#JongStemme: Matriek? Hoe lyk ons toekomsvisie nou?

Deur Karla Jonker

Karla Jonker.

‘‘2020 Visie’’. Ons skerp uitgedinkte matriektema toe ons maar nog in gr. 8 was omdat die graad aggies van 2016 mos die matrieks van 2020 sou word.

Wat ’n beter tema as perfekte visie en woordspeling? het hulle gedink. Ek is seker die perfekte visie wat hulle in gedagte gehad het, was nie die toekomsvisie wat nou in ons almal se koppe ronddraai nie.

’n Toekomsvisie vol twyfel, onsekerheid, angs, bekommernis en nog vele ander negatiewe emosies. Maar as daar een ding is wat ek al in die lewe geleer het, dan is dit om op te hou kla en liewer op die positiewe te fokus!

Natuurlik is hierdie nie hoe my matriekjaar in my kop (en hart) afgespeel het nie, maar darem is daar positiewe aspekte wat ook uit die grendeltydperk kom. Ek wil nie veralgemeen nie, maar vir my en ’n klomp van my vriende, dwing hierdie tydperk ons om meer op ons skoolwerk te fokus. Skielik is daar soveel meer tyd in my dag, geen ander aktiwiteite om my aandag af te trek nie en die besef van die belangrikheid van hierdie jaar, is my dryfveer agter konstante, harde werk.

So ja, dit waaroor skool eintlik gaan (akademie), word geaksentueer. Maar ongelukkig word alles wat skool lékker maak (alles anders as die akademie), opeens net ’n herinnering. Ek is jammer hieroor, nie net omdat dit ons laaste jaar is om hierdie aktiwiteite en gebeurtenisse te beleef nie, maar omdat dit hiérdie gebeurtenisse is wat vir ons lewenslus gee!

In die grendeltydperk volg jy dag ná dag ’n roetine: werk, eet, oefen (miskien), slaap. Omdat die mens ’n aanpasbare roetinewese is, pla dit op die huidige oomblik seker nie so baie nie, maar het jy al gestop en hieroor gedink? Die enigste opwinding wat ons kry, is van sosiale media, televisieprogramme en die bure se hond wat eergister in ons erf ingehardloop het. Soos robotte gaan ons dag ná dag aan met ons noodsaaklikhede en vergeet so vinnig hoe dit voel om te léwe. So dikwels hoor mens: “Don’t just exist, live!” Maar hoe doen mens dit as jy agter slot en grendel moet wegkruip vir ’n virus wat moontlik nie eens na jóú op soek is nie?

Ons kan ons wel daaraan troos dat die jaar nog nie verby is nie en dat baie van die dinge waarna ons as matrieks uitgesien het, nog moet kom. Al gaan dit miskien ’n aanpassing vereis, is daar steeds ’n moontlikheid dat ons nog van ons laastes kan beleef, al is dit net ’n laaste skooldag.

Al gaan ons miskien vir altyd onthou word as die Covid-19-matriekgroep, gaan ons ook onthou word as die groep wat by hierdie verskriklike pandemie aangepas het. Party het deurgedruk, terwyl ander miskien besluit het om deel te word van die matrieks van 2021. Almal pas maar op hul eie manier aan.

Met opgekropte emosie kom ek tot die besef hoe hartseer ek eintlik is oor ons finale jaar wat omvêr gegooi is. Nie hartseer omdat ek hartseer is nie, maar hartseer omdat ek trots is. Trots op alles wat ons as matrieks al behaal het en op die mense waarin ons almal herskep is. En omdat ons nie hierdie trots met mekaar kan deel nie. Tog wil ek hiermee ook geluk sê aan elke matriekleerder van 2020. Jy is besig om geskiedenis te maak!

2020 Visie. Nie noodwendig die perfekte, gladde toekomsvisie waarvoor ons aanvanklik gehoop het nie, maar moontlik ’n beter een! Een wat bepaal word deur suksesvolle aanpassing (op watter manier ook al), innovasie en die besef wat die lewe eintlik werd is!

  • Karla Jonker is ’n matriekleerling aan die Helpmekaar Kollege in Johannesburg. Sy is passievol oor kultuur, sport, akademie, en haar medemens.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Ongelukkig is buitemuurseaktiwiteite baie belangrik om ‘n balaans in hierdie kinders se lewens te skep, wat totaal weg gelaat is in hierdie laaste tydperk. Akademie is belangrik, maar ongelukkig is daar ander dinge wat net so belangrik is. Die feit dat sommige mense dink dat hierdie ‘n voorbereiding is vir Universiteit, maak ‘n groot fout, hierdie als behalwe hoe die lewe op universiteit lyk. Hierdie is ‘n buitegewone jaar vir almal. Ek sidder om te dink wat se druk op die matrieks gaan wees met die terugkeer na die skole vanaf Maandag. Hierdie kinders beleef opsigself reeds ‘n moeilike jaar, hierdie tyd dra by tot meer stres om te presteer.
Ek wens almal van Klas 2020 sterkte toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.