#JongStemme: Kan ons nie maar vorentoe beweeg nie?

Deur Adri Janse van Rensburg

Adri Janse van Rensburg.

Elke keer wat ons moet terugkom Pretoria toe, moet ek my oupa verlaat met trane. Ek is só lief vir my oupa, en ek wil nie hê hy moet die volgende slagoffer wees van ‘n plaasmoord nie. Daardie gedagtes jaag mens se senuwee op hol en dit maak jou bang.

Elke keer as die president ons moet toespreek oor die nuwe regulasies en reëls wat verander word, bykom of verslap word, dan sit ek en my ouma (ek bly by haar) en luister of daar ook ‘n liggie (al is dit klein) op ons boere gaan val en of die erns van die saak ook aan ons land oorgedra word soos met geslagsgebaseerde geweld. Verstaan my hart, ek wil nie die lig van ander krisse wegdraai nie, maar wat van ons boere? Hulle het ook nodig dat ons moet wys wat met hulle gebeur.

Die regering is kwansuis so bekommerd oor mense wat moet voorsien word van kos en ander dinge. Is dit dan nie juis hoekom die regering direk aandag aan plaasmoorde sal moet gee nie? Ons boere voorsien ons hele land van kos – hulle is juis die individue wat ons, as verbruikers en as een nasie, moet beskerm, want as hulle nie kan boer nie, is daar nie kos nie.

Ek is hartseer en teleurgesteld in ons president. Ek het geglo hy sou werklik ‘n verskil kon maak rakende dié kwessie asook rassisme in ons land. Om eerlik te wees: daar is in alle rasgroepe mense wat rassisties is. Swart teenoor wit en wit teenoor swart. Vir my is daar nie kleur nie. Daar is mens.

Ek het nou die dag na ‘n TikTok-video gekyk van ‘n plastiese chirurg wat die vel van ‘n wit mens en die vel van ‘n swart mens voor die kamera gehad het, en gewys het dat ons aan die binnekant maar almal dieselfde is. Ons het dieselfde spiere, dieselfde kleur bloed, dieselfde organe. Hoekom moet ons na velkleur kyk? Dieselfde is gesê in ‘n ander foto waarin daar baie verskillende groottes en kleure eiers in ‘n mandjie was. En die foto het ook gesê dat dit slegs die buitekant is wat verskil – ‘n eier is ‘n eier is ‘n eier aan die binnekant.

Ek verstaan apartheid was sleg, maar dis alles in ons verlede. Hoekom kan ons nie vorentoe beweeg en dit agter los waar dit hoort nie? Hoekom kan ons nie net mekaar aanvaar vir wie ons is en in vrede as een reënboognasie saamlewe nie? Wat is dit wat ons terughou en hoekom kan ons dit nie oplos nie?

Sou dit nie ook vir julle lekker wees om weer so saam-saam gees te vang en saam te staan soos tydens die Wêreldbeker-rugby in 1995 en 2019 nie? Want dit is wat ek as individu wil sien as ek na ons land kyk. Ons land is uniek en beslis enig in sy soort. Ons het ‘n wye horison vol verskillende kulture, mense en tale. Kom ons wys dit, kom ons wees trots op ons land vir wie en wat hy is, en kom ons laat hom skyn!

  • Adri is 21 jaar oud en van Pretoria. Sy het ‘n groot liefde vir diere en vir die natuur, dié dat sy so baie daarvan hou om in die bosveld te wees. Daar kan sy ook tyd saam met die Here deurbring.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Luister

So het ons almal gedroom. Maar die swart mense wil nie vergewe nie.

Jaun

Adri, jy vra wat hou ons terug en waarom ons dit nie kan oplos nie. Die antwoord lê in die gebruik van ‘ons’: ons is ‘n gebroke en sondige mensdom. Hy, die Here, kan dit oplos. Nie óns nie. Verstaan die stryd, elke stryd, nie as teen vlees en bloed nie, maar as ‘n stryd teen die bose. En daai stryd, die een teen die bose, kan ons nooit as te nimmer self wen, oplos, of beskik nie. Met die swaard in die een hand, die troffel in die ander hand, met ‘n aanroep tot die Here op ons lippe… Lees meer »

Mieke

As Christen het ek destyds opgewonde uitgesien na ‘n verenigde nasie… maar helaas… dit het nie gebeur nie! En as Christen sal ek nie die sonde aanvaar, goedkeur en saamstem met die meerderheid se gedrag van moord, haat, korrupsie, verkragting ens nie. Mag die gees van christen-wees, versoening, samewerking, hernuwing in ons as ‘n God- vreesende nasie begin groei en ‘n werklikheid word!!

AmY

Liewe Adri; nog vóór jou geboorte was ons almal (of van ons) opgewonde oor die nuwe SA en het uitgesien daarna om saam vorentoe te beweeg en hierdie land die beste Afrika-land te maak.
Ek het my liederlik misgis.
Ek huil in die aande oor ons eens mooi land.