Deur Mihan van Zyl
ʼn Krisis bring gewoonlik die beste, maar ook die slegste, in mense na vore. Die globale pandemie dien dus as ’n vergrootglas waardeur ons kan kyk na die volgende drie terminale kwale van ons verswakkende politieke gespreksomgewing, naamlik identiteitspolitiek, emosionele manipulasie en sensorskap.
Identiteitspolitiek word dikwels ’n gewilde meganisme om die diversiteit van idees te beperk. ’n Fundamentele les wat ons in filosofie geleer het, is dat hoewel konteks in ag geneem mag word, mag niemand se ras, geslag, ouderdom of klas, ooit die enigste bepaler van die geldigheid van hul argument wees nie. Gedurende hierdie pandemie is politieke kommentators soms gevra namens wie hulle praat, eerder as om die logika van hul argumente te bevraagteken. Dit gaan dus nie meer oor wat gesê word nie, maar eerder oor wie dit sê.
Die ANC se rasgebaseerde staatshulp gedurende die inperking is ʼn verdere tragiese gevolg van identiteitspolitiek. Mense begin glo dat wit en swart belange nooit kan ooreenstem nie. Hierdie idee het ontstaan in Suid-Afrika se geskiedenis van verdeeldheid en het oorgespoel tot in die ANC se rasbehepte ideologie. Indien ons nie besef dat die probleme van Suid-Afrikaners oor alle kleurgrense kan strek nie, gaan ons die uitdagings nooit kollektief oplos nie.
Populiste gebruik graag emosionele manipulasie, omdat mense ’n behoefte het aan politiek met gevoel en met ’n hart. Populiste maak vals beloftes en beeld hul opponente so ekstremisties as moontlik uit, waarna hulle dan hierdie strooiman, eerder as die ware standpunt, aanval. Hierdie strategie maak van politiek ʼn morsige geveg tussen goed en kwaad, waar jou opponente se menslikheid weggeneem word, sodat jou volgelinge ’n rede het om onmenslik teenoor hulle op te tree. Beide kante van die grendelstaatdebat tussen lewe en ekonomiese oorlewing is skuldig hieraan.
In plaas daarvan dat ons die beste middelgrond probeer vind, glo beide kante dat hulle moet “wen”. So ontstaan ʼn gepolariseerde publiek, wat maklik gemanipuleer kan word. Daar is natuurlik ekstremistiese individue, maar hulle is gewoonlik in die minderheid. Hulle sal egter vermeerder weens minder gebalanseerde gesprekvoering, omdat isolasie van denke gewoonlik lei tot radikalisering. Jordan Peterson, wêreldbekende kliniese sielkundige, sê wanneer jy met ander verskil, moet jy nie altyd kwaadwilligheid inlees in hul sienings nie, maar dalk eerder onkunde. En jy moet ook besef dat hulle moontlik iets meer as jy weet. Probeer om jou opponente beter te verstaan, eerder as om heeltyd te probeer om hulle verkeerd te bewys.
’n Derde gevaarlike verwikkeling is die toename in sensorskap. Regerings, gemeenskappe en individue het hulself toenemend in hul eggokamers onder kwarantyn geplaas, asof ’n virus van teenstrydige inligting hulle gaan beetkry. Ons vrees om van mekaar se opinies te verskil, snoer ál meer mense se monde. Andersdenkendes word afgedank of word verban van sosiale media in hierdie moderne heksejag van kansellasiekultuur. Liberale politieke kommentator Dave Rubin som dit goed op as hy sê dat die grootste bedreiging vir vryheid van spraak, nie regerings is wat ons sensor nie, maar die massas wat hulself sensor. Ons kan nie werklik sê Suid-Afrika is verenig in ons diversiteit, as ons nie ook die diversiteit van opinies vryelik kan toelaat nie.
Hierdie effens pessimistiese perspektief is ’n noodsaaklike wekroep tot die besef dat ons almal die vermoë het om deur eerlike selfondersoek en deur ʼn opregte oop gesprek, ons publieke diskoers kan verbeter, in ’n soeke na regverdige, volhoubare oplossings. Ons moet opstaan vir die reg om die verandering te wees wat ons in ons land en die wêreld wil sien.
- Mihan van Zyl is ’n eerstejaarstudent in BA Regte aan die Universiteit Stellenbosch.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.
As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.
Jy is doodreg Mihan. Die gesondheid van die gespreksomgewing en die gesindheid van die gespreksgenote gaan die sukses aldannie daarvan bepaal. In Suid-Afrika het ons op beide gebiede ernstige tekortkominge. As jongmense moet jul nooit moed opgee nie. Jul moet met vindingryke nuwe idees oplossings vir ou probleme vind. Almal mag en moet ‘n bydrae lewer. Stilbly is nie nou die antwoord nie.