#JongStemme: Moenie dat Covid-19 in jou pad staan nie  

Deur Lize-Marie Swart

Lize-Marie Swart.

Daar is een woord op almal se lippe die afgelope vyf maande en dit is ʼn woord wat in die geskiedenis aan die jaar 2020 gekoppel gaan wees: Covid-19.

Covid-19 het homself in ʼn oogwink kom tuismaak in ons midde, en vinnig deel geword van ons daaglikse lewe.

Daar is vier magtige woorde wat ʼn nasie byeen gebring het. Almal word stil wanneer hulle die volgende woorde hoor van pres. Cyril Ramaphosa: “My fellow South Africans.” Dit is in daardie oomblik wanneer vier woorde jou terugruk na die realiteit, ons nuwe realiteit.

Die meeste van ons het in die afgelope paar maande daarmee vrede gemaak dat ʼn mens die veranderinge moet aanvaar wat oor jou pad kom. Die vraag is nou: Hoe maak die matrikulante van 2020 vrede daarmee dat daar nie matriekafskeid gaan wees nie, of dat hulle nie vir die laaste keer vir die eerstespan kan speel of vir ʼn laaste keer voor ʼn gehoor ʼn redenaarstoespraak kan lewer nie.

Skole is onder geweldige druk om aan te pas by die uitdagings wat hierdie virus stel. Onderwysers gaan uit hul pad om die nuwe manier van skoolgaan so draaglik moontlik te maak vir elke leerder. Elke dag staan hulle met ʼn glimlag en ʼn boodskap van bemoediging voor ons, maar agter die glimlag skuil daar vrees: vrees vir hul eie gesondheid en vrees vir elke leerder voor hulle se gesondheid.

Net voor ons soggens by die deur uitstap word ons gedwing om maskers op te sit – dit is die nuwe norm. Op pad skool toe praat hulle op die radio oor hoe Covid-19 tot dusver ons lewe beïnvloed het en net daar sit ek sommer die radio af. By die skool sien ek hoe die kinders sukkel om asem te kry met die verskriklike masker op. Ek sien ook hoe vriende daarna smag om langs mekaar te kan staan sonder om bekommerd te wees oor sosiale distansiëring.

Daar is geen vrae meer wat ons wil of kan vra oor Covid-19 nie en die vrae wat ons wel vra is sonder antwoorde. Die hele jaar lank word ons al toegegooi met inligting rakende Covid-19. Eintlik is meeste mense al moeg vir Covid-19. Selfmoord neem toe, hongersnood neem toe, werkloosheid neem toe, terwyl ons onsself bekommer oor Covid-19. Die wêreld konsentreer op een punt, terwyl die grootste probleme onder die dekmantel gevee word.

Covid-19 het verwoesting kom saai, maar dit het ook ʼn positiewe kant meegebring saam met die nasionale staat van inperking. Gesinne en families kon weer kwaliteit tyd saam deurbring, of dit nou in persoon of met behulp van tegnologie was.

Covid-19 het die wêreld op sy kop gekeer. Tog moet ons almal moed hou en vorentoe beweeg.

Ek laat jou met hierdie gedagte: Jy een hede, een verlede en een toekoms wat voor lê. Moenie dat Covid-19 in jou pad staan om jou drome te bereik nie.

  • Lize-Marie Swart is ‘n matriekleerling aan die Hoërskool Tuine. Sy wil volgende jaar ‘n BA graad in joernalistiek en kommunikasie aanpak. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Lize-Marie, ek is ook een van daardie mense wat ook al so keelvol is om te hoor van Covid-19 dat ek ook sommer die radio afsit, en ook nie meer so gereeld nuus kyk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.