#JongStemme: Moenie al jou menings aan die groot klok hang nie

Deur Sven R. Spangenberg

Sven R. Spangenberg.

Twiet vir twiet, kansellasie ná kansellasie raak die distopieë van Orwell en Bradbury al hoe meer ’n realiteit. “Big Brother” is klaar hier, hy hou boek van al jou voorkeure op sosiale media, jou “likes” en die mense wie jy volg. Die brandweermanne met die salamanderkenteken op hul skouers is besig om met hul vlamspoegende kansellasiekultuur die vurige besmeringveldtogte van mense wat hul opinies deel te sensor. Twiet vir twiet stap ons nader aan ’n distopiese realiteit waar sensorskap sal heers.

Inligting word teen die spoed van lig versprei en menings oor hierdie inligting versprei nóg vinniger. ’n 2018 MIT (Massachusetts Institute of Technology)-studie beweer dat fopnuus op Twitter ses keer vinniger versprei as die werklike nuus.

Hoekom?

Almal voel dat hulle iets weet en wil hê dat mense moet wéét dat hulle iets weet. Die internet het platforms geskep waar individue hul kennis met die hele wêreld kan deel, maar in dieselfde asem skep dit ‘n slaggat waarin elke persoon trap en die slagoffer word – want ons glo dat omdat ons ‘n mening het, ons dit aan die groot klok móét hang.

Bekendes (met miljoene “volgelinge”) se twiets veroorsaak ’n katastrofiese sneeubaleffek van fopnuus en kansellasiekultuur. Ewe skielik voel die massas hulle besit ál die kennis oor enige kwessie en die kundiges word wantrou.

Daar is geen nuus in fopnuus nie. Dit is leuens.

Tom Nichols skryf in sy boek The Death of Expertise:

“The resulting flood of information, always of varying quality and sometimes of uncertain sanity, creates a veneer of knowledge that actually leaves people worse off than if they knew nothing at all.”

Dit kom neer op ’n dilemma waar daar ‘n kwantiteit van kennis is eerder as kwaliteit van kennis. Mense moet net minder opinies hê.

Die kultuur van stamwese (tribalism) wat vandag heers, is ook noemenswaardig. Meeste van die mense wat hul opinies lug, wat vir of teen ’n kulturele beweging staan, weet grotendeels glad nie hoekom hulle dit doen of sê nie. Dit is net die “populêre en regte” ding om te doen op ’n spesifieke tydstip, in daardie samebindende oomblik, omdat almal om hulle, asook mense in gesagsposisies, dit doen. Oor ’n maand of vier vergeet almal daarvan en beweeg aan na die nuwe, volgende sosiale/ kulturele beweging en/of smeerveldtog.

Niks is so onseker soos die oordeel van die massas nie. Dis die paradoks waar ons reg tot vryheid van spraak en denke floreer, maar terselfdertyd krepeer.

Ons moet liewer nie al ons menings op sosialemediaplatforms uitblaker nie – dit kos ons net dalk ons reg daartoe.

  • Sven R. Spangenberg is ’n tweedejaarstudent in filosofie en sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

katerinadiekat ·

Yes conservative opinions are being demonised. People with conservative opinions are being cancelled. And by conservative opinions i mean sane and sensible opinions. Not Nazi white supremacist opinions. Merely being sane and realistic and having common sense opinions. The irony would be hilarious if it was not so sickening. No one is more Nazi -like than the left, the SJW, the new liberals. Ek het 2 goeie Amerikaanse vriende aanlyn wat altwee liberale is. Ek het dit vir altwee baie duidelik gemaak: ” Ek bespreek nie politiek nie, ek bespreek nie hulle haat vir Trump nie, ek bespreek nie hulle liefde vir Hillary of Obama of Biden nie – ek is Suid Afrikaans so ek het oorgenoeg probleme van my eie, baie dankie”. Hulle is darem nie van die tipe liberale wat voel dat iemand met n ander opinie as hulle van die aarde weg gevee moet word nie. Maar ek gaan nie dat goeie vriendskappe versuur word oor n alewige gestry en gedebatteer oor politiek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.