#JongStemme: Moenie te gemaklik raak in die grendelstaat nie

Deur Morné Bester

Morné Bester.

Weermagtenks in die strate. Geen uitgang uit die land nie. Die regering besluit watter inligting die burgers mag en nie mag versprei nie.

Nee, ek verwys nie na Suid-Afrika se grendelstaat as gevolg van die Covid-19 pandemie nie; ek verwys na Mao se China, Oos-Duitsland tydens die Koue Oorlog en Venezuela die afgelope vier jaar.

Dis baie maklik vir ons om te sê ons regering is net besig om pro-aktief te wees sodat ons nie deel in Italië of die VSA se lot nie, maar as ons nie versigtig is nie, kan iemand maklik misbruik maak van die omstandighede – en dié wat sál misbruik maak, is juis dié wat ons nie wil hê moet nie.

Die pandemie het tot dusver nie ’n tekort aan staatsleiers wat die virus se nagevolge ontgin vir alles wat dit werd is nie. Die feit dat ondersoeke ten opsigte van eerste minister Benjamin Netanyahu van Israel se korrupsieverhoor nie kan voortgaan nie, pas hom goed, en Hongarye se Viktor Orban het die geleentheid aangegryp om ’n geweldige hoeveelheid mag aan homself toe te ken om die krisis te hanteer.

Hierdie voorbeelde klink dalk verafgeleë, maar in ’n land waar sosialistiese beleide boaan die regering se lys is, moet ons nie verbaas wees as die vrees wat ons nou ervaar om uit die huis uit te loop, dreig om langer as 21 dae te duur nie.

Die tekort aan inkomste wat die meeste Suid-Afrikaners nou ervaar (en meeste van hulle al ervaar het voor ons enigsins geweet het wat ’n koronavirus is), is ’n probleem wat ons leiers maklik in die versoeking kan lei om hul ideologiese planne nou deur te druk. Oplossings soos grondonteiening sodat dié wat in arm gebiede bly sosiale distansiëring beter kan uitvoer, of voorgeskrewe bates om voorsiening te maak vir dié wat nie tans genoeg verdien nie, word nou deur hul voorstanders nog meer gepropageer. En met ’n staat wat nou meer mag het vir skielike besluite, en burgers wat nie in die strate kan betoog nie, is teenstand teen hierdie giftige idees in groot tekort.

Of jy nou van mening is dat die algehele landwye afsondering ’n goeie pro-aktiewe besluit was, en of jy dink die reaksie is heeltemal te groot vir die risiko, waaksaamheid moenie verlore gaan terwyl ons in isolasie sit nie. Ek probeer om nie te veel nuus te lees nie, want ek dink dis maklik om vasgevang te raak in die wêreld se reaksies en ek wil hierdie tyd gebruik om myself te verbeter en voor te berei vir ’n lewe ná kwarantyn.

Dit gesê, let ek op na wat ons amptenare en mense in magsposisies doen en sê, en ek dink hoe dit my kan beïnvloed – nou, en ná die chaos. Die allerlaaste ding wat ek wil hê, is om te sien hoe ’n biologiese virus sterf, en ’n ideologiese een sy plek neem.

  • Morné Bester is tans besig met sy honneursgraad in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Pretoria en werk as studente-assistent in die departement van menslike hulpbronnebestuur.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AstonishingWhisperer

Persoonlik dink ek die moontlikhede van misbruik en verandering in ons land se toekoms is legio.

Wat my gelukkig maak is dat ons President sy stem dik maak en dat dit lyk asof hy bietjie meer beheer het van hoe dinge in die land gedoen moet word.

Daar is natuurlik ook die Mananas van hierdie wêreld wat sal lieg, bedrieg en gewig wil rondgooi. Ons moet egter kalm optree dan glo ek ons sal nie ‘n Venuzuela word in hierdie grendel tyd nie.