#JongStemme: Emansipasie by jongmense vs. Covid-19

Deur Daniël Visser

Daniël Visser.

Die abnormale leefstyl begin homself al meer vermom as normaal en ons is stadig maar seker besig om aan te pas. Vir ʼn student is dit nie noodwendig ʼn maklike tyd om oog op die bal te hou nie.

Uitsigloosheid is algemeen en ons persepsie van die werklikheid raak al dowwer. Met die isolasie voel dit asof ons wortels uitgetrek is en daar is ʼn belangrike rede hiervoor. Volgens Erik Erikson, ʼn psigoanalis in opvoedkunde, gaan ʼn student (18 jaar en ouer) in hierdie tyd van sy lewe deur ʼn kritiese fase ten einde volle emansipasie te bereik. Hierdie fase word geassosieer met identiteitsvorming, onafhanklikheid en die vestiging van dieper verhoudinge. Dit verduidelik die krisis waarmee jongmense in hierdie tyd sit. Daar is nie meer ʼn gesonde atmosfeer waar jongmense hierdie stappe van volwaardige groei kan deurgaan nie.

Waar lê die oplossing vir hierdie probleem? Hoe kan jongmense, soos ek, hulself vestig in ʼn tyd waar onsekerheid heers? Goeie begronding in ʼn jongmens se lewe is die eerste stappie tot volwassenheid. Indien iets aan ʼn sterk fondament karring, sal dit bly staan. As die mens egter vergeet waaruit daardie fondament gebou is, is hy klaar oorwin.

Identiteitsvorming is die heel eerste bousteen van ʼn sterk fondament. Waar lê mens se identiteit nou werklik in ʼn wêreld waar individualisme gestimuleer word en gemeenskap verwerp word? Dit kom neer op een beginsel – jy kan slegs weet waarheen jy op pad is as jy weet waarvandaan jy kom. Ons gemeenskap het ʼn geskiedenis. Hoe goed of sleg ook al, om dit te ontken gaan die probleem nie oplos nie. Ons moet dit stip in die oë kyk, opstaan en aangaan.

Dit bring my by die tweede bousteen van ʼn sterk fondament – die gemeenskap. Ons is gebore in ʼn gemeenskap met wonderlike tradisies en goeie waardes. Ons identiteit is gevorm vanuit hierdie gemeenskap. Dit is miskien voorskriftelik en ons het nie gekies waar ons wil wees nie, maar alles wat ons het, is gebou deur hierdie gemeenskap. Of ons gemeenskap groei of nie, hang af van elke individu se bereidheid om daar waar ook al hy of sy betrokke kan wees, moue op te rol.

Tog het almal nie dieselfde geleenthede en voorregte nie, maar dit bring my by die derde bousteen – ʼn goeie ingesteldheid. ʼn Goeie ingesteldheid is soos ʼn Hilux-bakkie. Dit bring mens by plekke waar jy nooit gedink het jy kan kom nie. Ingesteldheid word nie bepaal deur voorspoed of teëspoed nie. ʼn Goeie ingesteldheid is om hoe goed of sleg dit ook al gaan, verantwoordelikheid te neem en die bul by die horings te pak. ʼn Goeie ingesteldheid is om dinge te sien vir wat dit is en te werk met dit waarmee jy sit.

ʼn Goeie ingesteldheid is om met ʼn dit-kan-gedoen-word-houding op te kyk en met die bietjie wat jy het, en die min mense by jou, inkrementeel en geleidelik voort te streef om dinge beter te maak vir almal rondom jou. Dit is om die realiteit te kies bo die ideaal. Onthou, hoe sleg dit ook al gaan, daar is altyd iemand wat al swaarder gesleep het. Die beste dinge begin op die kleinste plekke. Soos dr. Jordan B. Peterson sê, indien jy die wêreld wil verander, kan jy begin deur jou kamer netjies te maak.

Die laaste bousteen van ʼn goeie fondament is die waarheid. Waarheid is ʼn omstrede onderwerp, maar die realiteit van die saak is dat ons nie meer begrond is in die waarheid nie. Die waarheid is bestempel as relatief en dit het nie meer dieselfde betekenis onder ons nie. Waarheid is egter nie relatief nie, waarheid is absoluut. Die waarheid is diep begrond in ons geloof en om afstand te doen daarvan, is soos om ons eie wortels af te kap.

Om te emansipeer, is om die metaforiese naelstring te knip en om te begin om op jou eie voete te staan. Dit is ʼn sielkundige fase van almal se lewe wat verkieslik so deeglik moontlik moet gebeur. In ʼn tyd soos vandag waar hierdie proses nog moeiliker gemaak word, moet ons terugkeer na ons wortels sodat die boom volwaardig kan groei. ʼn Boom sonder wortels sal nooit groei nie en ʼn boom wat nie groei nie, dra nie vrug nie.

  • Daniël Visser is ʼn BSocSci-tweedejaarstudent in politiek, filosofie en ekonomie aan Akademia. Hy dien tans op die studenteraad as SR van kultuur op kampus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.