#JongStemme: Jong Afrikaner, nou wat nou?

ruan-goosen

Ruan Goosen. Foto: Verskaf.

Deur Ruan Goosen

Die storie van die Afrikaner kan gesien word soos ʼn pendulum wat swaai op ʼn spektrum tussen twee skryftekens, ‘n uitroepteken en ‘n vraagteken.

Ons storie het onstaan in die Kaap Kolonie, mooi 55 jaar ná die koms van Jan van Riebeeck. ‘n Tiener met die naam Hendrik Biebouw roep tydens ʼn ontwrigting in Stellenbosch hard uit: “Ik ben een Afrikaander – al slaat de landdrost mij dood, of al zetten hij mij in de tronk, ik zal, nog wil niet zwijgen!”

Hierdie word beskou as die metaforiese skeiding wat plaasgevind het tussen die vrye burger en die Europese vasteland. Hulle sê mos: “Jou huis is waar jou hart is” en op daardie oomblik het die Afrikaner se hart vanaf Europa na Afrika verhuis.

Soos ons almal weet, kan die pendulum te ver na die uitroeptekenkant van die spektrum swaai en alhoewel daar nuanses onstaan het rondom die inisiële intensies van apartheid, is daar géén twyfel dat dit ‘n immorele stelsel was wat menseregte ondermyn het en op die ou einde, byna die pendulum van die spektrum laat afswaai het. Ek praat namens die meeste Afrikaners as ek sê, daar is ‘n gevoel van spyt en skaamte vir hiérdie deel van ons geskiedenis.

Dit bring ons by die mees onlangse hoofstuk van die Afrikaner se geskiedenis. Die jaar is 2019, die 5de demokratiese verkiesing is agter die rug en 25 jaar se rekonsiliasie het al plaasgevind. Die sogenaamde born free (vry gebore)-generasie raak nou volwasse en is al hoe meer besig om hulself te vestig in die Suid-Afrikaanse samelewing. Maar waar pas dié deel van ons storie op die spektrum? Wat is die nagevolge wanneer die pendulum te skerp terugswaai na die vraagtekenkant?

In hiérdie hoofstuk van die storie bevind ons onsself terug by die aanvanklike stelling “Ik ben een Afrikaner”. Wat beteken dit werklik?

Ons weet ons is veronderstel om trots wees op hiérdie stuk grond wat vernoem is na rigtings op ‘n kaart, maar wat beteken dit nou eintlik? Soos al die jong generasies voor ons, is ons op soek na leiding. Diegene wat in beheer is, dring egter daarop aan dat ons moet aanhou skaam wees vir iets wat ons nie gedoen het nie! Baie van ons sit by ʼn kruispad, ons moet kies tussen beter geleenthede oorsee of diskriminasie by die huis. Ons ouers moedig ons aan om te gaan, hulle vertel ons hoe die gras groener is aan die ander kant van die oseaan. Maar tog is daar ‘n ruiling wat plaasvind, verkoop ek ‘n stukkie van my siel vir ‘n veiliger toekoms? Of veg ek vir die voortbestaan van die taal en kultuur wat my voorouers gebou het?

Nou wat nou, jong Afrikaner? Oor die afgelope paar jaar het hierdie vraag my op ‘n gereelde basis as’t ware gemartel. Totdat ek eendag besef het hoe bevoorreg my generasie eintlik is.  Jy sien, die vry gebore-generasie sit met ʼn enorme verantwoordelikheid: Ons gesamentlike optrede vandag gaan bepaal in watse toestand ons hiérdie kultuur gaan oorgee aan die volgende generasies.  Wat ons nou doen, vorm die fondamente waarop die komende generasies moet bou. Ons gaan bepaal wat dit beteken om ‘n Afrikaner in die 21ste eeu te wees. Baie sien hierdie verantwoordelikheid as ‘n las, maar ek sien dit as ‘n voorreg: met groot uitdagings kom groot geleenthede en dis nou die tyd om hierdie uitdaging aan te pak.

Ek sluit af met wat dit vir mý beteken om ʼn Afrikaner te wees: Dit is om elke dag te lewe met die wete dat jy verantwoordelik is om die waardes te beskerm wat jou voorouers aan jou oorgedra het. ‘n Afrikaner is nie net iemand wat sy kultuur wil bewaar nie, maar iemand wat voortbou aan iets wat groter as hy-/haarself is.

Die besluit is joune, jong Afrikaner. Sit terug en laat jou kultuur vergaan – of staan op en bou ʼn beter toekoms.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

  • Ruan het ʼn graad in belegginsgbestuur aan die Universiteit Stellenbosch verrwerf, en is tans besig met sy honneursgraad in finansiële ekonomie.  Ruan skryf ook verslae oor die elektriesevoertuigmark.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Goeiste maar jy het mooi groot geword jong man! Onthou jy nog die dae in Fairland Laerskool?

