#JongStemme: Is dit nog ons erns?

Deur Etienne Hansen

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Afrikaanse Taalmonument en -museum/Facebook)

In Augustus 1908 het dr. DF Malan as voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging die Stellenbosch-tak toegespreek. Op daardie stadium het talle geglo dat Afrikaans bloot ʼn verswakte dialek van Nederlands is en dat dit nie die aanslag van Engels sal oorleef nie. Dr. Malan het hierteen sterk standpunt in geneem: Dit is ons Erns.

In dr. Malan se toespraak is dit duidelik dat dit nie bloot net ʼn taalstryd is nie, maar dat dit diep gewortel is in die vryheidstryd van die Afrikaner. ʼn Stryd wat nie begin het by 1994, 1899 of 1652 nie.

Volke en nasies pas aan oor eeue, maar verloor nooit hul identiteit nie. Skaam-skaam blaai ek deur die geskiedenisboeke en ek kan nie anders nie as om by die gevolgtrekking te kom dat die Afrikanervolk êrens met die verloop van tyd sy identiteit verloor het. Daardie kern dinge wat ons juis óns maak ontbreek by te veel Afrikaners vandag, naamlik ons republikeinse vryheidstrewe en ons Gereformeerde geloof.

Die republikeinse vryheidstrewe

Dit was juis hierdie vryheidsideaal wat ons Geuse voorouers in die 16de eeu gedryf het om vir 80 jaar te veg vir die onafhanklikheid van Spanje. Om dit in perspektief te plaas veronderstel die Grensoorlog wat in 1966 uitgebreek het, het 80 jaar geduur, dan sou dit eers in die jaar 2046 geëindig het!

Omdat die beginsel van vryheid ʼn saak van erns was vir die Voortrekkers het duisende families die gemak van die Kaapkolonie verlaat. Langs die trekpad is die eerste demokratiese verkiesing gehou en is Piet Retief op 6 Junie 1837 as goewerneur ingesweer. Na die eerste terugslae in Natal het die Voortrekkers nie omgedraai nie, maar volhard in die droom om ʼn eie staat te vorm, al was die prys hoe hoog. Weereens in die Anglo-Boereoorlog en in die 1914-rebellie is die hoogste offer vir vryheid betaal.

Ons voorouers was nie tevrede met ʼn halwe vryheid in die een of ander unie of federasie onder Britse gesag nie. Hulle wou nie net staatsbestand wees nie. Nee, hulle wou hulle eie staat hê, iets wat hulle in 1961 na ʼn lang stryd wel gekry het.

Vandag blyk dit dat daardie vryheidsvlammetjie stilweg in die volksiel gesterf het. Afrikaners het hul lot aanvaar en droom nie meer soos hulle voorouers oor ʼn onafhanklike republiek waarin ons oor ons self kan regeer nie. Al het die verwesenliking van daardie strewe hoe onmoontlik gelyk, het ons voorgeslag nooit opgehou veg vir ʼn selfstandige staat nie. Die blote idee van ʼn volkstaat of Afrikanerrepubliek word vandag as verregs en onhaalbaar afgeskiet. Tog is dit dieselfde idees wat ons voorouers gekoester het en waarvoor hulle alles in die stryd gewerp het.

Etienne Hansen (Foto: Verskaf)

Ons Gereformeerde geloof

In die 16de en 17de eeu is duisende Protestante vervolg omdat hulle nie hul geloof wou prysgee nie. In 1688 land die eerste groep Franse Hugenote aan die Kaap. Dit was ʼn groep mense wat alles (van hul vaderland tot hul moedertaal) prysgegee het, maar wat onwrikbaar in hul geloof was. Met die Statebybel in die wakis het die Voortrekkers getrek. Hulle eenvoudige leefwyse is deur hul diepe geloofsoortuiging bepaal.

In sy boek, Het leven van Johannes Calvijn, skryf D’Arbez dat “Tog, nêrens op aarde leef die werk van Calvyn sterker as in Suid-Afrika nie, waar die gees van Calvyn nog nie verswak is deur die invloed van die twintigste eeu soos dit maar te dikwels die geval was, en nog steeds is, in die Europese lande nie.”

