#JongStemme: Identifiseer, beplan en doen vir ’n verskil

Bennie Genis. (Foto: Verskaf.)

Deur Bennie Genis

Wie sou kon raai dat “Kou wit! – Wie rus?” eintlik is waarvoor die Covid-19-virus in Suid-Afrika staan? Die hele land sou graag iets anders wou hoor en oor praat, maar hierdie onderwerpe is onvermydelik. Ons kan net ’n verskil maak en omstandighede verander, as ons die probleme kan identifiseer, daarna planne maak om dit te oorkom en dan DOEN!

Kou wit! (Identifiseer)

Hierdie opskrif kan net sowel die slagspreuk van die ANC wees. Daar word nie geskroom om reguit uitspraak te lewer dat die wittes moet klippe kou nie. Van reddingspakkette wat slegs vir Swart-Ekonomiese-Bemagtigingsinstansies beskikbaar gestel word, tot die beskuldiging dat die land se rykdom steeds in “wit hande” is. Die probleem is dat geen eienaarskap en verantwoording geneem word om daadwerklike stappe te doen nie, maar eerder net te blameer en te beskuldig.

Die onlangse en voortdurende optogte wêreldwyd, hoofsaaklik in Amerika, het die hele mensdom aan die ondersoek na die oorsprong en oorsaak van hierdie probleme. ’n Groot probleem, na my mening, is die sameswang van mense om deel te wees van iets groters. Wat ek daarmee bedoel, is die feit dat dit “in” is om dit op sosiale media te deel en jou steun te wys. Dit, terwyl daar veel erger gebeurtenisse op ons voorstoep gebeur. En as dit nie heeltemal sosiaal aanvaarbaar is om opspraak daaroor te maak nie, word daar eerder oor geswyg.

Dit voel so asof die hoofstroom die identiteit bepaal en dat daar ’n geweldige identiteitskrisis aan die gang is. Jou identiteit word bepaal deur jou Godsdiens, geskiedenis, kultuur, oortuigings en wêreldbeskouings, om net ’n paar te noem. Dit blyk of die wêreldbeskouings die belangrikste een word en veral hoe die wêreld ons beskou.

Wie rus? (Beplan en doen)

Al laat hierdie gedeelte se opskrif my dink aan sommige staatsamptenare wat vreesbevange sal rondkyk as so ’n vraag gevra word, is dit eerder daarop gemik dat ons moet begin doen en nie in gemaksones stagneer nie.

’n Gemaksone is gewoonlik die habitat vir stagnering en bied dus nie baie groeigeleenthede en uitdagings nie. Wanneer dinge swaar gaan, is ons as mens geneig om baie meer staat te maak op ons afhanklikheid van ons Hemelse Vader. Ons moet oortuig wees daarvan dat daar saam met Hom altyd vir ons ’n uitweg is.

Wat staan ons te doen ten opsigte van hierdie probleme? Bou gemeenskappe, ondersteun plaaslik en skep jou eie toekoms. Raak betrokke in onderriginstansies, kerke en gemeenskapstrukture. Werk en woeker om ’n positiewe verskil te maak. Steek jou hand op in plaas van om te kerm of te kla. Moet nie terugdeins vir wie en wat jy is nie. Jy mag ook jou eie kant kies.

In die boerdery word daar gesê om alles op die regte tyd te doen wat in jou hande is, maar die reën kom van Bo af. Gryp die oomblik! Onthou die verlede en beplan vir die toekoms, maar al wat nou in jou hande is, is hierdie oomblik. Gaan jy rus of gaan jy werk maak?

  • Bennie Genis is ’n meganiese ingenieur wat van die platteland afkomstig is. Hy is passievol en optimisties oor die toekoms van Afrikaners in Suid-Afrika.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.