.
Voortreflik gestel! Baie dankie Mihan jy is ‘n yster, wat hoop gee vir ‘n beter toekoms.
Mihan jy is doodreg. As ons weer begin om die basiese dinge reg te doen en ons is bereid om baie hard vir die verwesentliking daarvan te werk sal ons die vrugte daarvan pluk. As jy net met verwagting en aanspraak onder die boom bly sit val net die vrot appels in jou skoot. Hoe hoër die boom wil groei hoe sterker moet sy wortelstelsel wees om te verhoed dat die eerste rukwind hom omwaai. Die Bybel sê nie verniet jy sal maai dit wat jy saai nie.