#JongStemme: Matriekpunte is nie alles nie

Deur Nicolas Rust

Nicolas Rust.

Matrieks het die week hul uitslae ontvang.

Hierdie is ongetwyfeld een van die grootste keerpunte in my lewe. My hele toekoms, soos dit tot vervelens toe verduidelik is, hang van hierdie paar nommers af. Wat ek mag studeer, watter werk ek kan kry, hoe ek onthou sal word en die verskil wat ek kan maak in die wêreld.

Van kleins af is ek, en omtrent almal wie ek ken, vertel van die belang wat punte dra en dat ons lewe sonder goeie punte niks anders as onsuksesvol kan wees nie.

Is dit werklik so?

Ons realiteit het in hierdie laaste paar jare drasties verander. Hierdie is niks spesiaal nie omdat dit konstant gebeur – die mensdom maak tog vordering en ons leef in ’n veranderende wêreld. Die ervaring van ’n realiteit wat verander, is wel iets spesiaal. Jou begrip van die lewe word basies op sy kop gesit. In my geval voel ek asof die belang van punte begin afskaal. My werklikheid is dus verander.

Orals rondom my sien ek mense wat alreeds werk kry, al is hulle nog nie eens ’n halfjaar uit matriek nie. Die feit dat dit nie net vakansiewerk is nie, maar lewenslange beroepe, maak hierdie verwikkeling net meer kragtig. Praktiese ervaring is goud werd, en tersiêre instellings wat hierdie raaksien, word die nuwe standaard.

Op die oomblik is punte steeds ʼn groot deel van naskoolse sukses, maar hulle het byna geen invloed op ’n doelgerigte denkwyse nie. Rich Dad Poor Dad deur Robert T. Kiyosaki beeld hierdie baie goed uit. Ek is nie seker of ek goed of sleg hieroor moet voel nie.

Aan die een kant is ek verplig om te sê dat teoretiese kennis nog nie uit die mode is nie. Dit is ook van kardinale belang vir spesifieke beroepsrigtings. Daarvoor benodig jy goeie punte en ʼn goeie opvoeding.

Aan die ander kant kry mense, wat afgerond is met praktiese ondervinding, beroepe teen die spoed van wit lig. Talle beroepsrigtings wentel slegs om ondervinding.

Dus kan ek sê dat ’n universiteitsgraad of -diploma nie die begin en einde van jou lewe hoef te wees nie. Vir ’n persoon wat sy/haar hele lewe al vir ’n graad gemik het, is hierdie werklik ’n verandering in denkwyse.

Ja, ek beplan nog om voort te gaan met my studies. Ek is ook van plan om ’n meesters te kry.

Dit is wel behulpsaam om te weet dat die noodplan van ouds meer water dra. As my planne skeef loop en ek voltooi nie my graad nie, sal ek nog steeds die geleentheid hê om iets te maak met my lewe. My sukses hang nie van my universiteitsukses af nie.

’n Matriekkandidaat wat nie bekommerd is oor sy/haar punte nie, is skaarser as hoendertande. Vir diegene wat sleg voel oor hul planne wat klaar deur die mat geval het nadat hulle hul matriekuitslae gekry het, weet net dat ’n plan nooit kontak met die vyand oorleef nie en dat jou nuwe werklikheid die potensiaal het om steeds ’n goeie een te wees.

Jou toekoms en werklikheid bly in jóú hande van geboorte tot die lewe hierna en punte het net so min reg as enigiets anders om dit van jou te ontneem.

  • Nicolas Rust het op ’n appelplaas buite Grabouw in die Wes-Kaap grootgeword en woon steeds daar.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.