Deur Neil Botha
Kansellasiekultuur kan gedefinieer word as ’n vorm van boikot of die afskryf van ’n mens of groep wat na jou mening ’n sosiale oortreding gepleeg het.
Die konsep het begin kop uitsteek as ’n manier vir die massas om oënskynlik geregtigheid te bevorder, maar ongelukkig het dit tot op ’n punt gevorder waar enige mens vir die kleinste van oortredings ge-“kanselleer” kan word.
Dit is ’n onomwonde feit dat moderne jeugdiges, soos ekself, verandering probeer bewerkstellig. Dit is die hartseer waarheid dat die verandering wat ons najaag, begin het as verandering vir verbeteringsonthalwe, maar nou niks meer is as verandering vir veranderingsonthalwe nie.
Ons aanvanklike houding was dat ons moet verbeter – dit is egter nou dat ons moet verander hetsy daar goeie rede is vir verandering, al dan nie. Hierdie onverklaarbare drang om te verander word dikwels onder die dekmantel van aktivisme verkoop. Ons jeugdiges voel dat deur hul sosialemediateenwoordigheid te gebruik om die opmerking #cancelled op iemand se plasing te sit, goeie verandering meebring.
Groot dele van die samelewing leef in vrees van om iets te sê of doen wat die internetgemeenskap gaan beledig en dat dit daartoe kan lei dat jy afgeskryf word.
Kansellasiekultuur was aanvanklik gebruik om bewusmaking te skep van werklike oortredings en om seker te maak dat geregtigheid geskied, maar vandag word mense geantagoniseer vir ’n enkele omstrede opmerking of grap. Die vraag wat nou na vore kom, is waar trek ons die lyn tussen die samelewing se vergewingsgesindheid en aanspreeklikheid vir oortredings.
Die jeug se wanpersepsie van aktivisme en futiele pogings om nuttelose veranderings te maak, het gelei tot die ontstaan van die destruktiewe aanslag van kansellasiekultuur. Die ironie van die saak is byna komies. Ons jeugdiges gee voor om individualiteit bo alles te ag, maar die oomblik wanneer iemand met genoeg aanlyn volgelinge nie met jou saamstem nie, word jou mening as verkeerd beskou.
Kansellasiekultuur lei dus tot die onderdrukking van vryheid van spraak. Die alombekende vrees om ge-“kanselleer” te word, veroorsaak dat mense eerder stilbly en hulself uit die kollig uit hou. Daar word van jou verwag om te konsolideer tot kollektiewe identiteit van die kastige polities korrekte samelewing waar almal geregtig is op hul eie menings (mits almal saamstem met jou mening).
Ek is nie teen kansellasiekultuur nie, want daarsonder sal daar nie regverdigheid wees nie. Ons moet egter waak teen onregverdige oordeel en om drasties op te tree teen iemand wat nie noodwendig ’n kwaadaardige bedoeling gehad het nie.
- Neil Botha is ’n matriekleerling en hoofleier aan die Hoërskool Linden in Johannesburg.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.
Jy kan net ge-cancel word as jy dit toelaat. Ek sien in Amerika wil sommige onderwysers hê dat as jy nie saam die white guilt ideologie saam stem nie dat jy soortgelyk aan n pedofiel op n lys geplaas moet word. En dan, wat dan as ohulle op die lys is . Moet hulle dan verban word en in die bos gaan bly? Die wereld dogma is nie meer dat “all men are created equal” en dat talent nie enige rol meer speel nie maar die kleur vel wat jy het. Hoe ironies rassisties.
Ek dink die artikel is goed en logies geskryf. Dis jammer dat die kansellasiekultuur so baie mense “beheer”.