#JongStemme: Liberalisme het misluk

Deur Daniël Visser

Daniël Visser.

Vandag leef ons in die tyd van sogenaamde totale vryheid. Anders gestel leef ons in die tyd van liberalisme.

Liberalisme as ideologie is die strewe na die utopiese ideale van vryheid, gelykheid en vooruitgang. Dit is ʼn ideologie met sy wortels diep geanker in die konseptuele beginsels van die verligte era, maar baie spesifiek die Franse Revolusie. Dit is begrond in die idee om die mens te bevry van enige bande rondom die politieke en sosiale sfeer wat ʼn mens se natuurlike vryheid beperk. ʼn Mens sou jouself voorstel dat hierdie tipe vryheid ʼn baie redelike ding is om na te streef. Indien liberalisme in beginsel dan so ideaal is, hoekom het dit misluk?

Om liberalistiese beginsels sodoende toe te pas, beteken uit die aard van die saak nie net om ʼn “volwaardige demokrasie” te handhaaf nie. Patrick Deneen skryf: “liberalisme het misluk, nie omdat dit toegepas is en nie gewerk het nie, maar omdat die beginsels juis toegepas is en geslaag het.” Dit klink verwarrend, maar wat Deneen hiermee bedoel, is dat die liberalistiese ideologie fundamentele wanopvattings van die mens en die wêreld waarbinne hy leef, bevat. Soos liberalisme in homself gegroei het, het sy eie fundamentele beginsels homself begin weerspreek. Een van die plekke waar hierdie einste fundamentele wanopvattings in liberalisme baie pertinent voorkom, is in die opleidingsfeer.

Jongmense word vandag groot met die idee dat ekonomiese lewensvatbaarheid die alfa en die omega van hul loopbaanpad is. Anders gestel, beteken dit dat jongmense geleer word om al hulle tyd, geld en energie te belê om hulself so te posisioneer dat hulle die ekonomiese leer tot heel bo sal kan klim. Waar lê die denkfout hierin?

In ʼn wêreld waar jongmense net opgelei word om by die bopunt van die ekonomiese leer uit te kom, is daar nie ruimte vir vormende (klassieke) onderrig nie. Jongmense word geleer dat die enigste sinvolle politiese saak is om gelykheid onder alle mense te bevorder, selfs al word dit net as instrument gebruik om die ideologies- en dus ekonomies-lewensvatbare mense te sif en van diesulkes te skei wat teenstrydige sienings het wat ekonomiese en politiese sake betref.

Daarteenoor is die afgeskeepte alternatief van vormende (klassieke) onderrig met sy oorsprong onder andere uit die werke van antieke Griekse filosowe soos Plato en Aristoteles, die Christelike geloof en natuurlik die lesse uit die verlede. Hierdie idee kan in ons moderne tyd moontlik ook as die opvoedingsideaal beskryf word.

Dié opvoedingsideaal sal jy teëkom by die meeste sterk Christelik- en Westers-begronde universiteite soos Hillsdale College, Baylor University of Grove City College in die VSA, om maar enkeles te noem. Die oorspronklike doel hiervan was om individuele vryheid deur opvoeding te stimuleer. Met opvoeding word bedoel dat jongmense se opleiding oor meer gaan as om bloot by ʼn universiteit in te kom, ʼn kwalifikasie te kry en deel te word van die stelsel met alle hoop om aan die bopunt te eindig, eerder as heel onder. Hierdie opvoedingsideaal is daarop gemik om jongmense te vorm in diepbegronde, volronde mense wat ʼn goeie begrip van die geheel van dinge het.

Die opvoedingsideaal se uiteindelike doel van om vrye mense op te lei wat ten gunste van selfregering is, word aggressief deur radikale linkse groepe aangeval wat hul wortels in die idees van spesifieke denkers soos Karl Marx vind.

Boonop is opvoedkundige en klassieke meesterwerke as irrelevant bestempel. Dit is bloot net nie ekonomies prakties genoeg nie. Dit is egter nie meesterwerke genoem omdat dit net oud is en goed geskryf is nie. Deneen meen die meesterwerke is belangrik, want “dit is die lesse wat die mensdom deur die eeue op ʼn harde manier geleer het van hoe mense leer om vry te wees.” Hy noem ook verder iets baie belangriks: “…maar spesifiek om vry te wees van die tirannie van ons onversadigbare begeertes.”

Die bron van die liberalistiese mislukking lê onder andere in hierdie einste stelling van Deneen. Die verwerping van die klassieke opvoedingsideaal is een van die primêre plekke waar die mislukking van liberalisme gesien kan word.

Om op te som – ware vryheid lê nie noodwendig in die liberalisering van enige sosio-politiese, godsdienstige of ekonomiese bande en verpligtinge nie, maar eerder in die bewuswording en verstaan daarvan dat ons menslike natuur self die middel is van ons onderdrukkende gevangeskap. Hierdie beginsels kan slegs ordentlik van geslag tot geslag oorgedra word deur middel van wat ons vandag die opvoedingsideaal kan noem.

  • Daniël Visser is ʼn tweedejaarstudent in BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) aan Akademia. Hy dien ook op die studenteraad as SR: Kultuur.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hardekwas

Ek dink jy sit die pot mis. As liberalisme misluk het, hoekom is die teenpool daarvan feitlik tot niet? Regtens aldan nie.

Johan

Liberalisme misluk? Kan maar net wens. Ongelukkig staan liberalisme nog sterk in ons midde. Daar is te veel mense wat aan daardie ideologie vasklou. Want jy sien, met liberalisme het hulle oogklappe op en sien die ware probleme mis. Want om slagoffers te speel is soveel makliker.

ABDP

Baie goeie navorsing. Liberalisme is nog nie verby nie, alhoewel dit vinnig besig is om te misluk, gaan dit nog lank vat vir die liberale om te erken. Ironie van die saak is, dat hulle so vas glo in “alles en almal moet GELYK wees” dat dit hulle eers hul self teen die vloer gaan platvee voordat hulle sal erken. Al ontken meeste liberale dit nie, en is hulle die grootste kampvegters vir gelykheid, is die grootste ongelykheid te bespeur onder hulle self. ‘n Goeie voorbeeld is Hollywood akteurs/trieses wat ewe liefs arm wesies versorg en voed, maar ‘n grote… Lees meer »