#JongStemme: ‘Moenie my sê nie!’

Deur Milda van Dyk

Milda van Dyk

Ná byna twee jaar op Stellenbosch, kan ek steeds nie besluit watter een – die grou winterreën of die gespanne atmosfeer in die koshuis en op kampus – die misliker een is nie.

ʼn Jaar gelede het die hare gewaai toe ons “gesê” is om nie Afrikaans met ons Afrikaanse vriendinne te praat nie. Vandag, ʼn jaar later, word ons “gesê” om ons studies te staak en te betoog vir die uitstel van die eksamen (omdat uitstel glo sal opmaak vir rassisme-trauma). Waag ʼn mens dit dan om op te staan vir dit waaraan jy glo, kies jy om nie aan die betogings deel te neem nie, of plaas jy ʼn teenstrydige opmerking op sosiale media, dan word jy summier en sonder verhoor as ʼn “wit bevoorregte” gebrandmerk. Absurd, is dit nie?

Ek is moeg om voor “gesê” te word. Waar is my grondwetlike vryheid en my reg op uitdrukking as ek gedwing word om in ʼn boksie te pas, waar “ja-en-amen” op alles wat ek “gesê” word om te wees en te dink en te doen, my voorland is?

Sedert die onlangse onrus op kampus, is dit selfs meer onrusbarend om te hoor hoeveel sterk, gedrewe, invloedryke studente, wat met blink oë, groot verwagtinge en betekenisvolle leierskap-ideale die koshuislewe aangepak het, nou van deuntjie verander en eerder wil oppak en hul CV’s met ander prestasies vul as om te streef na leiersposisies in die koshuise of op kampus. Die politieke en liberale chaos, rassisme en onderdrukking wat al hoe meer in koshuisstrukture posvat, “is nie die moeite werd nie”, heers gesprekke.

Moenie my “sê” in watter taal ek met my vriende mag praat nie.

Moenie my “sê” om uit die biblioteek te kom om saam te toi-toi nie.

Moenie my aangluur as ek nie “Awethu!” antwoord op die “Amandla!”-roep wat deur Victoriastraat eggo nie.

Moenie ʼn vlag vertoon wat nie deur die hele koshuis ondersteun word nie.

Moenie my sê nie!

Die stilte sis soos slange in die koshuisgange. Durf ek − gebrandmerkte fluitjieblaser − iets uiter, dan hoor ek dat ek van die koshuisbalkon “afgeskop” gaan word. Dus bly ek, soos so baie ander gebrandmerktes, alweer eerder stil, terwyl frustrasie en woede en wrokke ophoop, want die brandmerk sit nog ongeblus op my wit vel.

Nog een betoog voordat my moed my ook begewe en ek die aftog, om ʼn verskil te maak, blaas: Moet ek vastrap en die guerrilla-oorlog deur middel van ʼn leierskapsposisie in die koshuis aandurf, om só ʼn verskil te probeer maak? Of moet ek maar op my tande byt en my dryf sluk, en eerder ʼn glasie wyn klink op die min “sorgelose” studentejare wat ek oor het? Want miskien is daar meer waarde daarin om ʼn graad te kry waarmee ek meer kan vermag as om my energie op hopelose politiek te spandeer. MAAR… wat dan van die koshuislewe en al die naïewe blinkoog-studente wat nog op pad is Maties toe − wat bly vir hulle oor as niemand nou gaan ingryp nie?

Tog, sou ek die leiersopsie kies, wil ek nie “gesê” word hoe om leiding te neem nie. Ek sal staan as kandidaat omdat ek wil inploeg op my manier van diensbare leierskap, nie om verpligte sosialemediaplasings te maak of my koshuis tot oproer op te stook of ʼn ja-broer te word teen my oortuigings nie. Ek wil nie “gesê” word nie.

Gee raad, stuur hulp voor ek stagneer en verdwyn in die skreeuende stilte van frustrasie en moedeloosheid. Vir nou klink ek ʼn glasie op ʼn ewigdurende eksamen wat verby is, en in afwagting op die volgende brandmerk wat wag as ek durf uiter dat ek nie “gesê” wil word nie.

  • Milda van Dyk is ʼn tweedejaar BRek. LLB-student aan die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lourens CFG ·

Ek het nie raad vir jou nie, maar wil net sê “Alle sterkte met julle gesê wordery”.
(Ek weet daar is nie so ‘n woord nie, maar almal sal weet wat ek bedoel.)

Annie Webb ·

My Skattie, jy skuld niemand iets nie, ook nie dié wat na jou op Maties gaan studeer nie. Soos soveel ander dinge in die land, is die Maties wat ek geken het, onherroeplik verby. Jy is daarop geregtig om jou studentelewe te GENIET, gaan doen dit waar jy nie 24/7 moet verskoning vra omdat jy wit is nie. US sal uiteindelik verval, soos alles in die Derde Wêreld, los dit vir dié wat op verval floreer. Daar IS ander opsies.

miche ·

Inderdaad ‘n uitstaande meningstuk, Milda.
Ek het ‘n baie goeie gevoel dat persone in die regte plekke hiervan ( jou skrywe) gaan kennis neem. Jou toekoms blink.

Eclectus ·

Thomas Paine het gesê om te redeneer met ‘n persoon wat die gebruik van rede verloën het, is soos om medisyne aan die dooies toe te dien. Al raad wat ek het is dat jy moet vasklou aan jou beginsels want dit is al wat op die lang duur staande bly. Daar staan immers geskrywe dat hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is, hulle sal word soos niks en jou teëparty sal omkom.

wim ·

Baie goed gestel Milda.

‘n Universiteit is veronderstel om die bakermat van vryheid van spraak en denke te wees. Ek is baie teleurgesteld en hartseer waartoe my alma mater verval het.

Ek dink ‘n sterk saak kan gemaak word dat die US die ruim skenkings en grond van Jan S Marais (wie se standbeeld in elk geval ontsier was) moet teruggee aan die trust, sodat dit elders gebruik word by ‘n instansie wat bereid is om met die (mooi) idiale na te streef waarvoor dit nagelaat is.

Groete van ‘n oud Matie. (Jammer ei het nog nooit van ‘n Stellie gehoor nie).

ABDP ·

Ek het presies tien jaar terug my graad gevan by NWU Potchefstroom kampus en was nagraads nog deeltyd betrokke tot 2017. Dit was ongelooflike kultuur skok om te sien waarheen die afrikaans sprekende kampus met sy lekker afkrikaanse kultuur verdwyn het. Ek was diep diep teleurgesteld en het myself gevra, moet ek enigsins nog VIR afrikaanse afrikaner studente DIE PUKKE aanbeveel? Dit het diep in my gesny om te dink ek sal nie, wand binne ‘n paar jaar het ek nie meer tuis gevoel by die universiteit nie. My hart gaan uit aan vele dosente, studente en administratiewe personeel wat ook uitgesluit voel. Ek is kwaad vir die wat maar net saam met die stoom af beweeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.