#JongStemme: Hierdie is Suid-Afrika

Deur Ansie Bylsma

ansie Bylsma.

Baie welkom hier in ons land. Ons het van die wêreld se beste sportsterre en mooiste vroue. Ons natuurskoon is vanuit ʼn ander wêreld en ons diversiteit is enig in sy soort. Maar moenie dat dit jou flous nie. Agter die gordyn ken ons ʼn ander gesig. Waar daar ʼn rokie trek, brand daar ʼn
vuur … en die afgelope paar dae sien ons baie rook.

Hoekom?

Hierdie is Suid-Afrika.

Ons was besig met middagete in my ouma se kombuis toe die tannie op RSG die twaalfuur nuus begin lees. Ek moes – soos altyd – opspring en die radio vir Oupa harder sit sodat ons sommer so terwyl ons eet na die nuus kon luister.

“Die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika het oudpresident Jacob Zuma tot vyftien maande tronkstraf gevonnis vir minagting van die hof.”

Om die etenstafel kon jy ʼn speld hoor val en almal het vir mekaar gekyk. Wag, wat? Kan dit waar wees? Ek dink ons almal het al ʼn geruime tydjie gelede met die feit vrede gemaak dat Zuma nié die binnekant van ʼn tronksel sal sien nie, ten spyte van sy hand in ons land se ondergang.

Hoekom?

Hierdie is Suid-Afrika.

Ek sien in die nuus dat Zuma die hooggeregshof genader het om die uitspraak van die Konstitusionele Hof teen te staan. As regstudent het daar op daardie oomblik ʼn paar gedagtes deur my kop gegaan. ʼn Hooggeregshof is dan laer op die hiërargie as die Konstitusionele Hof? Hoe sal dit werk? En ás dit werk, wat beteken dit vir ander Konstitusionele Hof-uitsprake? Gaan ons regstelsel ons faal?

Hoekom?

Hierdie is Suid-Afrika.

ʼn Paar dae later hou ons die verrigtinge by Nkandla dop. Duisende mense drom saam, slegs ʼn week nadat ons land na vlak 4 van inperking verskuif en alle byeenkomste verbied is.

Hoe kan enigiemand hierdie optrede regverdig? Duisende mense wat die inperkingsreëls verontagsaam kom niks oor nie, maar as die restaurant op ons dorp dit net sou wáág om mense te laat sit en eet (sodat die mense wat daar werk bloot betaal kan word), sou die eienaar moes les opsê.

Hoekom?

Hierdie is Suid-Afrika.

My boetie kom maak my Donderdagoggend wakker met die nuus dat Zuma toe wél tronk toe is. Kan jy nou meer? Min het ons geweet wat vir ons pragtige land wag.

Dit was in KwaZulu-Natal wat die gebeure ontvou het. Paaie is toegemaak en vragmotors is aan die brand gesteek. Blykbaar kom die mense in opstand teen die feit dat Zuma sy welverdiende vonnis begin uitdien het. Soos ek oor die gebeure lees, wonder ek net wat in die betrokke mense se koppe aangaan? Hoe dink hulle gaan dit help om te brand en te breek?

Wat meer is, wat gaan hulle doen as Zuma gevonnis word vir sy eintlike misdade? Die rede waarvoor hy nou in die tronk is, is bloot omdat hy slegte maniere het en nie die hof genoeg gerespekteer het om op te daag toe hy moes nie. Weet al sy betogende aanhangers waarvoor hy éintlik aangekla word? Besef sy vernietigende ondersteuners dat hy deel is van die oorsaak van die armoede waarin hulle leef?

Gauteng was volgende. Ons sien videogrepe van onder andere ʼn Makro wat erg onder die vernietigende hande van betogers deurgeloop het en van supermarkte wat brand. Winkels word links en regs besteel en in sommige gevalle breek hulle sommer net die produkte.

Hoekom?

Hierdie is Suid-Afrika.

Mense tree in om hierdie chaos te probeer stopsit en ʼn sekere iemand wat van rooi hou, probeer dit in ʼn rasseherrie op sosiale media omskep. Ons sien verdere videogrepe van hoe die polisie die plunderaars in hulle spore laat omdraai. Hulle gryp wat hulle kan en hardloop. Die skade is reeds gedoen.

Ek lees iemand se raakvatopmerking op Instagram: “Zuma het die land se ekonomie vernietig en sy aanhangers vernietig die res.”

Menigte mense op sosiale media meen dat die inperking en ander faktore tot armoede gelei het en dat hierdie betogers slegs doen wat hulle doen om aan die lewe te bly. Toe ek laas gekyk het, het ek nie ʼn platskermtelevisie, ʼn drukker, ʼn paar Nike-oefenbroeke of ʼn handvol slimfone nodig gehad om aan die lewe te bly nie.

En ja, ek is bevoorreg genoeg om nie in armoede te leef nie, so dalk tel my sê nie, maar ek weet vir ʼn feit dat as ek wél in armoede geleef het, ek nie ons ekonomie verder sou vernietig vir ʼn man wat die oorsaak is van menige ekonomiese probleme wat ons land ondervind nie.

Hierdie aaklige gebeure in ons land gaan lankal nie meer oor Zuma en die feit dat hy agter tralies is nie. Dit het ʼn verskoning geword om te steel en te breek. En dié wat so heelhartig aan die chaos deelneem is dié wat die hardste daaronder gaan ly.

Baie welkom in Suid-Afrika. Ons praat vlot korrupsie en ons nasionale sport is onregverdigheid. Ons kan klipgooi voor ons kan loop en wanneer ons nie ons sin kry nie, brand ons sommer ʼn supermark of twee af.

Hoekom?

Hierdie is Suid-Afrika.

  • Ansie Bylsma, ʼn derdejaar- LLB-student aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is ʼn uitgesproke mens en trotse plaaskind wat net buite die pragtige klein dorpie Ohrigstad in Limpopo woon.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tanniepetoors ·

Was daar maar nog ‘n paar miljoen wat jou sienwyse deel. Goed gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.