#JongStemme: Klein dade is beter as groot woorde

Deur Jacques Botma

Jacques Botma.

Die talle maatskaplike probleme wat al so deel van Suid-Afrika is, het ongetwyfeld gedurende die grendeltydperk vererger. Dit is dus nou van groter belang as ooit om maniere te vind hoe ons bydraes kan lewer om hierdie probleme teen te werk. Die metodes wat deur meeste mense tans gebruik word, is egter nie die oplossing wat meeste glo dit is nie.

Ons sien in hierdie tyd van groot onsekerheid ’n magdom mense wat positiewe bydraes wil lewer om ’n verskil in die wêreld te maak. Die duidelikste voorbeelde hiervan is die magdom petisies en hutsmerke wat sover in 2020 op sosiale media verskyn het. Hierdie sosialemediabewegings illustreer ’n groter verskynsel van die sogenaamde leunstoelaktivisme (slacktivism). Persone vaar uit op sosiale media oor sosiale probleme en so veg hulle blykbaar daarteen vanuit die gemak van hul gemakstoele of beddens.

Ten spyte van hul goeie bedoelings en hoe edel dit dalk mag wees om bewusmaking te doen oor kwessies wat die samelewing raak, kom daar ’n punt wanneer jy jou moet afvra hoe effektief ’n sosialemediaplasing is om hierdie probleme daadwerklik te beveg.

Dit voel dalk asof dit is. Baie van hierdie plasings se goeie bedoelings verdwyn egter as gevolg van deugdeseine (virtue signaling), die gejaag na “hou van” (likes) en mense wat lui word om werklik aksie te neem vir dit waarin hulle glo. Om van hierdie denkwyses en gewoontes ontslae te raak, is egter nie eenvoudig nie.

Omdat die mens, en tot ’n groter mate die jeug, so manipuleerbaar is, kan ons hulle werklik kwalik neem dat hulle die narratief, gewoontes en vorme van aktivisme wat in oorvloed is in die hoofstroommedia, naboots? Dit is natuurlik geensins ’n verskoning om blindelings voort te ploeter nie. Dit illustreer bloot die punt dat dit moeilik is om jou aksies en opinies te verander.

Moeilik, maar beslis nie onmoontlik nie. Daar is talle individue en organisasies wat daadwerklike verskille in gemeenskappe maak en die jeug positief opbou.

Die oorsprong van leunstoelaktivisme kom vanaf die wanpersepsie dat jy slegs verandering kan bewerkstellig vanuit ’n posisie van mag. Dit laat mense mismoedig. Sodoende sit hulle eerder plasings op sosiale media omdat dit maklik is en hulle laat voel asof hulle ’n groot skare bereik. Min dink daaraan om hul hande vuil te maak. Natuurlik is daar dan die valse idee dat iets bereik is ten spyte van die feit dat die persoon nie in ’n posisie van mag is nie, as bonus vir hierdie “harde” werk. Ten spyte van hierdie wanpersepsie en sy nagevolge, ís daar maniere om ’n positiewe impak te maak ongeag jou posisie in die samelewing.

Baie van die belangrikste probleme kom op grondvlak voor, in jou gemeenskap. As jy dus werklik ’n verskil wil maak, begin by jouself en die mense en instansies in jóú gemeenskap. Dit is nou ’n gulde geleentheid om jouself te verbeter en uit te vind hoe jy ’n bydrae kan lewer. Neem dus deel aan gesprekke met vriende, rolspelers in jou gemeenskap en mense met ander sienings as jou eie. Skakel in by alternatiewe media en stel jouself bloot aan ’n kaleidoskoop van idees en opinies sodat jy probleme uit verskillende perspektiewe kan benader en mense ontmoet wat jou wil help in hierdie proses. Daar is ook talle organisasies wat na positiewe groei in die samelewing mik waarby jy kan inskakel.

Partymaal word ons só behep met die hele wêreld te probeer verander, dat ons vergeet dat daar probleme reg voor ons oё is wat meer van ons aandag behoort te geniet. Soos die gesegde lui: “As jy dink jy is te klein om ’n verskil te maak, probeer om ’n aand in ’n kamer saam met ’n muskiet te spandeer.”

Begin by jouself en jou gemeenskap en beleef hoe vinnig dinge kan verander.

  • Jacques Botma is ’n eerstejaarstudent in BCom Regte aan die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Human ·

Jacques jy slaan die spyker op die kop ongelukkig is dit vir die meeste leuenstoel kommentaters die maklikste uitweg en manier van selfbevrediging as hul, hul kommentaar sien en dan vir hulself ‘n opwaartse duimpie kan gee vir die selffondane wysheid, wat hul kwytraak. Wat jy voorstel en aanbeveel kort ‘n kopskuif en uitkyk op die lewe wat ongelukkig nie maklik is. Dis baie makliker om te kla en te murmereer.

Marius ·

Jy is doodreg Jacques. As jy geen verskil maak nie hoekom bestaan jy? Om ‘n verskil te maak moet jy twee goed kan doen. jy moet eerstens leer om vir jouself te dink en tweedens moet jy denke omskakel in dade. Sonder enige van daardie twee elemente is jy oorgelewer aan die noodlot. Hoe meer jy afhankilik van ander mense word hoe minder werd word jy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.