#JongStemme: Idiome – so skaars soos hoendertande

Deur René Krüger

René Krüger.

Idiome en spreekwoorde maak ons moedertaal, Afrikaans, so uniek, maar deesdae is die gebruik daarvan so skaars soos hoendertande. Idiome gee egter karakter aan ons taal en dit is gevorm deur die verlede van die Afrikaner. Dit is opvallend hoe amper alle idiome se oorsprong geloof- of boerdery-georiënteerd is. Deur na die herkoms en betekenis van ons idiome en spreekwoorde te kyk, kan lei tot die herontdekking van ons voorouers se leefwyse.

Deesdae kan daar baie na ons land se situasie verwys word as volstruispolitiek. Dit is ʼn situasie waar groot en lastige vraagstukke nie onder oë geneem word nie. Die herkoms van hierdie idioom is dat daar geglo is dat ʼn volstruis sy kop in die sand steek wanneer hy nie gesien wil word nie. Die volstruis glo dan dat hy ook onsigbaar is vir ander. Hieroor lag ons soms soos ʼn boer met tandpyn, met ander woorde ʼn gedwonge lag. In die vroeër jare kon boere nie gereeld by ʼn tandarts uitkom nie, dus moes hulle maar die tandpyn verdra en was dit moeilik vir hulle om vrolik te lag.

Ons is boonop moeg vir mense wat tweegatjakkalse is. Dit verwys na persone wat onbetroubaar is en hulself anders voordoen as die mens wat hulle werklik is. Hier word nie verwys na ’n jakkals se agterent nie, maar eerder na die twee, of meer, gate in die grond wat jakkalse grawe. Wanneer ʼn boer byvoorbeeld jakkalse jag, sal die jakkals die moeilikheid en gevaar ontsnap deur na die gat te gaan waar die boer se honde nie is nie.

Baie mense is boonop voor op die wa, dit wil sê opdringerig, en eien vir hulself regte toe wat hulle nie toekom nie. Tydens die Groot Trek moes kinders en ondergeskiktes hulle plek op die wa ken – wat agter was. Die voorste gedeelte van die wa was gereserveer vir die boer, sy vrou en ander uitgelese persone in hul geselskap. As die kinders nie op hul plek (agter op die wa) was nie, was hulle dus letterlik te voor op die wa. Kinders is hoeka nog nat agter die ore, wat beteken dat hulle nog jonk en onervare is. Hierdie idioom het ontstaan soos boere verwys het na kalfies en bokkies wat ná geboorte nog nie deur hul moeders droog gelek is nie.

Wanneer ons na die vervalle munisipale dienste kyk, kan ons onsself troos en sê, elke haan is koning op sy eie mishoop, wat beteken dat elkeen homself die meerdere aanvoel op sy eie gebied. Die boere het hierdie elke dag gesien wanneer die haan koning kraai in sy eie gebied. Dit sal wonderlik wees as almal eerder skouer aan die wiel wil sit – dus harder wil werk. In die Groot Trek se dae het die Voortrekkers letterlik hul skouers teen die ossewa se wiel gesit, wanneer daar byvoorbeeld oor hoë berge getrek moes word.

Terwyl ons hard werk, moet ons versigtig wees vir die wolf in skaapsklere. Dit verwys na ʼn skynheilige skurk, met ʼn onskuldige voorkoms, wat mense bedrieg. Die herkoms van hierdie idioom is te vinde in die Bybel. In Mattheus 7:15 waarsku Jesus sy dissipels teen valse profete wat in skaapsklere rondloop, maar eintlik verskeurende wolwe is. Hierdie wolf is dikwels ook die voorbok. ʼn Voorbok is iemand wat die voortou neem met allerhande stoutigheid en skelmstreke. Dit verwys na die bok wat die klok gedra het omdat hy die leier van die trop is, wat deur al die ander bokke gevolg is. Maar ons moet onthou dat dit die klein jakkalsies is wat die wingerde verniel. Dit beteken dat die kleinste foutjies of swakhede dikwels die grootste skade of hartseer kan aanrig. Hierdie idioom se herkoms is ook in die Bybel te vinde. In Hooglied 2:15 staan, “… vang vir ons jakkalse. Die klein jakkalsies wat die wingerde verniel.” In die Bybellande het die wingerde plat op die grond gerank en dit was maklik vir klein jakkalsies om dit dan te verniel.

Ons moet ook versigtig wees om nie so kwaad te raak soos oom Paul se bobbejaan nie. Dit beteken om kwaad te wees vir die persoon wat nie die rede is vir die kwaad nie. Volgens oorlewering het oom Paul Kruger ʼn bobbejaan aangehou. Daar was eendag ʼn brand naby aan die paal waaraan die dier vasgemaak was. Die bobbejaan het gedraai, sy stert deur die vuur geswaai en na oom Paul gehap, wat toevallig aan die verbystap was.

Afrikaners gooi ook nie maklik tou op nie. Jy hoor reg – ons gaan nie opgee nie. In die Groot Trek het die touleier dikwels, wanneer hy moeg geraak het en bang was dat die osse hom gaan inhaal, die tou op die osse se horings gegooi en weggehardloop. Hy het letterlik dan tou op gegooi. Nee, ons wil eerder ʼn neseier maak. Hier in ons vaderland – vir ons nageslag. ʼn Neseier is ʼn som geld vir ʼn bepaalde doel. In die ou tyd was dit ʼn gewoonte om ʼn porseleineier in die hen se nes te plaas om die hen aan te moedig om meer eiers daar te lê. Dus was die idee dat jy die neseier vermeerder om dit dan vir ʼn bepaalde doel aan te wend.

So, ek maak eerder bokhorings dat ek vir my taal en kultuur sal veg. Om bokhorings te maak, beteken om ʼn eed af te lê. Wanneer ʼn eed afgelê was, het mense twee vingers in die lug gewys met die woorde, “so help my God.” Hierdie twee vingers was dan gelykgestel aan bokhorings. As iemand dan vir jou vra hoe dit met jou gaan, hoop ek dat jy kan antwoord: “Dit gaan klopdisselboom”. Dit beteken dat dit baie goed gaan met jou. Wanneer perde op ʼn stywe, egalige draf die kar getrek het, het die disselboom ritmies teen die draaghout geklop. Dit het beteken alles is goed en alles gaan goed, want jy beweeg vorentoe.

Ek hoop ook dat ons eendag weer sal kan sê die Kaap is weer Hollands (alles is weer in orde). Dit verwys na die oorhandiging van die Kaap aan die Bataafse regering ná die Britse besetting van 1795-1802. Die Engelse besetting was glad nie gewild onder die inwoners nie, so ná die oorhandiging was alles weer goed en in orde.

Mag dit met jou klopdisselboom gaan, terwyl jy skouer aan die wiel sit, tot ons weer kan sê: Die Kaap is weer Hollands.

  • René Krüger is ʼn veelsydige 24-jarige, wat besig is met haar meestersgraad aan die NWU en nou ‘n internskap by Solidariteit doen vanweë haar passie vir die Afrikanerkultuur.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
a3a3

‘n behoede probleem! Mening: ‘n probleem sonder oplossing!

Drikus

Baie dankie René, dit is voorwaar ‘n pragtige verduideliking van waar elk van idiome en spreekwoorde hul ontstaan vandaan kry. Ek weet hier raak ons net aan die seekoei se oortjies!