#JongStemme: Grendelstaatregulasies – redding of stille dood?

Deur Marli Koekemoer

Marli Koekemoer.

Ná 119 dae van grendeltyd en isolasie sit ek, soos vele ander Suid-Afrikaners, vasgenael voor die kassie, want watter een van ons leefstylsondes is volgende op die lys van verbode vrugte – “net nie sjokolade nie” is my skietgebed. Die spanning is so tasbaar in die lug soos die afwesigheid van sigaretrook, want die inhoud van vertroulike dokumente verprei vinniger as fopnuus oor Covid-19. En sowaar, die gevreesde aankondiging: Openbare skole sal gesluit word vir vier weke en die 2020-skooljaar sal aangepas word.

Terselfdertyd is ek sprakeloos, maar my vrae legio. Daar is ʼn duidelike tendens wat die afgelope 119 dae begin kop uitsteek het en dít is die spreekwoordelike doring in my vlees wat my vandag meer as gewoonlik pla. Die absolute absurditeit eerstens van die grendelstaatreëls en tweedens die toepassing van hierdie reëls. Hierdie groter wordende sweer lê baie dieper as die pyn wat unies het met skole wat al in Juniemaand heropen het. Ek kom later terug na hierdie knelpunt.

Elf dae gelede het die president ons toegespreek, onder meer oor die onmiddellike verbod op die verkoop en verspreiding van alkohol en dat die dra van maskers nou wetlik verpligtend is. Is dit nie ironies dat daar onlangs beeldmateriaal versprei is waarin daar duidelik gesien kan word hoe meer as 50 mense ʼn begrafnis bywoon en weinig van hierdie persone maskers dra nie. Tog is daar geen nagevolge vir hierdie persone nie; aan die ander kant word ʼn gesin gearresteer omdat hulle dogtertjie van hulle weghardloop om op die strand te gaan speel.

Die skole wat wéér sluit het baie meer verreikende gevolge as waarna dit op die oog af lyk. Die een helfte van die massa argumenteer graag dat hulle eerder hulle kinders tuis onderrig as om langs ʼn graf te staan. Eerstens is dit belangrik om uit te wys dat onder “normale” omstandighede in Suid-Afrika (voor Covid-19) kinders tussen die ouderdomme van een en 19 jaar ʼn 1 uit 1 000 kans het om te sterf teenoor die 1 uit 76 878 kans om van Covid-19 te sterf. Volgens Unicef sterf daar ook jaarliks 3,1 miljoen kinders as gevolg van hongersnood. Is dit nie ʼn baie groter sweer as Covid-19 nie?

Verder veroorsaak griep tussen 6 000 en 11 000 sterftes per jaar net in Suid-Afrika. Dit is dus meer as wat tot op hede in Suid-Afrika aan Covid-19 gesterf het. En as my navorsing my nie in die steek laat nie was daar nog nooit ʼn totale grendelstaat ingestel as gevolg van griep nie. Steeds is baie ouers oortuig daarvan dat Covid-19 die gevaarlikste ding is wat ons land nog getref het. Verskeie navorsingsverslae deur betroubare persone (anders as tradisionele leiers, unie-voorsitters en doemprofete wat gedurig om een of andere onverklaarbare rede geraadpleeg word) dui aan dat kinders se kanse om Covid-19 op te doen en daarvan te sterf slegs 0,69% is.

Hierdie gevolge strek baie verder as net nog ʼn maand van vakansie vir kinders. Die feit dat die skooljaar moontlik eers in 2021 afgehandel gaan word, beteken dat universiteite en ander tersiêre instellings ook eers later in 2021 kan open. Met ander woorde ongeveer vier maande gaan verlore. Graduandi gaan vier maande later eers kan begin werk om ʼn daadwerklike bydrae tot die land se wankelende ekonomie te lewer. Die streng grendelstaat (vlak 5) het ons land reeds R285 miljard rand gekos. Vier maande klink beslis nie meer só lekker nie!

Daar is egter ʼn ander groter sweer wat dreig om die ekonomie heeltemal lam te lê: die feit dat baie ouers weer vir vier weke nie ʼn inkomste gaan verdien nie. Hulle is verantwoordelik om na hulle kinders om te sien. Vir baie werkende persone geld die geen werk geen betaling beginsel. Dit beteken dat vir nog vier weke baie gesinne nie sal kan bekostig om self in hul basiese behoeftes te voorsien nie. Ek weet baie mense gaan probeer argumenteer dat daar juis toelaes van toepassing is vir hierdie spesifieke redes, maar weer eens word baie mense se aansoeke of afgekeur of raak verlore in die stelsel en kry geen ondersteuning van die regering nie. Verder word die rekening vir die hulpfonds deur mense met lang vingers misbruik – net ʼn gewone Vrydag in Suid-Afrika.

Ek moet toegee dat propaganda deels die skuld dra vir die chaos en paniek wat heers rakende Covid-19 en dat dit waarskynlik deel is van ʼn groter politieke prentjie. Dit gaan my verstand te bowe dat baie van die regering se besluite gegrond word op druk van taxi-bestuurders en unies. Besluite wat beslis nie in ons land se beste belang is nie word links en regs gemaak en dit kniehalter ons ekonomie nog verder. Dit is ʼn bose kringloop en sonder daadwerklike ingryping gaan ons land vinniger sink as die Titanic en gaan die laaste note van “Nkosi Sikeleli’Afrika” ʼn stille en donker dood sterf.

  • Marli Koekemoer is ʼn vierdejaar BA LLB-student aan die Universiteit van Pretoria. Sy is nog altyd passievol oor redenering en debattering en dit is haar opinie dat ons land dit tans broodnodig het.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan ·

In 2018 het 36 810 mense in SA weens griep gesterf. Elke jaar sterf meer as 63 000 aan TB. Maar ‘n verwagte 15 000 covid sterftes is ‘n pandemie!!! Huidige syfers dui daarop dat DERTIGMAAL meer mense weens die inperkingsmaatreëls as deur covid-19 gaan sterf. Hopelik gaan die hoofrolspelers, die politici en die media tot verantwoording geroep word.

JJ ·

en vanoggend se koerante berig dat die VVO nou sterftes as gevolg van hongersnood voorspel…

Anoniem ·

Die regering sal hulself weer probeer verontskuldig deur te sê dat hulle op inligting van die WGO staatgemaak het. Hulle sal nooit erken dat dit bloot as front gebruik is om Blanke besighede te vernietig nie.

OW ·

Jou syfers mag dalk reg wees,maar die siektes wat jy noem is lankal nie meer pandemies nie.Griep en TB kom endemies in die wêreld voor en daar is teen middels beskikbaar wat dit kan beheer.Met ‘n pandemie wat ‘n epidemie is wat wêreldwyd versprei is,is geen teenmiddel beskikbaar nie.Dit veroorsaak dat dit moeilik is om te bepaal wat die omvang en uitwerking van die huidige pandemie wêreldwyd gaan wees.Die verskil tussen ‘n pandemie en ‘n endemie is dat ‘n pandemie vinnig verprei en akuut is,terwyl ‘n endemie chronies is en beperk is tot sekere gebiede wêreldwyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.