#JongStemme: Gemaskerde identiteit

Deur Lindy Steyn

Lindy Steyn

Wie is jy as die wêreld se etikette van jou verwyder is, wanneer jy op jou eie is en jou masker sonder skaam kan afhaal en asemhaal? Wie is jy sonder die “likes”, “comments” en “shares” op sosiale media? Weet jy werklik wie daardie mens is, of skuil jy selfs daaragter in jou alleentyd?

Hoe meer mense ek langs my pad ontmoet, hoe meer besef ek die erns van die saak dat ons samelewing ʼn identiteitskrisis beleef. Ek weet nie of ons net sosiale media kan blameer nie, maar dit speel verseker een van die grootste rolle. ʼn Mens “moet” immers die jongste tendense volg en op die algoritme-trein klim, anders is jy nie “in” nie.

Dis hartseer hoe ons soek na aanvaarding in die tydelike dinge van die wêreld. Dit is ʼn eindelose siklus wat homself herhaal en as jy weer kyk, bevind jy jouself in ʼn plek van onsekerheid en met al die etikette wat jy langs die pad versamel het.

Die waarde van die ontdekking van wie jy is, is só onvervangbaar. As jy eers begin verstaan waarom jy reageer soos jy doen of wat jou sterkpunte en swakhede is, begin die ligte stadig, een-vir-een aangaan. Jy is geskape soos jy is vir ʼn rede. Jy kan nie konstant om mense wees as jy ʼn introvert is nie en jy kan ook nie heeltyd op jou eie wees as jy ʼn ekstrovert is nie. Iewers moet jy herlaai en lewenslus kry.

Wanneer jy jouself begin verstaan, jou ware identiteit in die Here ontdek en ontleed, gaan daar soveel deure oop en begin jy die mense om jou ook verstaan. Elkeen van ons verskil en mens moet leer hoe om met mekaar te kommunikeer deur daardie verskille.

ʼn Mens is ʼn baie interessante wese. Ek vind dit vreeslik fassinerend om mense se aksies te ontleed, dit wat tussen die lyne gesê word. Ek dink soms besef mense nie hulle sê meer as net die woorde wat hulle praat nie. Jy kan valsheid agter mooi beloftes hoor, of liefde agter kwaai woorde. Daar is soveel meer om te ontdek as dit wat jy kan sien.

Die jongmense van vandag is vasgevang in alles wat die wêreld wil hê hulle moet wees, selfs baie volwassenes. Hoe gaan jy in ʼn verhouding met ʼn geliefde, om ʼn ander ten volle te verstaan en lief te hê, as jy nog nie self weet wie jy is of liefhet nie? Die enkelpad is van uiterse belang. Dit is ʼn belangrike tyd in jou lewe waar jy jou menswees ontdek, so mooi soos Hy jou aanmekaargesit het.

Eendag as jy jou oë uitvee het jy ʼn familie en is jou aandag verdeeld tussen vrou of man en kinders, en moet ʼn mens iewers tyd maak vir selfinvestering. Ek hoor soveel ouers hieroor praat, wat nou eers die belangrikheid van die enkelpad verstaan, en besef dit is ʼn rede van vele foute wat begaan is.

Ben Shapiro het ʼn video op YouTube, Why aren’t you 60?, en alhoewel dit na iets anders verwys, kan dit ook in ʼn voorbeeld van identiteit gebruik word. Jy kan nie as 60 jaar oud klassifiseer as jy 21 is nie, die feit bly staan dat jy 21 jaar oud is. Dieselfde met identiteit, dit is wie jy is.

Die soeke na identiteit kan ʼn baie moeilike pad wees. Jy gaan langs die pad mense uit jou lewe moet sny wat nie goed is vir jou nie, mense wat jou menswees net nie waardeer nie. Dit kan redelik eensaam word, want vriende raak min. Gelukkig ontdek jy die goud in die hartsmense wat wel bly en waardering wedersyds is. Ek sê as jy alleen kan wees sonder om alleen te voel, is dit ʼn groot sprong in die regte rigting. Jy moet besef dat jy nie alles vir almal kan beteken nie en nie almal gaan van jou hou nie – en dit is oukei!

Daar is niks so mooi soos iemand wat weet wie hulle is en weet waarna hulle streef in die lewe nie. Iemand wat weet hulle kan nie sonder Hom nie, want dáárdie identiteit kan geensins verlore raak in die wêreld nie, dáárdie identiteit kan nie weggeneem word nie. Al skreeu die wêreld dat jy nie goed genoeg is nie, weet jy, jy is waardig.

Identiteit is een van die belangrikste ontdekkings wat jy in jou lewe sal moet maak, voordat jy die wêreld aanpak en jou reis neem na waarheen jy op pad is.

Doen die wêreld, maar meer jouself, ʼn guns – een van die mees belowende – en haal jou masker af. Smyt dit in die naaste asblik, net soos jy in elk geval elke dag wil doen met die huidige een wat jy moet dra. Wees anders omdat jy is, nie omdat jy wil wees nie.

Die ware jy verdien om geleef te word – leef en beleef!

  • Lindy Steyn is ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-alumnus en voltydse studentewerwer aan Akademia en is tans besig met haar nagraadse studies in bemarkingsbestuur aan IMM Graduate School.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.