#JongStemme: Hou hoop se lig aan die brand

Deur Rudolph Cilliers

Rudolph Cilliers.

Met die tye waarin ons onsself bevind in ‘n wêreld vol virusse en ‘n land sonder krag, met ‘n oorskot van inligting en ‘n tekort aan hoop, het ek besluit om my siening oor die toekoms van ons land uit ‘n gemiddelde kind se oogpunt te deel. In gewone taal, sonder dat dit nodig is om die woordeboek nader te trek.

Van geboorte tot die jaar van my 16de verjaarsdag, moet ek bieg, het ek in ‘n soort van idilliese wêreld bestaan waar my land my trots en my gelukkigste plek was om te wandel, salig onbewus van die gevare en probleme wat selfs in hierdie poskaartbeeld in my kop teenwoordig was. Ek onthou byvoorbeeld tot vandag toe die vreugde van die eerste keer wat ek ons diverse volkslied uit my kop kon sing sonder om oor ’n enkele woord te struikel. Dit was trots. Ek was vol hoop, want hierdie is my land!

Soos met elke kind, kom daar egter ‘n dag wat jou oogklappe, sonder waarskuwing, afgepluk word. In my geval was dit in my gr. 10-jaar. Dit was daardie jaar dat ek vir die eerste keer in my lewe werklik kon begryp wat om my aan die gang is. Ek kon begin raaksien hoe gesigte om my wanhoop uitstraal. Ek kon hoor hoe woorde ons hoop probeer blus. Sedertdien ervaar ek slegs oomblikke van die hoop rondom my – hoop wat ek so goed kan onthou.

Daarom wil ek graag ’n versoek aan elke Suid-Afrikaner, veral die jeug, rig om die strydbyl tussen ons en die wanhoop vir die toekoms te begrawe. Ek is eerlik wanneer ek sê dat ek moeg is vir elke klagte, elke gekerm en gekla oor ons land en die probleme wat daarmee gepaardgaan. Dit is vir my absoluut hartverskeurend om dag ná dag te hoor dat die enigste manier om ’n behoorlike toekoms te kan hê, is om die buiteland jou nuwe tuiste te maak. En ek verstaan die waarheid dat mens realisties en objektief moet wees, maar die feit bly staan: as die jongmense ophou baklei vir die toekoms van ons land en al die mooi dinge wat dit kan inhou, sal ons juis hierdie moontlikheid nooit ’n realiteit kan maak nie.

Die fondament vir ’n briljante land is reeds gelê en ons kan ons land se voorvaders daarvoor dank – dit is egter nou óns verantwoordelikheid om die aflosstok te gryp en oor die wenstreep te pyl. Ek skryf hierdie wel nie uit wanhoop nie. Ek skryf dit juis omdat ek glo elke jongmens is van nature positief ingestel – dit is die siniese uitlatings van ander wat ons hoop laat verloor.

Daarom wil ek graag die hoofdogter van Oranje Meisieskool in Bloemfontein aanhaal: “Lig jou ken en ken jou lig”.

Ek glo hierdie is woorde wat oor elke persoon in ’n wyer Suid-Afrika gespreek moet word sodat niemand die lamp onder ’n emmer sal plaas nie. Ons bevind onsself in een van die mooiste plekke en tye deur ons Hemelse Vader geskep en ek weet dit is iets om voor te baklei. Ek verstaan dat mens nooit in ’n droomwêreld kan leef nie, want niks is perfek nie, maar my wens is wel dat elke mens wat hierdie lees weer daardie ingebore en onblusbare hoop van ’n jongmens binne hulself sal gaan soek. Dat elkeen weer daardie hoop sal vasgryp en sal trots wees op ons land. Om te besef dat ons bevoorreg is om hierdie stukkie aarde aan die Suidpunt van Afrika te bewandel.

Ek sluit af met Genesis 1:3, ook my skool se kragtige leuse: “Laat daar lig wees.” Steek vandag weer die kers van hoop aan en laat jou vlam die weg vorentoe baan.

  • Rudolph Cilliers is ’n matriekleerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Dankie Rudolph. Dis sulke lieflike jongmense soos jy en daardie meisie van Bloemfontein, wat ons ouer garde se hoop weer hoog laat brand. Ons Here het ‘n plan en hou ons mooi jongmense in Sy Hand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.