#JongStemme: Inklusiwiteit en gelykheid: politieke leuens

Deur Grant-Pierre van Wyk

Grant-Pierre van Wyk

Inklusiwiteit en gelykheid is begrippe wat dikwels saam-saam gebruik word. Politici is veral gaande daaroor om dié oënskynlik positiewe idees aan die publiek te verkoop om sodoende stemme gedurende verkiesings te werf. In vandag se samelewing bestaan daar egter nie iets soos onvoorwaardelike inklusiwiteit en gelykheid nie.

Enige persoon wat dink dat hy ten volle inklusief is en almal gelyk behandel, lewe sekerlik in ʼn illusie. Indien jy nie met iemand se morele keuses saamstem nie omdat dit, na jou mening, negatiewe gevolge dra, gaan jy heel waarskynlik ook nie met die persoon interaksie hê wanneer sy keuses in werking tree nie – al wil hy graag hê jy moet. Dit maak nie van jou ʼn slegte mens om nie ten alle tye inklusief op te tree nie, dit maak van jou ʼn vrydenkende individu wat verantwoordelikheid vir sy eie lewe neem.

Gewese misdadigers kry nie gelyke werksgeleenthede in vergelyking met diegene wat hulself aan die regte kant van die wet bevind nie. Die rede hiervoor behoort vir enige nugterdenkende persoon duidelik te wees. Daar gaan vanuit die staanspoor ʼn beter vertrouensband tussen die wetgehoorsame burger en die werkgewer wees, terwyl die voormalige tronkvoël so te sê verdere straf vir sy oortredings sal moet uitdien. Die eks-krimineel word nie oor dieselfde kam geskeer as werksaansoekers wat nog nooit die wet oortree het nie, daarom is dit logies dat gelykheid nie altyd bevorder word nie, aangesien gelykheid gelyke behandeling is.

In vandag se samelewing is die bevordering van inklusiwiteit en gelykheid hoofsaaklik polities gedrewe. Dis taamlik bisar om te dink dat politici hulle inspirasie, om vir dié sake op te staan, by kunstenaars kry. Hierdie kunstenaars is dikwels deel van die groep wat die verpersoonliking van onstabiliteit is. Hulle lewens val totaal en al uitmekaar, maar vir een of ander rede word politici deur hulle geïnspireer om spesifieke sosiale kwessies te takel. Dis verstommend dat politici so dwaas kan wees om deur onstabieles gelei te word.

Die uiteindelike probleem is dat die politici bemagtig word om te besluit wie deel van die inklusiwiteitsgroepie mag wees en wie nie. Uiteraard word identiteitspolitiek by die politieke speelveld betrek. Jy word skuldig laat voel oor jy nie deel vorm van die groep mense wat op ʼn spesifieke manier dink nie, en as gevolg van jou skuldgevoel, begin jy tog maar om só te dink net om deel te kan wees van die einste groep met wie se sienings jy nie saamstem nie.

Die ironie is dat identiteitspolitiek juis baie verdeeldheid skep, en diegene wat pro-inklusiwiteit is, bevorder dan inderwaarheid eksklusiwiteit. Gelykheid word in dieselfde asem gedegradeer, terwyl vrye denke, ʼn beginsel van kardinale belang in die Weste, terselfdertyd bedreig word.

Wanneer iemand dit regkry om jou voor te sê wat om te dink, en dus wat om te glo, verloor jy beheer oor jou lewe en dit is ver meer as net problematies.

Die realiteit is dat inklusiwiteit en gelykheid politieke konsepte is wat gebruik word om mense te manipuleer. Solank as wat mense die voorreg het om hulle oordeel te gebruik, sal inklusiwiteit en gelykheid nooit heeltemal haalbaar wees nie en slegs wensdenkery bly.

  • Grant-Pierre van Wyk is ʼn tweedejaarstudent wat B.Ed Senior en VOO-onderrig aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.