#JongStemme: Ken jouself voor jou baas jou ken

Deur Morné Bester

Morné Bester.

Aristoteles het eenmaal gesê: “Om jouself te ken, is die begin van alle wysheid”. Maar wat beteken dit om jouself te ken? Het jy nodig om op ‘n meditasie-uitstappie te gaan, of om ‘n gapingsjaar ná skool te doen? Alhoewel sulke ervaringe vir jou baie insig kan gee in waarvan jy hou, is daar ‘n makliker en goedkoper manier — ‘n psigometriese toets.

Ek en psigometriese toetse kom al ‘n lang pad saam. Ek het, soos alle gr. 9-leerlinge, aanlegtoetse gedoen om my te help om vakke te kies, en op universiteit was persoonlikheidstoetse deel van my leierskapopleiding by ‘n studenteorganisasie. Ek gaan jok as ek sê my opinie oor die waarde daarvan is heeltemal objektief, maar dit is nie nét ‘n opinie nie.

Ek begin in 2021 met my meestersgraad in bedryfsielkunde, of “werksielkunde” — ek studeer hoe om werk minder onplesierig te maak — en psigometriese toetse is een van die belangrikste, bekendste, en mees waardevolle afdelings van bedryfsielkunde.

Psigometriese toetse val hoofsaaklik in twee hoofkategorieë: vermoë-/aanlegtoetse, en persoonlikheids-/belangstellingstoetse. Aanlegtoetse se doel is om te meet hoe goed jy sekere take sal kan verrig, soos om teks te analiseer of om somme te maak. Persoonlikheidstoetse bepaal hoe jy heel moontlik sal optree in spesifieke omstandighede, en in watter dinge jy belangstel. Geen psigometriese toets sal ooit eenhonderd persent akkuraat wees nie, maar dit kan vreeslik waardevol wees vir jou of jou toekomstige werkgewer.

As jy al aansoek gedoen vir werk by groot, bekende maatskappye, het jy heel moontlik al ‘n psigometriese toets voltooi. Werkgewers soos Toyota, McDonald’s, Nestle, en Liberty Life gebruik almal psigometriese toetse om die beste kandidate aan te stel. Die menslikehulpbronnebestuurders van hierdie besighede weet dat psigometriese toeste van die beste voorspellers is van hoe goed ‘n kandidaat die werk sal kan verrig, en dat kandidate minder geneig is om te bedank as die werk by hul persoonlikhede pas.

Dus, hoekom behoort jy hierdie te weet? Dis heel eenvoudig. Sodat jy nie jou tyd en jou geld mors nie. As jy weet jou persoonlikheid of aanleg pas nie in ‘n kantoor waar jy met nommers moet werk nie, kan jy jouself al die moeite spaar om vir so werk aansoek te doen. En dit spaar jou ook die moeite en frustrasie om (sou jy dié pos aanvaar het) ná drie jaar weer ‘n werk te moet gaan soek — alles as gevolg van jy wat niks van die werk hou nie, of as gevolg van jou baas wat glo jy “pas nie in by die werkplek” nie.

Jou toekomstige baas gaan weet watter tipe mens jy is, want die waarskynlikheid dat hulle van psigometriese toetse sal gebruikmaak, raak al hoe groter. Maar, om bietjie navorsing te doen en ‘n geldjie uit te haal vir ‘n behoorlik gevalideerde psigometriese toets, kan jou toekomstige (of huidige) ervaring by die werkplek ten minste ‘n bietjie minder onaangenaam maak. Psigometriese toetse is nie meer net vir gr. 9-leerlinge wat moet vakke kies nie, dis ‘n kragtige instrument wat jou kan help om beter lewensbesluite te maak, want jy gaan beslis uitvind (as jy nog nie weet nie) wie jy is.

  • Morné Bester is besig met sy meestersgraad in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Pretoria en werk ook as navorsingsassistent by die UP se departement van menslike hulpbronnebestuur.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.