#JongStemme: Jou lewensdoel is nie jou baas

Deur Danielle Badenhorst

Danielle Badenhorst

Die mensdom is konstant op soek na die betekenis of doel van hul lewe. Almal wil tog weet wat hul bestaansrede is en hoe dit in ʼn lewensdoel opgesom kan word.

Hierdie konsep hang soos ʼn plaag oor verskeie mense se lewe. Sonder ʼn lewensdoel voel die meerderheid van die mensdom dat hulle slegs ʼn oppervlakkige bestaan handhaaf wat tot ʼn antiklimaks-einde sal kom.

Daarom gaan die mensdom op reis om uit te vind wat hul lewensdoel is en hoe hulle dit kan bereik. Ons gebruik onder meer ons geloof, loopbaan, sosiale orde en kultuur as instrumente om die weg vir ons aan te wys. Tog is daar min mense wat voel dat hulle tot ʼn uiteindelike bewustheid of begrip van hierdie konsep kom.

Die lewe sal mos soveel makliker wees as ons maar net kon weet wat ons moet doen, vir watter rede en tot watter gevolgtrekking dit sou lei … So jaag ons van die een ding na ʼn ander op soek na ʼn wonderwerk. Eers gaan ons drome verlore. Later vergrys ons passie vir die lewe aangesien niks eerbaar genoeg is om met die “lewensdoel”-titel bekroon te word nie. So bestaan ons, maar leef ons nie werklik nie.

Waar kom hierdie teorie vandaan? Wie het die wet in klip graveer dat elke individu net één lewensdoel mag hê en dat dit soveel gewig mag dra? Ons kan nie só aanhou nie! Net soos wat daar ʼn rede vir elke gebeurtenis is, kan daar ʼn doel vir elke seisoen van ons bestaan wees.

Sonder om clichés soos “die lewe begin sodra jy uit jou gemaksone tree” of “die lewe is ʼn reis” te gebruik, wil ek as medemens vandag vir jou sê dat dit nie nodig is om eers jou lewensdoel óf -doele te vind voordat jy tevrede is met jou bestaan nie. Die naakte waarheid van die mensdom is dat ons nooit alles sal weet nie. Hierdie feit behoort ons te inspireer om elke geleentheid aan te gryp met hart, siel en verstand! Indien ons bereid is, sal ons dan die doel in elke geleentheid en elke seisoen van ons lewe kan raaksien.

Van wonder kom daar niks! Moenie te veel dink voordat jy doen nie, die lewe wag vir niemand nie!

  • Danielle Badenhorst is ʼn tweedejaar-BA-student (Kommunikasie en Joernalistiek) aan Akademia.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.