#JongStemme: Is vryheid regtig wat ons dink dit is?

Deur Elisma Olivier

Elisma Olivier. (Foto: Verskaf.)

Vryheid is ʼn toestand van vry wees, dit is wat HAT sê. Die woord “toestand” dui op ʼn geestestoestand, ʼn emosionele of ʼn fisieke toestand, en “van vry wees” beteken jy is vry, nie gevange of gebonde nie. Jy is los, verlos en vry.

Of is jy?

In Escape from Pretoria, ʼn rolprent waarna ek tydens die inperking gekyk het, was daar ʼn beduidende kontras tussen twee gevangenes. Die een karakter is vier lewenslange vonnisse opgelê en hy het nie ʼn behoefte gehad om te ontsnap nie. Daarteenoor het die ander karakter 25 jaar tronkstraf gekry. Op dag 414 van sy vonnis het hy tien houtsleutels gemaak en die roetine van die tronkbewaarders so goed geken dat hy helder oordag kon ontsnap sonder om uitgevang te word.

Hy vlug van Suid-Afrika na Londen en sy ontsnapping het tot die grootste soektog na ʼn ontsnapte gevangene in die geskiedenis gelei.

My vraag is: Was hy regtig ʼn gevangene? Of was hy regtig vry ná sy ontsnapping? Wat ek onder jou aandag wil bring is dit: Hy was fisiek agter slot en grendel, maar sy vermoë en gedagtes was nie. Dit was so vry dat hy die byna onmoontlike kon regkry.

Ná sy ontsnapping was hy fisiek vry, maar die polisie van vier ander lande, insluitend Suid-Afrika, was op sy spoor.

Is vryheid regtig wat ons dink dit is? Het ons dalk ʼn wanpersepsie van vryheid? Is ons vry of dink ons net ons is vry? Covid-19 en die inperking het my heeltemal anders na vryheid laat kyk.

Depressie is ʼn toestand van langdurige terneergedruktheid. Jy is vasgevang in seer, negatiewe gevoelens. Jy is emosioneel en psigies vasgevang in ʼn donker gat. Dit impliseer jy is liggaamlik vry, maar sielkundig is jy agter slot en grendel sonder tien sleutels om jou te help ontsnap. Moontlik het depressie tydens inperking in ons gemoed kom nes maak – met matrieks wat voel dat hulle hele skoolloopbaan deur hul vingers glip. Ons het ons vryheid verloor.

Vandag dink ek twee keer oor die woord “vryheid”. Is ek en jy vry? Is vryheid regtig om, wel, vry te wees?

Hoe ironies is dit nie: Mense wat die wêreld rond rits op soek na avonture, om weer lewend te voel. Hulle wil weer die bloed deur die are voel bruis, want as gevolg van iets wat hulle gevangene hou bruis die bloed nie meer nie.

Ongelukkig gaan jou laaste gedagte nie wees waar jy op 21-jarige ouderdom van die hoogste berg of uit ʼn vliegtuig gespring het nie. Dit gaan daardie een gedagte wees wat jou nog jou hele lewe lank kelder, want wat in jou gedagtes aangaan, verander nie sommer nie en daarom vra ek vandag: Is ons regtig so vry soos ons dink?

Waar lê die grense van jou vryheid, jou emosionele vryheid. Gaan Covid-19 jou of jou matriekjaar kniehalter?

  • Elisma Olivier is ʼn trotse matriekleerder van Hoërskool Salomon Senekal in Viljoenskroon. Haar gunsteling-vakke is biologie en landbou.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fluisterwind ·

As ons met grys gebiede gekonfronteer word, kan ons op twee rigtinggewende beginsels vertrou om ons Christelike vryheid te reguleer: laat liefde vir ander ons dwing om niemand te laat struikel nie, en laat ons begeerte om God te verheerlik ons ​​allesomvattende motief wees.

Luister ·

Met ouderdom kom wysheid – ons ouer garde weet lankal ‘n mens is nooit regtig vry nie. Om vry te wees moet jy sorgeloos en sonder verantwoordelikhede kan wees. Net klein kindertjies weet hoe dit voel.

Raadslid ·

Ons sal net vry wees as ons weer ons eie land en regering het.

Gideon ·

Baie geluk Elisma vir jou weldeurdagte skrywe. Dit is n riem onder die hart om te sien dat daar jong mense is wat buite die grense van die gewone dink. Ek stem volkome met jou saam en jy is amper op die kern van die kwessie. Kyk na hierdie vrae: Waarom is die inperking van vryheid in n tronk (of jou huis) n straf maar die reisiger deur die wereld voel hy is nie vry? Die depressiewe persoon is teneergedruk en wil nie na buite beweeg en uitreik na ander. n Denker kan nie sy gedagtes maklik verander nie. Waar is ons almal werklik vir die eerste keer vry (ja, ek weet meeste het die antwoord van ‘in Christus’, maar dit is n ontwykende antwoord wat ek sien geen Christene wat werklik vry is, of anders gestel: waar is jy werklik ‘in Christus”?) Soos n ander kommentator gese het: waar is jy werklik sorgeloos? Of n ander: Daar is baie mense wat hul eie land het, maar steeds voel hulle is nie vry.
So, waar is ons werklik vry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.