Ongelukkig het daar van die Gereformeerde erfenis nie veel onder die Afrikaner oor gebly nie. Baie Afrikaners is nie meer aktiewe lidmate van kerke nie of, erger nog, word ateïste. In talle van die tradisionele Afrikaanse kerke word die geliefde Psalms van die Hugenote en die Voortrekkers nie meer gesing nie, maar eerder Engelse liedere. Jongmense ontvang nie meer ʼn godsdiensonderrig uit die Kategismus nie en is onbewus van selfs die blote bestaan van ons Gereformeerde Belydenisskrifte. Calvinisme het ʼn skelwoord geword en daar word eerder na nuwe interpretasies van die Woord gesoek wat die mens in sy individualisme sal steun.

Waar dit presies 115 jaar na dr. Malan se toespraak is, kan ons vandag onsself afvra: Is dit nog ons erns? Indien ons nie meer kan vereenselwig met ons voorouers se vryheidsideale en geloofsoortuiging nie, durf ons nog onsself die erenaam Afrikaner gee? Die bal is egter in ons hande. Dit het tyd geword om weer erns te maak met daardie dinge wat soos ʼn goue draad deur ons geskiedenis loop en soos ʼn aflosstokkie van een geslag tot ʼn volgende oorgedra is. Slegs ons kan bepaal of dit nog ons erns is.

  • Etienne Hansen is n matrikulant aan die Hoërskool Bellville wat’n passie het vir geskiedenis en ’n liefde vir die Afrikaner.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Broer, waarheen nou? Ons het op ons eie grond in die Kaap gewoon en toe trek ons kwaad noord. Ons het ‘n Republiek gehad en toe gooi ons dit oorboord. Nou wil ons terug Kaaptoe en tussen die aanvanklike redes vir die trek noord, weer terug Kaaptoe en smeek vir ‘n stukkie van ‘julle’ grond iewers daar tussen julle. Seblief!!! Koning Pieter doen die kruipwerk. Gelukkig is jy klaar daar. Help die koning en julle kan dalk eerste uitgehelp word deur die eienaars van die Kaap. Maar onthou daar is altyd koste verbonde aan dwaashede. Die woord ‘ons’ is ‘n leidraad.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jong mense in die Kaap se koppe is reg vasgeskroef! Die strewe na onafhanklikheid en vryheid sal nie verdwyn nie.

Hendrik ·

Met n gebrekkige volksbesef en Godsbesef is alles met onderhandelinge oorboord gegooi. Die nasionaleparty het n volksgod geword wat onvoorwaardelik vèrtroud was maar het spoedig verval. Godsbesef is vervang met die eie ek, humanisme en materialisme. Tydens die engelseoorlog het die boere besef ons het alles verloor, niks kan ons verder verloor nie so laat ons aahou veg. Miskien moet ons eers op daardie punt kom voor ons weer opstaan.

Andries ·

Dit is verblydend as daar iets van die Onafhanklikheidstrewe oorgebly het onder die jeug of so-iets selfs net gekoester word. Wat is die werkswyse waarop te werk gegaan kan word as die Derde Boere-Oorlog nie ‘n moontlikheid is nie?

iets heel anders: Dit is tog interessant dat Afsonderlike Ontwikkeling (Tuisland Beleid) so onaanvaarbaar is, maar die land sit met ±10 ‘konings’ van (watse)land . . .

Republikein in die Wes Kaap ·

Suid Afrika is ‘n mensgemaakte mengelmoes wat reeds in 1910 gedoem was tot mislukking. Snaaks genoeg, die Engelse in Natal het dit toe al besef en was teen die Unie.Vir dekades veg ons teen swaartekrag om alles bymekaar te hou. In 1994 het alles finaal uitmekaar gespat. Daar bestaan nie ‘n “een land” nie. Dis net ‘n konsep wat magsbehepte politici al vir dekades versprei, want hulle word daardeur bevoordeel. Dis inderdaad onmoontlik om die diverse en uitgestrekte land as eenheid te bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.