#JongStemme: Instagram-aktivisme maak veg té maklik

Deur Walden van der Walt

Walden van der Walt.

Die 20ste eeu is veral vir die verskeie manifeste, handveste en revolusionêre oortuigings bekend. Dit is uiteraard ’n kenmerkende bestanddeel van elke bevrydingsbeweging, en dien dikwels ook as hoeksteen in die skryf van daaropvolgende grondwette en hul aanhefte.

Dokumente soos die Declaration of Independence, The Freedom Charter en die Ten-Point Program hou simbolies ’n baie “heilige” waarde vir die vele martelare in wat vir daardie beginsels geveg het.

Vandag het ons die 10-post Carousel op Instagram, gekomplimenteer deur PowerPoint-skyfies van twyfelagtige infografika, tekenprentjie seeskilpadjies en ’n hutsmerk of twee.

Na my mening is hierdie ’n liggewig poging tot verandering.

Sosiale aktivisme word deesdae met digitale kommentaar as uitrusting geklee. Plasings van dié aard versprei vinniger as veldbrande onder jongmense. Boonop is daar ʼn wetenskaplik onverklaarbare “sensasionaliteit” aan helderkleurige vetkryte wat ongestaafde statistiek en misleidende feite vertoon.

Gegewens dat hierdie saak rondom millenniërs sentreer, durf ek eerder nie aan die konsepte van vryheid van spraak en -assosiasie krap nie. Alhoewel ’n legio argumente hieronder kan ly – soos onder andere die verspreiding van fopnuus – fokus hierdie meningstuk eerder op wat ek beskryf as die kitsnuus-epidemie.

Vandag se politieke milieu verg dat ons die “sein” van die “geraas” afsonder. Dit is kardinaal om die regte probleme op die regte tyd te probeer oplos. Probleme behoort geprioritiseer te word.

Dieselfde kan ten opsigte van veldtogte en bewusmaking van kwessies gesê word. Hierdie kultuur van sosiale media veroorsaak dat massas inligting ons skerms instroom, ons as kykers met inligting oorlaai en vervolgens in ’n bose kringloop ontaard waar die media al hoe meer nuus op ’n sensasionele wyse voorhou.

Die eens kragtige bewegings wat uit toegewyde ondersteuners bestaan het, is nou tot net nóg ’n plasing oor nóg ’n veldtog wat nóg ’n probleem probeer oplos afgewater.

Maar daar is egter tekens van ’n ernstiger probleem wat agter al hierdie PowerPoint-manifeste skuil. Die jeug is besig om baie vinnig, baie gepolariseerd in hul menings te raak. Daar bestaan feitlik nie meer iets soos gesonde meningsverskille op sosiale media nie. Jy is óf vir, óf teen. Jy durf nie standpunt inneem nie, en verder word jy as “deel van die probleem” gebrandmerk.

Ek getuig uit eerstehandse ervaring terwyl ek waarneem hoe impulsiwiteit en eensydigheid van denke onder my generasie toeneem. Onbehandeld gelaat gaan hierdie virus, wat prooi op hoofsaaklik 15- tot 25-jariges se frontale lobbe, muteer en teenmiddels soos “navorsing” en “kritiese nadenke” feitlik nutteloos laat.

Daar word van ons verwag om opinies te vorm, bloot omdat jou “reg tot vrye mening” ten volle benut behoort te word. Te min klem word geplaas op hoe ’n goeie opinie gevorm word. Boonop word ons skaars geleer hoe om teenoor ander se opinies te reageer. Hierdie is gelykstaande daaraan om ’n Formule 1-motor vir ’n leerlingbestuurder te gee.

Daar sal egter net olie op die aktiviste se spreekwoordelike vuur gestort word as die ander kant van die saak nie ontleed word nie. E-platforms kan wel die uitruil van opinies fasiliteer. Selfs in gevalle waar die inhoud aan sinneloosheid grens, is die blote proses om dit te deel steeds ’n vorm van blootstelling – en blootstelling is uiters belangrik in die vorming van konkrete menings.

Hierdie proses moet net reg bestuur word om die kitsnuus-epidemie se verspreiding te stuit, en ’n onomkeerbare mediasiekte te verhoed.

Kitsnuus gaan nie tot die genesing van ’n gepolariseerde media bydra nie. Klem moet op die lees van konkrete en geloofwaardige nuus geplaas word, asook om dit te deel. Kwaliteit bo kwantiteit is absoluut hier ter sprake.

Dit is nou die tyd waar die “volwasse wêreld” moet intree om die regte soort nuus te skep, sodat die jeug die regte soort nuus kan deel …

En, indien jy as millenniër hierdie meningstuk lees en met ’n brandende eie mening sit, onthou net: #FeiteWen.

  • Walden van der Walt is ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anna-Marie ·

Ek stem met jou saam oor die probleem dat mense, oud en jonk, nie meer weet hoe om ‘n goeie opinie te vorm nie. Mense leer ook nie hoe om ‘n opinie/feite te toets nie en nog minder hoe om op ‘n respekvolle wyse na ander se opinies te luister en gepas te reageer nie – selfs al stem jy nie saam nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.