#JongStemme: Is verskuiwing na afstandonderrig regtig vooruitgang?

Deur Mihan C. van Zyl

Mihan van Zyl.

Dit is nou vir my moeilik om te glo dat ek teen hierdie tyd, ʼn jaar gelede, alreeds ʼn maand lank as eerstejaarstudent die Stellenbosch-kampus verken het en dat dit normaal was om saam met byna 300 studente in ʼn lesinglokaal te sit. Die jaar 2020 was gekenmerk deur ontwrigting en verandering, waarvan die normalisering van afstandsonderrig op skool- en universiteitsvlak, een van die grootste noodgedwonge aanpassings was. Behoort hierdie “nuwe normaal” egter die klassieke kontak georiënteerde onderrig permanent te vervang, selfs nadat die virus uiteindelik die pad gevat het?

Ons is almal deeglik bewus van die voordele van digitale onderwys. Dit verbeter beslis die toeganklikheid tot onderrig omdat dit geografiese beperkings oorbrug, en deur die verspreiding van inligting te vergemaklik, verminder dit die werklading en tydsgebondenheid wat gepaardgaan met kontakonderrig, vir beide student en dosent. Studente kan werk volgens hul eie beplanning en kan enige tyd klasse hersien of inhaal wat terselfdertyd ʼn goeie toets vir selfdissipline en tydsbestuur is.

Ek kry egter uiteenlopende terugvoer van my medestudente oor die volle impak van hierdie verskuiwing na die kuberklaskamer op hul ervaring as jong studente. Die eerste en mees ooglopende realiteit wat ons in Suid-Afrika in ag moet neem, is dat nie alle studente in die posisie is om heeltyds aanlyn te studeer nie. In ʼn land met wydverspreide armoede en swak huislike omstandighede, waar ons weens beurtkrag weekliks sukkel om die ligte te laat brand, is dit eenvoudig onprakties om ons onderrig heeltemal na ʼn elektroniese platform te verskuif.

Ons moet dit in die konteks sien dat daar in 2018 vasgestel is dat slegs 2% van huishoudings in Limpopo, Noordwes en Noord-Kaap tuis toegang tot die internet het. Selfs met selfone in ag genome, het slegs 62% van Suid-Afrikaners in 2018 basiese internettoegang gehad, terwyl baie min heeltyds data kon bekostig.

Nadat die gerief van tuisbly en ma se kos hul glans verloor het, het ek ook tot die besef gekom dat universiteite (en ander onderriginstellings) baie meer behels as net dit wat jy in die handboeke lees of in opsommings verpak. My pa sê altyd dat die mensekennis en sosiale vaardighede wat hy deur interaksie met sy medestudente geleer het, vir hom in sy latere lewe van meer waarde was as die akademiese kennis uit handboeke.

Ek het dit self beleef gedurende my kort kampusverblyf, waar ek ’n verskeidenheid individue met diverse agtergronde, denkwyses en kulture ontmoet het, waarvan baie ook veel slimmer as ek was. Aanlyn gesprekke sal nooit heeltemal die klasdebatte en koffiegesprekke se aangesig-tot-aangesig-interaksie kan vervang nie. Die vryhede van studentelewe buitekant die klaskamer is ook net so waardevol omdat die “ontsnapping” uit die ouerhuis vir jong studente die perfekte geleentheid gee vir selfverwesenliking en die aanleer van verantwoordelikheid. Hierdie onvervangbare kruisbestuiwing tussen medestudente en dosente en die ontwikkeling wat gevolglik in ʼn kampus-omgewing plaasvind, is volgens my nie data-oordraagbaar nie.

Daar is ongetwyfeld wêreldwyd ’n groot verskuiwing na afstandsonderrig weens die voordele wat dit inhou en in reaksie op die Covid-krisis. Ek glo egter dat die skrap van klasloop en die sosiale studentelewe wat met tersiêre onderwys gepaardgaan, nie die beste pad vorentoe is nie. Die moderne universiteit moet ʼn bietjie introspeksie doen om ʼn gesonde balans tussen die digitale toekoms en die harde werklikheid van jong Suid-Afrikaners te vind. As sosiale wesens, wat hunker na fisieke kontak en interaksie, moet ons versigtig wees dat ons nie met eensame afstandsonderrig die baba met die badwater uitgooi nie.

  • Mihan van Zyl is ’n tweedejaarstudent in BA regte aan die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Mihan jy maak ‘n baie belangrike punt naamlik dat verwerwing van kennis nooit belangriker as die ontwikkeling van die mens as geheel moet word nie. Wat help dit ons raak so slim soos rekenaars maar ons verloor ons menslikheid?
Die lewe is gevaarlik. Ons moet nie ophou lewe weens ‘n relatief klein rissiko vir die jeug nie. Die boompie kan gebuig word terwyl hy jonk is maar pasop, hy kan ook net so maklik geknak word.
Hoe gouer ons weer kan begin om normale sosiale mense te wees, hoe beter sal dit vir almal wees. Ek hoop die besluitnemers neem kennis van jou pleidooi dat die ontelbare menslike faktor nie gedigitaliseer moet of kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.