#JongStemme: Hoe gesond is jy en sosiale media?

Deur Karla Jonker

Karla Jonker.

Selfbeeldprobleme – probleme wat in talle verskillende vorme, verkillende maniere en verskillende grade voorkom. Dit is ʼn sensitiewe onderwerp en een wat al hoe meer algemeen in ons moderne leefwyse word, want hierdie struikelblok word aangevuur. Daar word elke dag ʼn vuur onder hom warm gemaak deur een van die mensdom se indrukwekkendste skeppings, naamlik sosiale media.

Sosiale media is een van die platforms wat die meeste druk op die jeug plaas. Dit is oorspronklik as ʼn onskuldige platform geskep waar inligting, idees en stories gedeel kan word; ʼn ruimte waar jy jou lewe as ʼn stukkie vermaaklikheid kan dokumenteer en ʼn manier om met mense van regoor die wêreld in kontak te bly. Dit het fantastiese voordele en verryk elke dag miljoene mense se lewens, maar vir Generasie Z is dit nie aldag so fantasties nie.

Mense gebruik hul sosialemediaplatforms om die glans en swierigheid in hul lewens te dokumenteer. Slegs die beste foto’s, video’s en herinneringe word uitgestal. Alhoewel dit slegs een klein gedeelte van iemand se lewe uitbeeld, skep hierdie gedeelte wat ʼn mens sien die illusie van ʼn perfekte lewe. Hierdie tendens is ook nie verkeerd nie, want wie wíl nou eintlik lelike foto’s en hartseer gebeurtenisse op hul platforms plaas? Wat wel verkeerd is, is die vergelyking wat op persoonlike vlak en op ander sosialemediabladsye op grond van die inhoud daarvan gemaak word.

Soveel keer was ek al deel van gesprekke onder my eweknieë waar hulle oor die invloed van sosialemediaplatforms op hulle selfbeeld praat. Dis nie altyd lekker om te sien hoe “perfek” iemand anders se lewe is nie, veral as jy op daardie oomblik voel dat jou lewe nie is soos wat jy dit graag sou wou hê nie. Dit gaan nie oor jaloesie nie, ook nie altyd oor jou eie omstandighede nie. Dit gaan slegs oor vergelyking; ʼn probleem wat al hoe meer en meer prominent in ons jongmense se lewens vesting vind. Ons kan nie anders as om ons lewens en wat daarin gebeur met die uitbeelding van ander se sosialemediaplatforms te vergelyk nie. Sodra jy iets sien wat iemand anders plaas, wonder jy van nature hoekom ek nie ook so gelukkig kan wees, of so goed kan inpas, of so sosiaal, so populêr, so mooi, of so wat ook al soos daardie persoon kan wees nie. Dikwels gebeur dit só dat die enigste persoon wat by jou sosialemediablad baat vind, jyself is.

Dit is vir jou lekker om al jou herinneringe en mooi foto’s op jou sosialemediablad te plaas, min wetende van die invloed daarvan op ander. Die invloed mag dalk goed en lekker wees vir mense wie saam met jou in daardie oomblik gedeel het, maar vir ander kan dit weer afbrekend wees. Dit kan juis daardie geleentheid wees waarna iemand nie uitgenooi was nie; die geleentheid wat iemand anders minder as jy geniet het. Of miskien is dit net ʼn herinnering aan iets wat hulle nie het nie. Jy plaas iets op jou sosiale media met die gedagte oor hoe dit jóú gaan laat voel, maar nie noodwendig oor hoe dit ánder gaan laat voel nie. Is dit selfsug, of is dit hartseer dat jongmense nie anders kán as om te vergelyk nie?

In ʼn poging om hierdie negatiewe invloed op ʼn mens se selfbeeld te verminder, of ten minste te verminder wanneer ʼn mens dit die meeste nodig het, het dit algemeen geword om jou sosialemediaprofiel vir ʼn tydperk te verwyder, totdat jy weer gelukkig voel met jouself en jou omstandighede, waarna jy dit dan weer kan aktiveer. Ongelukkig is daar geen ontsnapping van hierdie onskuldige platform wat in iets toksies verander het nie. Al voel ʼn mens nie altyd goed nadat jy op ʼn sosialemediaplatform was nie, sal niemand egter durf waag om daarsonder te leef nie. Ons is maar aan nuuskierigheid en die gevoel om aan iets te behoort, verslaaf. Sosiale media is ook al só genormaliseer dat daar aangeneem word dat almal aan ten minste een van die vele platforms behoort.

Generasie Z is dalk een van die eerste generasies van vele toekomstiges waar gevoelens van minderwaardigheid deel van ons daaglikse bestaan uitmaak. Dit is ook iets waarvan ons eintlik salig onbewus is, maar ons kan dit meesterlik wegsteek aangesien dit so algemeen is; ons het die gevoel al aanvaar. Dat dit ʼn gewoonte is, is hartseer, maar ongelukkig ook die reine waarheid.

Ek is onseker oor wie die werklike vyand nou eintlik is: Is dit sosiale media, of net die emosies wat sosiale media in ʼn mens na vore bring? Miskien lê die geheim daarin om die kuns aan te leer om jou sosialemediaprofiel tot jou eie genot te manipuleer. Volg eerder mense wie jou inspireer en wie ʼn positiewe uitwerking op jou emosies het. Leer ook om jou nie met ander te vergelyk nie. Moenie in hierdie moderne strik vasgevang word nie.

  • Karla Jonker is ʼn eerstejaarstudent wat tans BCom Internasionale Besigheid aan die Universiteit Stellenbosch studeer. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.