#JongStemme: Lesse uit Corona

Kayla Vogler. (Foto: Verskaf.)

Deur Kayla Vogler

Matriek. ’n Jaar vir wit hemde (’n tradisie vir matrieks by my skool), leierraad, hope werk, agtiende verjaarsdae, “40 days”, en almal wat vir jou dieselfde toespraak gee: “Matriek is jou belangrikste jaar” terwyl jy jou oë rol en nog ’n keer deur Instagram gaan.

Maar vir die klas van 2020 is matriek ’n jaar vir gewone klere skool toe dra, hope werk aanlyn doen, agtiende verjaarsdae oor Zoom hou en “40 days” in kwarantyn. Nou kry ons almal ’n ander toespraak: “Julle sal daardeur kom”.

Die enigste voordeel is dat jy nou sommer in jou wiskundeperiode op Instagram kan gaan sonder dat juf. Poggenpoel vir jou deur haar dik, pikswart brilraam gluur.

Op 18 Maart 2020 is die eerste kwartaal van ons “beste jaar” kortgeknip as gevolg van ’n virus wat die Suid-Afrikaanse grense oorgesteek het. Min het ons geweet dat hierdie onsigbare vyand ’n groter impak op ons matriekjaar gaan hê as die Wêreldbeker-eindstryd op Suid-Afrika.

Ons het skoolbanke en witborde verruil vir rekenaarskerms en Zoom. Ons het nie die kans gehad om uit te draf as die eerste span van ons skool nie. Die verhoog is leeg gelos sonder dat ons ons produksies kon opvoer en ons moes ons redenaarskaartjies vir ’n video-opname verruil.

Ten spyte van die impak wat Covid-19 op ons skoolstelsel, ons ekonomie en ons land in die geheel gehad het, het ek een groot lewensles geleer… om te hoop.

Ek het geleer hoe om my kop hoog te hou as dit voel asof alles om my inmekaarsak omdat ek weet dat daar ander is wat opkyk na my. Ek het geleer hoe om sterk te staan terwyl my knieë eintlik wou ingee en ek net wou moed opgee. Ek het geleer om vir die silwer randjie te soek al het dit gevoel of ek in ’n donderstorm vasgevang is.

Ek het geleer om in myself te glo, terwyl ander aanhou vir my en my matriekjaar te sê dat die koeël deur die kerk is. Ek het selfbeheersing geleer en ek kon dit toepas sonder dat iemand oor my skouer loer. Ek het geleer hoe om hoopvol te wees, al het ander om my alreeds opgegee. Daarmee saam het ek meer van my familie geleer. Om vir amper 70 dae lank saam in kwarantyn te wees, leer ’n mens nogal nuwe perspektiewe oor die lewe, jou omstandighede en jou liefde vir jou medemens.

Ek het ook geleer dat matriek oor meer as net ’n blink rok en ’n spoggerige kar gaan. Dit gaan oor vasbyt, deurdruk en hard werk sodat jý die vrugte daarvan kan pluk en smul daaraan!

Aan die klas van 2020, julle is legends! Almal staan agter ons en glo in ons, dis tyd om in jouself ook te glo! En aan die klas van 2021 en al die jare daarna, julle gaan ook legends wees en ONS staan agter julle!

Laastens, dankie Tannie Corona! Sonder jou sou ek nie wees waar, wie en wat ek nou is nie.

  • Kayla Vogler is in matriek aan die Hoërskool Eldoraigne. Sy is mal oor lees, skryf en storievertel. Om vir Maroela Media te kon skryf, is vir haar ’n groot eer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae