#JongStemme: Met ʼn naam gaan ons deur die stroom

Deur Marisha Hermann

Marisha Hermann.

Ek lees nou die dag van ʼn man wat met ʼn haai in die strate rondgehardloop het. Ek het nie eens gewonder of dit moontlik fopnuus kan wees nie, want iets só belaglik kan dalk in hierdie land van ons waar wees.

Ek hoor om braaivleisvure van “verantwoordelike steel” en woede wat woed. Ek sien die impak van Covid-19 raak elke keer as ek net na die oë rondom my kyk. Dis die konteks van die tyd waarin die jeug vandag grootword. Covid-19, onluste, woede, onsekerheid, afbreek … Maar die jeug staan sterk!

Ons bou en ons maak ons naam groot. Die eerste Akademia-koshuis het op 5 Augustus sy naam bekendgemaak. Deur steeds ʼn naam bekend te maak en identiteit te vorm, is ʼn glashelder bewys dat die jeug sê: Ons staan sterk deur die stroom.

Die Akademia-koshuis stel met trots ons naam bekend: Huis Valorem. Die naam is Latyns omdat ons in die klassieke geskiedenis gegrond is. “Valorem” het vele betekenisse. Dit word soos volg uit die Latynse letterkunde vertaal: Waarde, krag, deursettingsvermoë, sterk wees en dat dit goed gaan, dat ons gesond is.

In Regslatyn beteken dit karakter en integriteit en in Frans word dit gebruik vir iemand wat sterk is, ʼn sterk karakter het en iemand wat braaf is. Hierdie woorde beskryf elke Akademia-koshuisstudent en dit waarna ons streef.

Die impak van ʼn naam is besonder groot. Om ʼn naam te hê, skep ʼn atmosfeer van behoort, struktuur en eenheid. Die oomblik toe ons aan ons koshuis ʼn naam kon gee, kon ons aan ons koshuis ʼn identiteit met waarde gee wat as rigtingwyser na die toekoms dien.

Terwyl die man met die haai in die straat rondhardloop, koop Huis Valorem vir hulle troeteldiere; twee pragtige goudvissies. Terwyl die land brand, steek Huis Valorem ʼn samesynvuur aan en sing saam. Terwyl daar in die land afgebreek word, maak Akademia seker dis nie die laaste koshuis wat naam gaan kry nie en word daar reeds planne vir nog koshuise gemaak. Ons bou steeds voort.

Die Akademia-studente staan sterk en dit gaan goed met ons omdat ons ʼn toekomsvisie het. Ons is braaf, want ons gaan deur die stroom.

  • Marisha Hermann is ʼn eerstejaarstudent in BA Kommunikasiekunde aan Akademia en dien as primaria van Huis Valorem.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.