#JongStemme: Jeug kan bydra tot nuwe perspektiewe in politieke arena

Deur Cornel Rautenbach

Cornel Rautenbach.

Vir dekades al word politiek hoofsaaklik toegeëien deur ouer lede van ’n samelewing. Wanneer daar byvoorbeeld gekyk word na die antieke Grieke, het hul staatkundige byeenkomste grootliks bestaan uit ouer mense.

Die rede hiervoor is dat daar algemeen geglo word dat ouderdom gepaard gaan met wysheid. Die stelling “jy is te jonk om enige iets hiervan te weet” is inderdaad alombekend. Maar is dit nie juis nodig vir jong mense om meer aktief betrokke te begin raak by die politiek nie? Dit is tog nodig vir die jonger geslag om ervaring en kennis op te doen op hul pad na leierskap. Vroeër blootstelling mag tog voordelig wees vir latere politieke besluitneming. Daarbenewens kan die jeug ook bydra tot nuwe perspektiewe in die politieke arena.

Suid-Afrika se parlement kan as ’n voorbeeld gebruik word om die standpunt te ondersteun. Die parlement is al by vele geleenthede beskryf as outyds. Uit die 378 lede van die parlement is slegs 23 jonger as 35.

Suid-Afrika se jeug verteenwoordig tog die toekoms van die land, en daarom moet daar moeite gedoen word om in die opbou van ervaring en kennis van jonger mense te belê. Daar kan tog nie verwag word dat Suid-Afrika oor 30 jaar ’n funksionerende parlement sal hê as die huidige parlementslede met onbekwame lede vervang word nie.

Tans kry die jeug beperkte ondervinding of eerstehandse blootstelling aan die politiek, wat problematies is. Hierdie probleem herhaal homself al vir generasies, en ’n konstruktiewe ingryping is nodig om ’n oplossing te vind. Dit is belangrik dat die jonger generasie onder toesig betrek word by besluitneming sodat hulle kan leer uit die geskiedenis en hul eie foute. Daarsonder sal dieselfde foute oor en oor gemaak word, totdat die jeug toegelaat word om meer betrokke te raak by die land se politiek.

Vandag het die jonger generasie ook meer toegang tot sosiale media. In die era waarin ons tans is, gebeur alles vinniger. Byvoorbeeld, toe die eerste missiele onlangs afgevuur is in die Midde-Ooste, was die nuus binne minute reeds wêreldwyd bekend. Ongeveer 30 jaar gelede het nuus dae tot weke geneem voordat dit bekend was. Dit was in die tydperk waarin vandag se politici ontwikkel het.

Vandag se jeug kan egter bydra tot vinniger besluitneming deur sosialemediaplatforms, soos Facebook en Instagram, te gebruik as nuusbron en toegang tot die burgerlike samelewing. Laasgenoemde kan ’n groot aanwins word indien dit reg benut word deur politici.

Wanneer daar geskiedkundig gekyk word na leiers soos Alexander die Grote, kan die invloed van jonger mense in die politiek raakgesien word. Alexander die Grote het as student van Aristoteles gedien, en was bekend as een van die mees prominente figure in Macedonië se geskiedenis. Hy was oor Europa gevrees deur sy vyande, en was aanbid deur sy eie mense. Gedurende die tydperk 320 voor Christus het hy het ongelooflike groei laat plaas vind in Macedonië. Dan is daar ook Napoleon Bonaparte van Frankryk wat reeds op die ouderdom van 24 na brigadier-generaal bevorder is. Hy het ’n reuse-impak gemaak in wêreldgeskiedenis en veral in die geskiedenis van Frankryk.

Is dit nie weer tyd dat daar meer produktief in die jonger geslag belê word nie, en daardeur jong mense op te voed om eendag as verantwoordelike leiers besluite te neem nie? Soos wat ons leer uit die geskiedenis, is dit ook noodsaaklik om aan die toekoms te bou. ’n Vooruitstrewende toekoms kan slegs behaal word deur die stokkie suksesvol aan te gee na die volgende atleet in die wedloop van die lewe.

  • Cornel Rautenbach studeer tans politiek, filosofie en ekonomie (PFE) aan Akademia. Hy is ook ‘n professionele jagter en bedryf sy eie vervoerbesigheid.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Goeie skrywe en ek stem saam dat meer jonger mense die politiek moet betree in die 21 ste eeu, wat leierskap vroeër kan identifiseer in al die afdelings van die politiek. In die 1970’s is daar al vir my vertel dat die wêreld klein geword het.Jy praat van 30 jaar gelede,wat nuus tot dae en weke geneem het om bekend te word.Ek dink hierdie stelling neig meer na 60 jaar gelede.’n Voorbeeld wat ek kan onthou van 1973 is die Jom Kippur oorlog tussen Egipte en Israel wat binne ure die hooflyne gehaal het.Sosialemediaplatforms is ongelukkig die hoofbron van fopnuus en sal reg aangewend moet word om ‘n impak te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.