#JongStemme: Fokus meer op jeug se geestesgesondheid

Deur Megan Chippett

Megan Chippett.

Ons lewe in ‘n tydperk waar dit ‘n skande is as iemand ‘n geestesversteuring het. Ons durf nie oor depressie of selfdood onder die jeug praat nie, dis ‘n verbode onderwerp.

Dis belangrik vir ouers, dat hul kinders moet presteer op die een of ander gebied. As dit nie in ’n akademiese rigting is nie, wel in sport, musiek en dies meer. En dan kry jy die ouers wat tot die volgende uiterste gaan en sê: “My kind moet presteer op alle gebiede, anders gaan hy of sy nooit voor in die lewe kom nie.”

Jou kind se punte maak geen verskil aan jou kind se waardigheid nie, of jou kind net-net deurkom en of jou kind sy provinsie se toppresteerder is, dit gaan oor wat in die hart is.

Die laaste ruk lees ons so baie oor tieners wat selfdood gepleeg het. Almal se monde hang oop met vrae soos: “Hoe is dit moontlik?”, “Wat kon dit veroorsaak het?”, “Hy/sy het niks gesê nie, hoekom het hulle nie vir hulp kom vra nie?”

Dis eenvoudig, want wanneer ook al tieners van vandag of ons jeug vir hulp vra en ‘n noodkreet uitskree, word daar meestal ‘n dowe oor na hulle gegooi. Die boelies word eerder beskerm as om uit te reik na die arme kinders wat deurloop.

Om nie eens te praat van al die druk nie! Dan is daar nog die stigma wat aan geestesversteuring kleef. Mens waag nie om vir iemand te sê jy ly aan depressie of angstigheid nie. Ons almal word oor dieselfde kam geskeer. Ons hoor dikwels, “Hou net op jammer voel vir jouself!”, of “Dis nie so erg nie, get a life!”

Ek glo vas dat, wanneer daar minder druk op die kinders geplaas word, ons ‘n gelukkiger jeug gaan hê. Wat kans gaan sien vir die toekoms sonder die vrese wat dit dalk mag inhou. Sonder al die druk gaan kinders meer tyd hê om duidelikheid te kry oor wat hulle wil gaan doen ná skool eerder as om bekommerd te wees oor punte en hoe hul ouers gaan reageer, of te vrees vir die rugbybal wat mis gevang is.

Dalk, wanneer daar minder druk op ons jeug geplaas word, gaan daar minder kinders wees wat gaan opgee op die lewe en die kans om ‘n helse sukses van hul lewe te maak, misloop.

Dit is nie sosiaal aanvaarbaar om nie oukei te wees nie, so ons almal gee maar voor, want netnou word ons ook oor daardie kam geskeer. Ons is bang ons word verstoot wanneer ons maats dalk hoor ons is anders as hulle en dat ons denkwyse so bietjie van die res verskil.

Op die ou end van die dag dink ek is dit soveel belangriker om ‘n gelukkige kind te hê (met aanvaarbare punte, nie noodwendig in die toptien nie), wat lief is vir die lewe, eerder as om begrafnis te hou en te wonder waar jy as ouer verkeerd gegaan het.

Dis oukei as jy nie nommer een in jou klas is nie. Dis oukei as jy vir die tweede span rugbyspeel en dis oukei as jy ‘n groter passie vir kuns en kultuur het, eerder as vir sport. Dis oukei om probleme met jou geestesgesondheid te hê. Dis oukei.

  • Megan Chippett is ‘n 21-jarige onderwysstudent van Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.