#JongStemme: Hoop begin by jou!

Deur Kayla Roets

Kayla Roets

Die jaar het ons almal soos ʼn tuimeltrein met wilde draaie op avonture geneem … Somtyds was die lewe maanskyn en rose, maar andersins was dit soos ʼn donker wolk wat soos ʼn dooie os op ons neergesak het. Dit is die dinge wat mense laat hoop verloor het – hoop om die dag met entoesiasme aan te pak en om te hoop dat alles weer goed sal gaan.

Ek hoop ons kan hierdie jaar gaan vakansie hou. Ek hoop dat dinge beter sal gaan. Ek hoop my punte gaan reg wees vir universiteit. Ek hoop ek gaan gesond bly en laastens hoop ek dat daar vanaand kos en elektrisiteit in ons huise sal wees.

Is dit genoeg om net te hoop? Help dit enigsins om te hoop? Is dit reg om te hoop? Hoop is so ʼn kort woordjie wat so gereeld in ons woordeskat voorkom. Ek hoop ek gaan ʼn miljoenêr word, ek hoop my take gaan betyds in wees, ek hoop dat volgende jaar beter sal wees …

Waar het hoop begin? Wel, in die Bybel in Genesis 1 lees ons hoe God die wêreld en die mens geskep het. Hier leer ons dat God gehoop het dat Adam en Eva gehoorsaam sou wees en sy bevele sou nakom. Adam het egter saam met Eva van die verbode vrugte geëet en toe gehoop dat God dit nie sou agterkom nie.

Alles wat ek sover genoem het, is hoop wat net tot wanhoop gelei het. Negatiewe hoop. Ek het gehoop, maar dit het toe nooit gebeur nie. Is dit dan goed of sleg om te hoop?

Desmond Tutu, wat in 1984 die Nobelprys vir vrede ontvang het, meen hoop is die vermoë om te kan sien dat daar nog lig is ten spyte van al die donkerte.

Is Tutu reg? Sal dit nie beter wees om realisties te wees en nie te hoop nie? Sal die lewe nie beter wees sonder hoop nie?

In Hebreërs 11:1 staan daar geskryf dat geloof die gewaarborgde verwagting is van dinge waarop gehoop word. So, is hoop goed of sleg? Wel, hoop laat my steeds na iets uitsien, al is dit sleg. Sonder die hoop dat ek goeie punte sal kry, sou ek nie eksamen kon skryf nie. Sonder die hoop dat die son môre nog sal skyn, sal ek nie kan gaan slaap nie.

En ja, hoop en geloof loop hand aan hand. As ek nie glo dat my hoop nie op wanhoop gaan uitdraai nie, sal ek nie kan hoop nie. Hoop is nie net iets wat bestaan nie. Dit is ʼn aksie wat by jou begin, wat die mensdom reg rondom jou kan laat verander. Met hoop wat by jóú begin, kan daar meer positiwiteit vorm en jou geloof sal ook ʼn duisend keer sterker wees as wat dit nou is. Met hoop sal drome meer realisties word, waar mense weer na iets kan uitsien. Want hoop begin net by jou …

  • Kayla Roets is ʼn graad 11-leerder aan die Hoërskool Pretoria-Noord.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.