#JongStemme: Het jy jou naaste (en boelie) lief soos jouself?  

Deur Ni-Colé du Plessis

Ni-Colé du Plessis

Boelie: “Gedrag met die bedoeling om ʼn ander persoon seer te maak, te beseer of te dreig. Dit is ʼn gedrag wat ʼn kind magteloos, bevrees of ongemaklik laat voel.”

My oupa sê altyd die belangrikste gebod in die Bybel is dat jy jou naaste soos jouself moet liefhê. Nou die vraag op almal se lippe: Sluit dit jou boelie in? Die antwoord is eenvoudig, ja!

Laat ek verduidelik … Van kleintyd af word ons geleer om nie met ander lelik te wees nie, en as ander teenoor óns lelik is, moet ons dit dadelik onder iemand van ʼn hoër gesag se aandag bring. Niemand het ooit vir ons gesê dat ons met ons boelie ʼn gesprek moet aanknoop en vrae vra nie, maar eerder net om onsself so gou as moontlik uit die situasie te verwyder.

Ek moet bieg, dit is presies wat ek gedoen het, totdat ek mense begin verstaan het. As ʼn 18-jarige is ek nog relatief onervare oor hoe die wêreld daarbuite werk, maar luister asseblief na hierdie onervare, 18-jarige perspektief. Niemand boelie sonder dat hulle self geboelie word nie, hetsy deur ander of deur hulself. Deur my mening hieroor te lug, regverdig ek glad nie boeliegedrag nie, maar wil ek julle wel aanraai om in sekere gevalle ʼn ander benadering daarteenoor te neem.

Ongelukkig leef ons vandag in ʼn wêreld waar dit makliker is om te aanvaar dat die wêreld stukkend en gemeen is en eerder mure daarteen op te bou as wat ons dit sal verander. Mense is in ʼn konstante stryd met mekaar en ook met hulself.

Liewe mense, vandag wil ek jou aanraai – moenie ʼn boelie word omdat j‎y geboelie word nie. Probeer eerder liefhê en red wat nog te redde is.

Lukas 6:31 lees: “Behandel ander mense soos jy self behandel wil word.” Ek vra nie van jou om jou boelie se beste vriend te word nie, maar ek vra wel van jou om te leer om te verstaan. Verstaan éérs waarom die persoon doen wat hy/sy doen voordat jy daarop reageer. Sodra ons kan leer om mense te verstaan eerder as om blatant net te baklei, is ons al ʼn stappie nader aan ʼn liefdevolle wêreld, eerder as ʼn gemene en gebroke een.

Ek is vas oortuig dat ons die wêreld kan verander deur lief te hê en om te gee; al is dit elke dag net ʼn klein bietjie.

Ek sluit met die woorde van Jo Black af: “Wees iemand wat almal soos ʼn iemand laat voel, want niemand verdien om soos ʼn niemand te voel nie. Hulle gaan dink ons is mal, maar dis oukei, want die mense wat mal genoeg is om te dink hulle kan die wêreld verander, is gewoonlik die wat presies dít doen.”

  • Ni-Colé du Plessis is ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Kempton Park asook vanjaar se hoofdogter.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eclectus ·

Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan maak dit duidelik dat jou naaste slegs dié is wat aan jou goed doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.