Verstaan ·

Pragtige jong Afrikanerseun!!!
Doen wat jy dink is goed vir jou jongman!! As jy moet trek – dan trek jy!
Volg jou eie kop en maak ‘n sukses!! En dit geld vir alle jong Afrikaner jongmense.
Voorspoed vir julle!!

Barry H ·

Nog ‘n gifappeltjie. As alles sleg is, loop gerus. Los die met hoop, los die planmakers. Hulle het ons tor hier gekry, hulle sal ons verder kry.

Dirk ·

Jy vra vir leiding, maar jy het eintlik reeds jou keuse gemaak. Jy het goeie voornemens soos dit hoort mbt waardes, kultuur en om te bou aan iets groter as jouself. Die realiteit van jou omstandighede is egter iets wat aan n mens dikteer waar en wanneer jy jou voornemens ten volle kan laat geld. In SA word jy en jou waardes, kultuur en iets groter as jouself deur bose menslike magte geminag, verfoei en bedreig. Jou mense wat net soos jy goeie voornemens het, word een vir een aangeval, verneder, vermink en vermoor. Die witkruise wat onophoudelik geplant word is n sprekende voorbeeld van mense wie net sulke goeie voornemens soos wat jy het, gehad het. In SA is dit nie meer n kwessie dat dit nie met jou sal gebeur nie, dit is slegs n kwessie van tyd van wanneer dit met jou kan gebeur. Alles wat jou voorgeslagte vir jou bewaar het, is reeds deur bose menslike magte opgeeis en vernietig of in die proses om vernietig te word. Niemand kan namens jou besluit dat jy moet bly of nie bly nie. Slegs indien jy nie met skille op jou oe deur die lewe wandel nie, sal jou eie gesonde verstand jou die regte besluit laat neem. Was jy egter een van my kinders sou jy geen keuse gehad het nie, jy sou reeds al in die buiteland gewees het en daar gevestig gewees het!

Leon Rousseau ·

Ten spyte van die feit dat ek ‘n trotse blanke Afrikaner is, word ek gereeld deur die “regse” groepering van mede blanke Afrikaners uitgekryt as ‘n sg. “Libtard”, gewoonlik vermeng met talle vloekwoorde, beledigings, ens.

Ruan, ek wil jou gelukwens met n weldeurdagte stuk skryfwerk. Jou standpunt, soos ek dit verstaan, is dat julle as jongmense die land en sy mense op n pad van voorspoed vir almal wil help. Want dit is wat moet gebeur! Ons is ALMAL burgers van die land wat kan aandring op alle regte en verantwoordelikhede van toepassing op elke landsburger.

Natúúrlik moet ons aandring op ons regte as blanke Afrikaners in hierdie land, maar nie ten koste van ander mense se regte nie. Die vraag is op welke wyse ons dit moet doen.

Ons kan dit nie doen deur op mekaar te skel en te skree nie, of deur op afbrekende wyse met mekaar te kommunikeer nie! Ons moet luister na wat ander groeperinge sê, maar nie luister om te reageer nie… ons moet luister om te verstáán! As ons nie op ‘n ordentlike, volwasse manier met mekaar praat nie, is ons onafwendbaar op pad na ‘n Burgeroorlog… en NIEMAND wen in ‘n oorlog nie. Ons mense praat baie maklik in oorlogstaal, maar die meeste het geen idee wat ‘n oorlig WERKLIK beteken nie…

Ek glo dis wat intelligente jongmense wil hê… sinvolle gespreksvoering en níe oorlog nie. Sterkte vir julle pad vorentoe!

Andile ·

Dit vat moed vir n jong man om sy punt so te stel maar wat laat jou voel jy praat namens meeste Afrikaners?

Gert ·

Wonder ek ook. VF+ het darem amper ‘n halfmiljoen stemme gekry, so hulle kan dalk aanvoer om namens baie Afrikaners te praat, maar jy moet darem een of ander mandaat hê om so iets aan te voer.

Fanie Kemp ·

Baie dankie Ruan vir hierdie pragtige getuienis van ‘n positief ingestelde jong Afrikaner wat onbeskaamd trots is op wie en wat hy is.
Mag daar nog derduisende wees wat saam met jou bereid is om “Op te staan en te help bou aan ‘n beter toekoms”.
Bly die trotse Afrikaner wie jy is en inspireer sommer ander daar op US Kampus ook daartoe.

Deon ·

‘n Vrygebore Afrikaner in ‘n volkstaat is die enigste oplossing. Te veel Afrikaners is oor die afgelope 25 jaar platgeslaan, keer op keer. ‘n Nuwe missie is nodig.

