#JongStemme: Is jy die ruggraat of die rugsak?

Deur Maree van den Berg

Maree van den Berg.

Vir ons as jong Suid-Afrikaners het dit gewoonte geraak om net eenvoudig vorentoe te beur sonder enige hulp van owerhede of die land se leiers. As ons ’n toekoms wil bou, moet ons dit sélf doen en sélf veg teen alles wat verkeerd is. Maar die vangplek lê daarin dat ons dit wel moet dóén!

Het jy as jongmens al ooit ervaar dat dit, vreemd genoeg, makliker is om daardie spesiale meisie of kêrel in jou lewe te vlei met jou woorde op WhatsApp, eerder as om dieselfde vir hom/haar te sê wanneer jy hom/ haar in die oë kyk? Bloot omdat jy en die persoon waarmee jy praat, mekaar nie kan sien en soms hoor nie, vergemaklik dit talle gesprekke sodat ‘n mens dikwels in gevaarlike of ongemaklike onderwerpe invaar.

Die punt is dat sekere dinge baie makliker op alle sosiale media gesê kan word. Alhoewel ons laerskoolpraatjies altyd gelui het dat die gerieflikheid van vrye uitdrukking ’n “voordeel van sosiale media” is, blyk dit vir my duidelik nadelig. Mense “praat” te maklik, en dóén te moeilik! Mense word gekondisioneer om die nuttelose rugsak te wees eerder as die ruggraat…

Ek voel dat hierdie eindelose geskree in die kuberruim ’n nuttelose oefening is, behalwe wanneer aksie daarmee saamloop. Woorde wek, maar voorbeelde trek!

Dit is deesdae so maklik vir elke tweede Piet om onverskrokke sy mening sterk en duidelik te lug, omdat sosiale media baie makliker ’n geleentheid daarvoor bied. Op Instagram en Facebook kan jy wees wie jy wil, praat hoe jy wil en lyk soos wat jy jouself graag wil laat voorkom. Dus is dit makliker vir sosialemediagebruikers om soms te kerm en kla agter die front wat hulle vir hulself geskep het … maar in die meeste van hierdie gevalle stop dit net daar – by ’n geskree. Min mense, ongelukkig, gaan werklik oor tot aksie.

C.J. Langenhoven het gesê: “Leë pyp hou toe jou kraan, dalk sien ons jou vir ’n volle aan.” Ek wil graag mense wat baie praat, maar min doen, oor dieselfde kam as die leë pype skeer, want die uitwerking wat hulle het, is dieselfde: niks daadwerklike aksie nie! Steeds net die leë pyp! Julius Malema is ook ’n goeie voorbeeld van ’n dolleë pyp – in sy geval net een wat blink gepoets is deur baie geld, maar sonder lewegewende water!

Samevattend wil ek noem dat ek waardering het vir baie mense se menings wat wel op sosiale media gelug word: dit vestig tog aandag op ’n probleem of kwessie waaraan daar moontlik nie aandag gegee sou word nie. Ek glo wel dat dit onnodig is om oor die spesifieke kwessie te kla as die klaer(s) nie bereid is om self in te spring om iets aan die saak te doen nie. Wéés die verandering en verbetering wat jy graag in die wêreld wil sien! Rol jou moue op en begin met aksie!

Ek skryf hierdie meningstuk nie om enigiemand oor die kole te haal nie, maar eerder om die leser bewus te maak dat mense se leë woorde en ‘n gebrek aan aksie daartoe kan lei dat ’n vuur gestook word wat doodsmoor nog voordat dit behoorlik gevlam het!

Maar as ons self ons moue oprol, velskoene aantrek en aksie neem, kan dit ’n inspirasie wees wat kan groei; dit kan die vlammetjie wees wat versprei. Nie groei en versprei soos ’n wegholveldbrand nie, maar egalig groei soos ’n dam wat vol water loop ná honderde duisende druppels uit die hemele geval het om die droë dambodem te deurdrenk en uiteindelik ‘n magtige vloed word wat teen die sluise druk.

Inspirasie, aksie, ruggraat!

  • Maree van den Berg het verlede jaar aan die Hoërskool Centurion matriek geskryf en beoog om hierdie jaar veekunde aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.