Deur Robert-Andrew Adshade
Ek het baie nagedink oor my meningstuk vanjaar. Almal wil net vir ’n verandering iets anders lees as oor Covid-19. Ongelukkig sal 2020 vir die volgende eeu onthou word daarvoor. Vandag sit ons matrikulante van 2020 met onsekerheid in ons harte oor hoe 2021 vir ons gaan uitspeel. Dis tog ons toetrede tot die volwasse lewe, is dit nie?
Gedurende hierdie onseker tydperk, moes ek ongelukkig ook ’n paar mense, mense na aan my, aan die dood afstaan. Een van hulle was ons geliefde skoolhoof van die HTS Drostdy, wat my hele hoërskoolloopbaan vir my en die skool so baie beteken het. Dan was daar nog ander bekende mense in ons gemeenskap wat baie, baie siek was, maar wat met die hulp van die Here sterker geword het en die virus oorwin het.
Hierdie pandemie het regtig ons mensdom se hele leefstyl, dit waarin ons glo asook dit waarop ons maar net altyd staatgemaak het, kom platvee. Ek noem ’n voorbeeld. As ons hoor van ’n veldbrand wat op pad is, neem meeste van ons maar net aan dat daar genoeg brandweermanne sal wees of ander mense wat sal opdaag om te kom help. Alles sal tog gou weer oukei wees, ensovoorts. Hierdie keer wás mense daar, hulle het alles in hul vermoë gedoen om die virus te stop, maar op die ou einde het ons gelowiges, en heelwat voorheen ongelowiges, besef dat net God dinge wat gebreek is, kan herstel.
Soms is die mens se kennis net nie genoeg nie. Ons verslaenheid dwing ons dan op ons knieë.
Gelukkig het alles ’n positiewe kant. Die hele krisis het baie mense nader aan hul familie en vriende gebring, maar die belangrikste, nader aan ons Hemelse Vader. Ons het geleer dat niks in die lewe verseker is nie. Mnr. Arthur Underhay, ons skoolhoof wat ook sy lewe aan Covid-19 verloor het, het vir ons ’n raakvat gesegde nagelaat: “As jy stilstaan, gaan almal by jou verby”.
Ons kan nie as jongmense ophou droom nie. As ons nie droom nie, is daar geen toekoms nie. Vir sommige mense is dit al ’n cliché om van drome en passies te praat, maar elke nuwe generasie jongmense wat ywer het om iets in die lewe te wil bereik, moet tog ’n doelstelling hê om te bereik wat hul eendag vir hulself daargestel het. Nie wat iemand anders se drome vir jou was nie, maar jou eie, om eendag ’n verskil te gaan maak.
As ek my vier jaar klaar geleer het, wil ek die voorbeeld navolg van baie van die onderwysers wat oor my pad gekom het, vir wie onderwys ’n roeping was, en nie net nog ’n werk nie. Onderwysers wat als in hul vermoë gedoen het om ’n verskil in iemand se lewe te kon maak. En ja, ongelukkig het ek ook al die swak voorbeeld van hoe ’n onderwyser nié moet wees nie beleef, maar ek kan daardie ervaring ook weer tot my eie voordeel gebruik omdat ek weet hoe dit kinders laat voel.
Sommige kinders het deur moeilike tye gegaan. Ek was gelukkig deel van ’n groep vriende wat ’n hart gehad het vir die sogenaamde “underdog”. Mens kan soms met een woord of aksie ’n “underdog” se lewe laat omkeer, en hulle onthou dit vir die res van hul lewens.
Daar is ’n Engelse spreekwoord van Maya Angelou wat lui: “I’ve learned that people will forget what you said, people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel”.
Kom ons gaan maak van vandag af ’n verskil. Doen elke dag van die jaar net een goeie ding vir een persoon per dag. Ons kan dan 365 mense in ’n jaar bereik. Gaan uit! Ons is toegerus as gevolg van Covid-19 met ondervinding wat baie mense maar net van kan droom.
- Robert-Andrew Adshade is ’n trotse oudleerder van die HTS Drostdy en gaan vanjaar Bed – senior fase en verdere onderwys en opleiding – by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.