Dries du Toit ·

Ruan . Jy is klaar op die regte plek. Met die regte denkende trotse Afrikaners met wie jy al seker te doene gekry het by Afriforum, Solidariteit en VF+ sal jy n baie ingeligte keuse kan maak. Waar dit ookal is behou net jou wortels en onderhou hulle goed.

Riena ·

Ek stem saam met jou, Ruan… staan op en bou `n beter toekoms. Trou en kry kinders, baie kinders, wat `n nuwe generasie skep wat kan voortbestaan. Sonder kinders IS daar geen nageslag nie.

Ian de necker ·

Stem ook saam met ‘n pragtige bemoedigende skrywe. Die enigste probleempie soos ek dit sien is om op ‘n sogenaamde polities korrekte wyse apartheid eensydig as die sondebok uit te wys. Die apartheidsprobleem is baie ingewikkelder as om dit bloot net as rassisties en onderdrukkend af te maak. Dit het nie ander kulture vernietig of uitgemoor nie! Dit het ander rasse gehelp deur skole, universiteite, hospitale en nywerhede te vestig om hulle standaarde ook op te hef! Nou gebeur net mooi die teenoorgestelde. Alles word afgetakel en nog steeds word apartheid as die grootste sondebok uitgewys! Dieselfde probleem word wereldwyd en meer spesifiek onder die westerse beskawing ondervind. Keuses sal gemaak moet word om almal onder een regering te vermeng of nie. Die uiteinde is die totale vernietiging van westerse Christelike waardes, kulture en standaarde. Die keuse is joune of jy hierin wil meedoen of nie. Dit is ‘n keuse van hande vat teen vernietiging en onderdrukking van beskaafde minderhede of hande vat met volksvreemde massas vir totale vernietiging!

Tiaan ·

Ruan. Ek wil dit net duidelik stel dat jy nie names meeste Afrikaners praat nie en beslis nie names my nie.

Stem saam ·

Beste Ruan

Dankie vir jou brief. Ek stem heeltemal saam met jou skrywe en al behoort ek aan die generasie net voor joune, sit ek met dieslefde vrae en keuses.

Ek vind dit vreemd dat daar wel Afrikaners is wat voel dat apartheid nie ‘n fout was nie – ek dink dis waar baie van ons probleme begin het en as Christen is daar geen manier hoe dit regverdig kan word nie. Dit was verkeerd. Ek voel ook skaam daaroor, alhoewel ek nie deel was daarvan nie.

Wat emigrasie betref het ek baie lank gewonder oor wat die regte ding is om te doen aangesien ek en my gesin in staat is om te emigreer, maar het besluit om te bly en hier ‘n verskil te maak. Ek sien nie kans vir ‘n perfekte “Noddy speelgoedland” eerste wêreld sonder my mense nie. Ek dink dis wonderlik om vir paar jaar te gaan – en as dit uitwerk bly gerus. Maar ek geniet my familie, mense, groot huis en tuin en ons lekker weer en mooi land te veel!

Hou aan om jou te skaar by positiewe Afrikaners, hulle word al hoe minder, maar is wel daar. Possisioneer jouself reg vir jou en jou toekomstige gesin – gaan bly in ‘n stad soos George, Bloemfontein, of enige ander plek in die Wes-Kaap waar jy gemaklik jou kultuur kan uitleef. Ek is heeltemal gekant teen selfbeskikking aangesien ek al lankal aangespas het in ons nuwe samelewing en ons diversiteit geniet.

Deon ·

Moenie Afrikaners wat negatief is verwerp nie. Moet ook nie op hul neerkyk nie. Omstandighede het hulle dalk in ‘n hoek gedryf.

humor ·

Ai Leon Reusseau n sinvolle gesprek kom van 2 kante af. Tans is die politiekeklimaat van so n aard dat n sinvolle gesprek onmoontlik is. Ons eie pres. se selfs voor die internasionale wereld dat plaasmoorde nie bestaan nie. Luister na talle uitsprake jeens die Afrikaner sowel as hofuisprake in n skeefgetrekte regstelsel. Hoe is sinvolle gesprek moontlik. Dit is so goed jy sit voor n hoenderhaan en jy probeer hom te oortuig dat hy nie die henne so moeg moet jaag nie. Ian de necker ek stem saam met wat jy se. Net jammer daar is nie ruimte om die volle apartheidsera in regte perspektief te stel nie. Daar was knelpunte maar waar het jy al in die ganse geskiedenis n volmaakte politieke bestel gekry? Al wat ek duidelik van oortuig is, is dit het voorheen baie beter gewerk as tans. Om n veelheid in volkere verskeidenheid onder n eenpartybewind in te dwing is gewoon ktrimineel wat dit plaas hierdie volkereverskeidenheid in gevangenskap sonder regte op eie kultuur en taal wat tot die wese van elke volk behoort.

Andreas ·

Dit is nie omdat dit reggestel gaan word nie, maar HOE dit reggestel gaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.