#JongStemme: Hoekom moet ek gaan stem?

Deur Ansie Bylsma

Ansie Bylsma

“Wat help dit ek stem?”

“Dit is in elk geval net ʼn plaaslike verkiesing.”

“Ons stemme beteken niks nie.”

“Oor ʼn paar jaar gaan ek oorsee wees, so ek hoef nie te stem nie.”

“Die ANC gaan in elk geval weer wen, so wat help my stem?”

Kom ons wees eerlik, dit is waar. As een ou nie stem nie, gaan dit nie ʼn verskil maak nie.

Ongelukkig is dit nie net een ou wat hierdie denkwyse koester nie. Na bewering het 13 miljoen burgers wat in hierdie verkiesing kán stem, nie geregistreer nie. Dit beteken dat minstens een uit elke drie mense wat mag stem, nie hulle kruisies gaan trek nie.

Artikel 19(2)(a) van die Grondwet van Suid-Afrika sê: “Elke volwasse burger het die reg om te stem in verkiesings vir enige wetgewende liggaam wat ingevolge die Grondwet ingestel is…”

Maar ons reg om te stem is soveel meer as net dit. Om te stem is om te kies.

Ja, jy kies ʼn politieke party, maar jy kies ook waarheen jou belasting gaan. Jy kies hoe lank dit gaan vat voor die slaggate in ons paaie reggemaak gaan word. Jy kies hoe lank skole moet wag vir boeke. Jy kies hoe die volgende Eskom‑ en SAL‑situasie hanteer gaan word. Jy kies hoe ons Olimpiese atlete beloon gaan word. Jy kies hoe teen gewelddadige betogers opgetree gaan word. Jy kies hoe ons ʼn volgende pandemie gaan hanteer. Jy kies hoe lank sekere dorpe sonder water gaan sit. Jy kies of grondonteiening sonder vergoeding ingestel gaan word.

Om daai kruisie te trek is soveel meer as net dit. Dit is ʼn verantwoordelikheid. Jóú verantwoordelikheid.

As jy al ooit gekla het oor misdaad in ons land, het jy ʼn verantwoordelikheid om te stem. As jy al ooit gevoel het jy word benadeel deur swart ekonomiese bemagtiging of taalbeleide of enige kwotastelsels, het jy ʼn verantwoordelikheid om te stem. As jy al ooit kwaad was oor die spel van korrupsie, wat ons land so goed speel, het jy ʼn verantwoordelikheid om te stem. As jy al ooit ontevrede was met enige iets in ons land, hoe dit bestuur en ontwikkel word, het jy ʼn verantwoordelikheid om te stem.

Ons land se verkiesings en wat daarmee gepaard gaan, beïnvloed almal en alles.

Ek is doodseker nie ʼn enkele persoon in ons mooie Suid-Afrika is 100% tevrede met die stand van sake in ons land nie… en daarom is ek vas oortuig dat geen burger ʼn verskoning het om nie te wil stem nie.

Laurie Buchanan het gesê: “Whatever you are not changing, you are choosing.”

Kies dus om verandering in ons land te bewerkstellig. Kies om op te staan vir jou regte – selfs jou basiese regte wat soms geskend word. Kies om jou deel te doen en daai kruisie te trek. Die mense wat in die groot stoele sit word deur ONS gekies. So kies en stem reg.

Al hoe ons land vorentoe kan gaan, is met drastiese verandering. En al hoe ons verandering kan aanbring, is met ingeligte burgers en hulle kruisies in die regte boksies.

Maak ʼn verskil en gaan stem vandag (1 November) in die plaaslike verkiesing… bietjie en bietjie en bietjie maak baie. En as jy dalk versuim het om dié keer te registreer, onthou volgende keer dat jy baie meer verdien as wat jy nou kry en die beste manier om dít te verander, is met jou stem.

  • Ansie Bylsma, ʼn derdejaar- LLB-student aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is ʼn uitgesproke mens en trotse plaaskind wat net buite die pragtige klein dorpie Ohrigstad in Limpopo woon.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
groenboer

Enige wegblystem is ‘n stem vir die ANC, ‘n party wat nog net a.g.v. kiesersapatie aan bewind is. Die meeste van sy voormalige ondersteuners stem glad nie meer nie. Dit llat die veld wyd oop vir ander partye – as hulle net stemme kan trek.

Helaas, ons Afrikaners verkies om liewer stemdag by die huis te sit en so tussen die braai en die bier deur bitterbekboodskappe op Facebook te versprei. Asof dit nou enige verskil gaan maak.

Nou ja, kom ons kyk hoe die af duimpies hier op my kommentaar akkumuleer…

Biltong

Jy moet stem sodat jy mag kla. Volgens party mense mag jy nie kla as jy nie stem nie.

Drikus

Die party waarvoor ek wil stem verdien nie meer my stem, hulle het nie ‘n millimeter gevorder met die mandaat van selfbeskikking wat ons in 1994 aan hulle gegee het nie. WAT NOU?