#JongStemme: Geskiedenis-vrees: waarom wil ons nie van gister hoor?

Deur Daniël Goosen

Daniël Goosen.

Vir een of ander rede is ons jongmense nie vreeslik gepla oor die geskiedenis nie. Afgesien van die regering se druk om geskiedenis ’n verpligte vak tot en met matriek te maak, en die verstaanbare weerstand daarteen, het jongmense ’n verdere probleem. Iets weerhou ons daarvan om werklik met die geskiedenis om te gaan, hetsy dit ’n vak op skool of ’n kulturele aktiwiteit van selfrefleksie is.

Daar is natuurlik verskeie redes hiervoor. Dit kan die droë aard wees waarop geskiedenis op skool en universiteit aangebied word – ’n obsessie met feite, datums en lang onpersoonlike name, eerder as om die stories kreatief te vertolk. Een van die ander moontlikhede is dat die hele globale kultuur waarin ons tans leef, die verskynsel van môre (die toekoms) as sodanig bo enige ander ding of tydperk ag. Ons streef altyd na dit wat nuut is. Vooruitgang ter wille van vooruitgang.

Die vooronderstelling ten grondslag van die globale opvatting is dat daar nog nooit ’n beter tyd was as hierdie oomblik (die nou) nie, wat natuurlik impliseer dat môre nog beter gaan wees. Ek bedoel hier beter ten opsigte van tegnologiese ontwikkeling, wetenskaplike navorsing en (in sekere gevalle) ekonomiese welvaart – wat gesien word as per definisie goed vir die mensdom. As ons dan per ongeluk terugkyk in die verlede deur hierdie toekomsgefokusde lens, kan ons nie help om op ons voorouers “neer te kyk” nie. Hoe primitief moes hulle nie gewees het nie, dink ons. Ons tegnologiese speelgoed is soveel beter as hul speelgoed, dink ons. Daarom moet dit mos ook waar wees dat ons idees en hoe ons konseptueel omgaan met ons werklikheid, uiteraard beter is as wat dit in die verlede was. Hoekom moet ons dan omgee oor die geskiedenis? Volgens hierdie logika, kan ons niks by ons voorouers leer nie of enigsins wat kennis betref, by hulle baat nie.

Wat dan nou gemaak? Hierdie weerstand teenoor die geskiedenis, maar ook teenoor die literatuur, teologie, filosofie en bykans al die geesteswetenskappe vind sy oorsprong in die sciëntisme. Hierdie term, alhoewel nie nuut nie, beteken basies dat alle kennis tot wetenskaplike kennis gereduseer kan word. Met ander woorde, die wetenskap in al sy verskeie gedaantes, word gesien as die enigste manier om die hele skepping te verstaan en alles wat waar is, te kan bevestig. As die wetenskap dit nie kan bewys nie, is dit dus nie waar nie.

Daar is egter massiewe probleme met hierdie perspektief. Die eerste en dalk belangrikste een, is dat die wetenskap self nie hierdie teorie kan bevestig nie. Hoe, by wyse van die wetenskaplike metode, kan jy bevestig dat die wetenskap alleen die reg op die waarheid het? Dit is eenvoudig onmoontlik. Die wetenskap kan uiteraard baie van ons vrae beantwoord. Dit kan vir ons tot in die fynste detail verduidelik hoe sekere verskynsels plaasvind. Dit kan vir ons verduidelik waaruit dinge bestaan. Dit kan vir ons vertel hoe sekere dinge, asook onsself, ontstaan en ontwikkel het om te kom waar ons tans is. Tog, die belangrikste vraag vir die mens was nog altyd “waarom”. Dit is juis dié vraag wat die wetenskappe nie kan antwoord nie.

Die waarom-vraag is die eerste vraag wat die meeste kleuters vir hul ouers vra en dit is ook dieselfde “waarom” wat daardie selfde ouers teen die mure kan uitdryf. Die kern van hierdie vraag is nie geskoei op die fisiese werkinge van die skepping nie, maar op die skepping as verskynsel self. Nog meer, hierdie oeroue vraag by die mens vra nie hoe dinge werk nie, maar eerder hoe moet ek, as mens, met dinge te werk gaan. Wat is my rol binne my gemeenskap? Hoe moet ek optree teenoor die mense om my? Hoe moet ek pyn, fisiek of emosioneel, hanteer en verstaan? Al hierdie vrae is per definisie buite die bereik van die wetenskappe, want die aard van die dissipline self kan die meer menslike aspekte van ons bestaan nie kwantifiseer, optel of mee eksperimenteer nie. Vra maar vir enige sosiale wetenskaplike hoe moeilik dit is om empiriese feite oor die menslike psige bymekaar te skraap.

As daar met hierdie kategorieë gewerk word, kan mens sien dat selfs die geesteswetenskappe onder die “tirannie” van die wetenskapobsessie deurgeloop het. Ten diepste probeer die geskiedenis, die literatuur en die filosofie om hierdie waarom-vrae te beantwoord, maar tog ervaar ons dit nie meer so nie. Die tendens in die geskiedenis om net met detail en data te werk te gaan, is om die geskiedenis tot ’n pseudowetenskap te reduseer. Net dit wat empiries waar is, volgens hierdie lees van die geskiedenis, moet bestudeer word. Daarom die alewige fokus op datums en bewysbare feite.

Natuurlik kan die geskiedenis nie sonder hierdie elemente bestaan nie, maar dit is ook maar net stap een om werklik met die geskiedenis kennis te maak. Hierdie kennismaking vind eintlik eers werklik plaas as mens met die historiese mense te doen het, as ménse. Evolusionêre bioloë meen dat die mens al minstens twee honderd duisend jaar bestaan in die vorm soos wat ons hom tans ken. Net omdat jou voorouers ’n honderd of ’n duisend of selfs tienduisend jaar voor jou geleef het, beteken nie vir ’n oomblik dat hulle onnosel was nie. Met ander woorde, as die grondwerk deur die geskiedkundige feite en milieu gelê is, begin die wonder van die geskiedenis werklik, naamlik die narratief – die storie wat die geskiedenis is.

In die geskiedenis ontmoet ons vroeër weergawes van onsself, wat met soortgelyke probleme gekonfronteer word en wat op daardie probleme op sekere maniere gereageer het. Partykeer lei hul antwoorde op hul omstandighede tot oorwinning, partykeer vermeerder dit hul swaarkry. Dit is in hierdie wêreld waar ons nie net met ons herkoms kennis maak nie, maar werklik te doen kry met patrone van menslike gedrag soos wat dit oor die eeue heen uitgespeel het. Soos wat kleuters hul ouers fyn waarneem en dan die karakters van “ma” of “pa” in ’n speletjie van huis-huis beliggaam, so maak ons ook kennis met kernelemente van wat dit beteken om mens te wees soos wat dit in ons daaglikse lewens uitspeel. Met goeie interpretatiewe gereedskap word geskiedenis nie ’n droë analise van ’n lyk nie, maar eerder ’n blik op jouself.

  • Daniël Goosen doen vanjaar ’n internskap by die FAK. Hy beskik oor ’n BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.