#JongStemme: Gen Z en die post-pandemie-ekonomie

Deur Brigitte Geyer

Brigitte Geyer.

Met al die pandemie-perspektiewe, wat met hul hoë infeksiekoers alle mediaplatforms vining-vinnig aangesteek het, is u teen dié tyd sekerlik siek vir artikels oor die virus wat die wêreld op haar kop gedraai het.

Eerder as om by te dra tot die knorrigheid wat hiermee gepaard gaan, sal ek poog om lig te werp op dit wat ons in hierdie ekonomies troebel tyd kan leer van die wêreld wat anderkant slotte en grendels vir ons wag – en die generasie wat besig is om klik-klik die fondasies daarvan te lê.

As student – wat my buitemuurse uitstappies tydens die afgelope paar maande op een hand kan tel – kan ek getuig: die korona-infeksie bring introspeksie. Veral oor dit wat ná die pandemie vir ons voorlê.

Generasie Z, dit wil sê ek en my medestudente en jong werkendes in hul vroeë twintigs, bevind onsself tans in ’n eienaardige posisie: aan die een kant is ons die laaste groep mense wat vir maande lank afgesny sal wees van ons opwindende jongmenslewe. Ons het immers plekke om te wees, nuwe mense om te ontmoet en 21ste-partytjies om te reël. Tog, ten spyte hiervan, is ek oortuig daarvan dat ons generasie die beste aangelê is om hierdie distopie in ’n sukses te omskep.

Die jeug van vandag word dikwels uitgebeeld as lui, aandagafleibare lummels wat verwag dat alles, van goedere tot geleenthede, op ’n skinkbord na hulle aangedra moet word. Dit is egter ’n waansinnige wanpersepsie. Die nuwe generasie wat, soos ek hier skryf, besig is om die werksmag te betree, is eenvoudig anders gerat as diegene wat hulle voorafgegaan het. Die kompartementalisering van verskillende aktiwiteite en lewensruimtes is, byvoorbeeld, eenvoudig nie meer ’n realiteit nie.

Waar ook al ek gaan, dra ek ’n onvermybare stimulasiestroom met my saam: nimmereindigende sosialemediaplasings, podsendings, e-posse, oproepe en WhatsApp-boodskappe met inligting oor klerewinkels, musiek, banke, stroomdienste, leermateriaal en werkopdragte en selfverbetering-apps – te alle tye beskikbaar en mededingend aan die stoei vir aandag. ’n Wêreld propvol geleenthede en verpligtinge, knus in ’n broeksak verpak. ’n Oomblik se afskakel, is ’n oomblik gemors. ’n Webtuiste wat nie dadelik en duidelik sy sous werd is nie, verdien nie jou kosbare tyd nie.

Dit beteken nie dat ons in alle sfere van die lewe kitsvergoeding verwag of nie bereid is om toegewyd te werk nie – slegs dat ons legio opsies het om uit te kies en te weet wat ons wil hê. Hierdie gedrag spreek ook nie noodwendig van ’n swak houding of werketiek nie, maar eerder van ’n oorlewingstrategie te midde die informasie-oerwoud waarbinne ons onsself sedert kindsbeen bevind.

Dus, eerder as om die jonger generasie te beledig en te beskuldig, moet hierdie gretige nuwe ekonomiese rolspelers geraadpleeg word aangaande die behoeftes, begeertes en bewegings wat besighede se sukses voortaan sal bepaal.

Alhoewel ons ekonomie tans sonder twyfel ’n harde hou vat, kan hierdie tyd ook in ’n sin gesien word as ’n versnelling van die Vierde Industriële Revolusie (4IR), waar maatskappye moet spartel om tegnologies by te bly, hul aanlynteenwoordigheid te versterk en selfs hul interne strukture geheel en al te herevalueer ten einde ’n werkomgewing of diensverskaffingstelsel te skep waarvoor Generasie Z ons al lewens lank (onwetend) voorberei.

Die wêreld wat vir ons voorlê, is een van verwarring én verwondering; ’n wêreld waar entrepreneurs en werkgewers beter aanpas by die werkstyl en verwagtinge van hul werkmag en verbruikers; waar studente en jong werkendes hulself meer spesifiek kan rig op die nodige vaardighede om in hierdie omgewing te floreer en waar ’n nuwe generasie ’n toonaangewende rol kan speel in die bou van ’n meer produktiewe, interaktiewe en vooruitstrewende samelewing.

  • Brigitte Geyer is ’n derdejaarstudent in BA (Regte) aan die Universiteit van Pretoria. Sy dien as voorsitter van die UP-debatsvereniging en is mede-aanbieder van die Afrikaanse poësie-podsending, huiDIG.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.