#JongStemme: Feminis of feminazi?

Deur Chané Venter 

Chané Venter

Die Merriam-Webster-woordeboek verklaar feminisme as die teorie van die politieke, ekonomiese en sosiale gelykheid van geslagte. Kortliks is dit die bemagtiging van vroue om aan mans gelyk te wees.

Wanneer ons kyk na die hedendaagse VSA en al sy radikale bewegings, is die feministiese beweging een van die definitiewe uitskieters. Hierdie beweging word gekenmerk deur slagspreke soos “#MenAreTrash”, “My Body, My Choice” en “Free The Nipple”.

Alhoewel die geskiedenis van feminisme in die VSA daarop dui dat die beweging ʼn baie ernstige begin in 19de eeu gehad het met die veg vir stemreg vir vrouens, blyk dit wel dat die moderne “feministe” – nie alleenlik in die VSA nie – die pad byster geraak het.

Moderne feminisme, of eerder, die vierde feministiese golf wat in 2012 aan die lig gekom het, word gekenmerk deur bogenoemde berugte slagspreuke en die gebruik van tegnologie om standpunte in te neem. Hierdie platforms gee vir nie net aan feministe nie, maar aan gemeenskappe die geleentheid om te sê wat hulle wil – sonder enige gevolge. Die ironie agter die saak is dat die feministe wat hard veg teen geslagstereotipering, dit doen deur die ander geslag te stereotipeer en alle mans onder dieselfde kam te skeer.

As ons dieper delf in die kwessies waarvoor die feministe deesdae staan, kan ons wel sien dat baie van die bewegings en sogenaamde onderdrukking, problematies geag kan word. ʼn Voorbeeld in ons eie agtererf is die beweging teen die geweld teen vroue en kinders. Ons kan nie ontken dat daar ʼn groot probleem van geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika is nie, maar daar kan wel veranderinge plaasvind ten opsigte van hoe geweld teenoor mans hanteer word deur die publiek en selfs die strafregstelsel.

Die hartseer en tragiese moord in 2019 op Uyinene Mrwetyana, ʼn student aan die Universiteit van Kaapstad, het die feministiese beweging in Suid-Afrika behoorlik op dreef gesit. As gevolg van die konstante publisiteit aan dié beweging, het talle mans begin voel dat die lyding en mishandeling wat hulle ervaar, onder die mat ingevee word slegs omdat hulle mans is.

In Suid-Afrika is daar baie negatiewe reaksies teenoor mans wat na vore kom oor huishoudelike geweld. Hierdie mans word dikwels gesien as lafhartig en swak, maar die realiteit is dat mans die grootste hoeveelheid van die slagoffers van moord uitmaak. Volgens statistieke is 85% van die slagoffers van moord manlik (seuns ingesluit), 80% slagoffers van poging tot moord en 70% slagoffers van ernstige liggaamlike skade. Ander statistieke dui ook aan dat mans 1,8 keer meer waarskynlik is om selfmoord te pleeg en dat 35% van mans in Suid-Afrika werkloos is.

In die geheel is die kwessies waarmee vroue in vandag se tyd mee te doen kry, veel minder as in die 19de eeu en ʼn vraag wat ons moet vra wanneer ons kyk na die feministe se stryd vir aborsiereg, hul optrede teenoor mans en hul radikale ideologie: Is feminisme besig om weg te beweeg van die oorspronklike stryd vir gelyke regte en nader aan die gegewe titel van “feminazi” wat onderdrukking van mans en onmenslike behandeling van ander in die vorm van “bemagtigde vroue” toepas?

  • Chané Venter is ‘n derdejaar BA Taalpraktyk-student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). 
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Ek het ‘n vriend wat altyd oor fanatici (enige vorm) beweer, dat diesulkes so diep in ‘n ding is, hulle is al anderkant uit.
Ek dink dis waar feminisme nou is.

Etienne

Die sosiale bewegings in die VSA het ‘n groot invloed op ons sosiale omstandighede, die groot probleem volgens my is die Media; en die bewegings wat blindelings gevolg word sonder om te weet wat dit regtig behels.

Charlené

Dit is vir my nog altyd ironies hoe goeie bewegings altyd begin met ‘n goeie doel voor oë en dan raak die “empowerment” daar rondom meer van ‘n magstryd. Ek is 100% vir gelyke regte, salarisse en behandeling. Dit is eintlik kommerwekend hoe vrouens kla oor hoe sleg mans is, maar in dieselfde asem “‘n goeie man” soek. Hoe wil jy omring wees met goeie mans as jy konstant vir hulle vertel dat hulle sleg is? Feminazi’s is onnodig en dryf ‘n generasie na onderdrukking van mans, en dit is die laaste ding wat ons as vrouens nodig het!

Oudste

Ek dink die beste slagspreuk wat die feministe nog gehad het, was Burn the bra. ????