#JongStemme: Geestesgesondheid – laat jou stem hoor

Deur Bernadette Hall

Bernadette Hall

Baie mense kies om hul geestesgesondheid en welstand te ignoreer omdat hulle bang is om daaroor geoordeel te word. Dit maak dit egter nog erger! Ek behoort te weet, want ek het ook ses jaar lank stilgebly. Geestesgesondheid het lig nodig; daar moet sonder skaamte en vrees daaroor gepraat word. Dit moet nie in die duister gehou word nie, sodat ons nie almal in die duisternis val nie.

Geestesgesondheid is ʼn onderwerp wat gereeld misgekyk word. Ek poog om lig te werp op hierdie onderwerp, maak nie saak hoe ongemaklik dit mag wees nie. Dit beïnvloed hoe ons dink, voel en optree. Dit bepaal hoe ons stres hanteer, keuses maak en met ander verbintenisse vorm.

Geestesgesondheid is in elke stadium van die lewe belangrik, maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie. Die pandemie het definitief getoon dat dit ʼn negatiewe impak het op ons geestesgesondheid. Dink net aan almal rondom jou: Hoe gaan dit werklik met hulle? Hoe gaan dit werklik met jou? Ek het persoonlik beleef dat die pandemie ons breek; ek het dit gesien by van die mense wat na my toe kom vir raad, of selfs net wanneer ek die mense om my waarneem. Ons maak asof ons sterk voel en sterk is, maar aan die binnekant is ons besig om te breek.

Ek is klaar daarmee om in die donkerte te bly. Ek wil hê mense moet hul geestesgesondheid ernstig begin opneem en dit in hul eie hande neem. Ons kan nie vir altyd so lewe nie. Die lewe is bedoel om geleef te word! Die lewe is bedoel om liefgehê te word. Ek wil hê mense moet hierdie lees en geïnspireer word om beheer te neem en hulp te kry, al is dit net om met iemand te praat.

Ek het stilgebly oor my pyn, my gevoelens, my emosies en dit het amper my dood beteken. Ek wil nie hê enigiemand anders moet dieselfde ervaar nie. In die jaar 2018 was ek 19 jaar oud en daar is vir my gesê dat ek van jongs af depressie het. Ek is met epilepsie en bipolêre versteuring gediagnoseer. Ek het dit my hele lewe lank gehad, maar omdat ek stilgebly het, het niemand dit agtergekom nie.

Ek wil nie hê ander moet so lank wag om hulp te kry nie. Jy moet nie wag totdat jy breek om jou hart te begin regmaak nie. So, hierdie is jou teken. Kry die hulp, kry die behandeling, word geestelik gesond! Moenie wag totdat dit te laat is nie.

Daar is hoop vir diegene wat ongelukkig, hartseer en kwaad is. Daar is hoop vir hulle wat gemengde emosies het. Hoe? Jy is nie alleen nie – jy is nooit alleen nie! Daar is talle artikels wat sê dat een uit elke ses Suid-Afrikaners aan angs of depressie ly. Dit is verbysterend en ʼn werklike probleem.

Ons het hulp nodig. Ken jy daardie sterk vriend of vriendin wat altyd daar is vir almal anders? Wie is daar vir hom of haar? Vra hulle hoe dit gaan. Vra almal rondom jou hoe hulle werklik voel. Wees ondersteunend. Moenie aanvaar dat almal om jou “oukei” is nie, want die kanse is groot dat hulle nie is nie. Niemand ly alleen nie. Daar is baie wonderlike ondersteuningsnetwerke en gemeenskappe, jy moet hulle net opspoor.

My raad is net om nooit moed op te gee nie en nooit in te gee nie. Ons is almal mense en ons moet vir onsself, en ander, sorg.

As ons as ʼn gemeenskap en as ʼn land bymekaar kom, kan ons help om die stryd wat deur ons in die gesig gestaar word, te beveg. Ek wil hê hierdie boodskap moet wyd en syd versprei word om soveel mense as wat ek kan te help. Ek wil nie en sal nooit opgee nie. Ons moet ander help, maar die belangrikste persoon om te help, is eerstens jouself. Kom ons wees ʼn baken vir diegene wat sukkel met hul geestesgesondheid.

Sê jou sê. Deel jou storie. Laat jou stem gehoor word!

  • Bernadette Hall is 22 jaar oud en bly op ʼn plaasdorpie in die Noord-Kaap. Sy het onlangs vir ʼn diploma in dieregesondheid aan Unisa begin studeer.

Indien jy hulp benodig met jou geestesgesondheid, kontak gerus die Suid-Afrikaanse depressie-en-angs-groep op 0800 567 567.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.