#JongStemme: Gee my brood, vat my lewe

Deur Albertus Liebenberg

Albertus Liebenberg.

Sowat 200 m van my woonstelkompleks in Stellenbosch sien ek maandeliks ʼn ellelange ry van mense wat hul Sassa-toelae wil kry. Dis ʼn ry wat aansieklik langer geraak het soos wat Suid-Afrika se verskeie grendeltydperke langer geraak het. Dis ʼn hartseer formasie van uitdrukkinglose gesigte wat wag vir die volgende maand se broodgeld.

Soos ek na hierdie prentjie kyk kan ek nie anders as om aan Esau te dink wat sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop het vir ʼn kooksel lensies nie. Het Suid-Afrika nie ook sy geboortereg van basiese vryhede in ʼn oomblik van waansin en vrees afgesweer aan ʼn regering wat vir ons ʼn lewe van lensiesop en brood belowe het nie? Ek het nog niks van die lensies geproe nie.

In die 1990’s is ons vertel dat al manier hoe ons jong demokrasie gered kan word van die gevolge van die vorige bedeling se foute en daarmee saam Suid-Afrika se ekonomiese ongelykhede kan regstel, is om styf aan die nuwe ANC-regering se speen vas te suig. Sewe-en-twintig jaar later en ons klou nog verwoed aan die speen, maar die melk is lankal suur. Gevolglik het vertroue in die ANC-leierskap met goeie rede stadig aan begin vervaag.

Dit was dus interessant om te sien hoe maklik die Suid-Afrikaanse publiek weer oortuig is om hulle vertroue in dieselfde regering te plaas toe die Covid-19-pandemie verlede jaar uitgebreek het. Ons is vertel dat president Cyril Ramaphosa anders is as die ANC van die verlede en ʼn eerbare man is wat die ekonomie en besigheidswêreld verstaan en nie deel in die korrupsie waaraan die ANC-regering tot dusver geken was nie. Ek het toegekyk hoe mense wat al vir jare lank groot kritici van die ANC op sosiale media was, met groot lof van Ramaphosa praat net om ʼn jaar later hul hoed op te eet van spyt. Ek sidder om te dink hoe die verspreiding van die inentings gaan uitspeel en hoeveel pap ons ministers se familielede gaan skep.

Kom ons wees eerlik met onsself. Ons is die hele pot lensiesop met varsgebakte brood belowe as ons net ons basiese regte vir ʼn maand of twee sou opgee. Ons het egter niks meer as ou weggooibrood gekry nie en moes daarmee met ons lewens betaal – want wat is lewe? Is dit om heeldag in jou huis te sit en vrees vir ʼn virus wat jy heel waarskynlik gaan oorleef as jy dit kry? Is dit om jou werk te verloor omdat die regering besluit het dit is nie “noodsaaklik” nie? Is dit om voorgeskryf te word wanneer jy buite jou huis mag wees? Is dit om gedwing te word om op arbitrêre tye ʼn masker te dra net om boetes te vermy? Ons is vertel dat al die reëls daar was om ons lewens te beskerm, maar watse lewe is dit as dit só lyk?

Dit is tyd om die rol van die regering in die Suid-Afrikaanse samelewing te heroorweeg. Ons offer ons belastinggeld, ons vryhede, ons besighede en ons veiligheid op en kry meestal niks daarvoor nie. Ons kan nie langer toekyk hoe die private sektor ʼn universiteit vir R300 miljoen bou terwyl die openbare sektor R431 miljoen spandeer om een provinsie se skole te saniteer nie. Ons kan beter doen. Die regering is nie die katalisator vir ekonomiese vooruitgang waarvan so baie gedroom het nie. Hulle is die vervalle brug tussen ons en voorspoed wat afgebreek moet word. Maar meer as net dit – daar is potensiële ekonomiese voordele wat minder regeringsinmenging in ons lewe inhou; en dit is, glo ek, die basiese idee van menswees wat dringend in ons samelewing aangespreek moet word.

Die vermoë van elke individu om sy of haar vrye wil uit te oefen en die vrug daarvan te pluk – goed of sleg – is een van die basiese fondamente van wat dit beteken om ʼn mens te wees. Dis ʼn moeilike realiteit vir ʼn regering of enige politieke beweging, want hulle is almal gefokus op bepaalde uitkomstes wat bereik moet word eerder as om beginsels te beskerm. Dis waarskynlik ʼn selfs nog moeiliker realiteit vir baie Suid-Afrikaners wat al vir so lank op die ANC-speen is, maar net soos ʼn baba eers sy volle menswees kan bereik as hy aanbeweeg van die speen af. Die nuwe Suid-Afrika gaan net homself kan ontdek wanneer hy sy eie brood gaan soek.

Ons het al die hulpbronne, entrepreneurskap en ʼn arbeidsmark om ʼn dinamiese privaat sektor te laat herleef en self hierdie land van sy knieë te laat opstaan, maar al hoe ons dit gaan kan doen is om op te hou sekuriteit soek in ʼn staat wat nooit meer as die volgende halwe bord kos op die tafel gaan sit nie. Dit gaan vreesaanjaend wees, dit gaan onbekende terrein wees, maar dís wat dit beteken om ʼn mens te wees. Suid-Afrikaners is nie net monde wat gevoer moet word nie, ons is mense.

  • Albertus Liebenberg het verlede jaar sy BComHons-graad in menslike hulpbronbestuur aan die Universiteit Stellenbosch ontvang en is tans besig met sy meestersgraad in dieselfde veld.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.